Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
SA gebore miljardêr koop LA Times vir $500 miljoen
Die Suid-Afrikaans gebore sakeman Patrick Soon-Shiong het vandeesweek die Los Angeles Times vir $500 miljoen gekoop. Foto: Bloomberg

Amerika se vierde grootste koerant volgens sirkulasiesyfers het ’n nuwe eienaar.

Die Suid-Afrikaans gebore miljardêr Patrick Soon-Shiong het ’n ooreenkoms beklink om die Los Angeles Times deur sy beleggingsfirma NantCapita vir $500 miljoen te koop, berig Bloomberg.

Die koerant, wat al sedert 1881 daagliks gepubliseer word, was van 2000 af in die besit van Tronc, die uitgewer van verskeie Amerikaanse koerante, insluitend die Chicago Tribune en die New York Daily News.

Buiten die Los Angeles Times het Soon-Shiong ook die San Diego Union-Tribune, die Spaanse dagblad Hoy Los Angeles en verskeie gemeenskapskoerante by Tronc oorgekoop.

Dié Amerikaanse entrepreneur is in 1952 in Port Elizabeth gebore en is die seun van Chinese immigrante wat tydens die Tweede Wêreld Oorlog van Japanse besetting gevlug het.

Soon-Shiong is ’n opgeleide chirurg en het sy mediese opleiding aan die Universiteit van die Witwatersrand voltooi. Hy het later na Amerika geïmmigreer waar hy hom in mediese innovasie en tegnologie begewe het.

As iemand wat grootgeword het onder apartheid in Suid-Afrika, verstaan ek die rol wat joernalistiek speel in ’n vrye samelewing.
Patrick Soon-Shiong

Sy beleggingsfirma NantCapital het ingestem om die sukkelende Los Angeles Times kontant te koop sowel as om pensioenlaste van $90 miljoen te absorbeer.

Ten spyte van ’n gesonde, maar tog dalende, sirkulasiesyfer gaan die koerant die afgelope paar jaar gebuk onder verskeie interne probleme, insluitend die bedanking van drie redakteurs binne ses maande en ’n uitgewer wat van seksuele teistering aangekla word, berig die Los Angeles Times op hul webwerf.

Die koerant se redaksie het ook in ’n stadium openlik teen hul uitgewer, Tronc, gerebelleer en geëis dat hulle ’n vakbond mag vorm om na hul belange om te sien.

Tronc en Soon-Shiong het ook nie juis ooghare vir mekaar gehad nie nadat die entrepreneur en die uitgewer se voorsitter, Michael Ferro, ’n openbare uitval gehad het.

'Ons benodig koerante'

Soon-Shiong is sedert 2016 ’n belegger in Tronc en het voorheen aan die Los Angeles Times genoem dat hy die “integriteit” van die publikasie wil red.

“Ons benodig koerante,” het Soon-Shiong Woensdag in ’n verklaring gesê. “Ons benodig hierdie intellektuele integriteit. Ons benodig skrywers en redakteurs wat passievol is oor die werk.

“As iemand wat grootgeword het onder apartheid in Suid-Afrika, verstaan ek die rol wat joernalistiek speel in ’n vrye samelewing.”

Die 65-jarige sakeman het die redaksie van die Los Angeles Times, die San Diego Union-Tribune en die gemeenskapskoerante verseker dat hy werk daarvan sal maak om die nodige gereedskap en hulpbronne te verskaf sodat topgehalte joernalistiek steeds geproduseer kan word.

Volgens Forbes beloop Soon-Shiong se netto waarde sowat $7,8 miljard. Hy is ook die uitvoerende hoof van die mediese maatskappy NantHealth wat tegnologies gevorderde mediese sorg bied.

Die Los Angeles Times was vir byna ’n 100 jaar in die private besit van die Chandler-familie voor dit deur Tronc oorgekoop is. - Saamgestel deur Petrus Malherbe

Bronne: Los Angeles Times, Bloomberg, BizNews

Meer oor:  Los Angeles Times  |  Koerant  |  Media  |  Kommunikasie  |  Maatskappye
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.