Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
SA internet stadig nadat 2 kabels probleme gee
Veselverbindings is vinnig besig om na al meer areas in Suid-Afrikaanse stede te versprei. Foto: Pexels

As jy gewonder het of jou internet skielik stadiger is as gewoonlik, is jy waarskynlik in die kol.

Soos die noodlot dit wil hê, het twee belangrike ondersese kommunikasiekabels wat Suid-Afrikaners aan die internet verbind, gelyktydig begin lol.

Die SAT-3/WASC-kabel, wat Portugal en Spanje met Suid-Afrika verbind, en die Wacs-kabel wat Suid-Afrika met Brittanje verbind, gee van Donderdag af probleme.

Dit veroorsaak dat die internetspoed vir baie Suid-Afrikaners sedertdien aansienlik stadiger is.

Openserve, Telkom se afdeling vir groothandeldienste, het die probleme met die kabels in ’n verklaring bevestig.

Die SAT-3/WASC-kabel gee probleme naby Libreville in Gaboen, terwyl die Wacs-kabel ’n onderbreking langs die kus van die Demokratiese Republiek van die Kongo, of selfs meer suid langs die kus van Angola, ervaar.

“Die ongewone en gelyktydige dubbele onderbreking in die kabels het daartoe gelei dat kliënte wat aan Openserve se globale diens gekoppel is, ’n verlaging in spoed ondervind met die verbinding aan internasionale webblaaie.

“Internasionale stemoproepe en mobiele swerwing word ook geraak,” sê Openserve.

Verskeie plaaslike internetdiensverskaffers word geraak, insluitende Afrihost en WebAfrica.

Business Insider berig Vrydag daar was nóg ’n onderbreking langs die Wacs-kabel, dié keer naby Brittanje, waar die kabel begin.

Tenet, ’n navorsingsnetwerk van Suid-Afrikaanse tersiêre instellings, het die tweede fout langs die kabel op sy Twitter-blad bevestig.

Dit is nie heeltemal duidelik presies wat die foute behels, of wat dit veroorsaak het nie. Volgens Openserve is skepe onderweg na die foutiewe punte om die kabels te herstel.

Die Wacs-kabel is 14 530 km lank en op 12 plekke aan die Afrika-kontinent verbind.

Sy eindpunt (en Suid-Afrikaanse verbinding) is by Yzerfontein in die Wes-Kaap.

Dit het die vermoë om data teen ’n spoed van 14,5 teragreep per sekonde tussen Suid-Afrika en Europa te stuur.

Dit word besit deur ’n groep Suid-Afrikaanse en internasionale maatskappye, insluitende MTN, Vodacom, Telkom, Neotel en Gateway Communications.

Telkom besit ook ’n beduidende aandeel in die SAT-3/WASC-kabel wat naby Melkbosstrand aan Suid-Afrika verbind.

Voorheen het skade aan dié kabel tot ’n algehele onderbreking in die internet in verskeie lande in Wes-Afrika gelei, insluitende Benin, Togo, Niger en Nigerië.

Ander belangrike ondersese internetkabels wat Suid-Afrika bedien, is Seacom aan die ooste van die vasteland, Ace wat Suid-Afrika aan Frankryk verbind, en EASSy, wat Mtunzini in KwaZulu-Natal uiteindelik aan Port Soedan in Soedan verbind.

veselinternet

Meer oor:  Vesel  |  Internet  |  Veselinternet  |  Tegnologie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.