Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
SA kry nóg ’n tipe slimfoon om van te kies
Oppo
Oppo se embleem.

Oppo, een van die wêreld se grootste slimfoonvervaardigers, het pas die Suid-Afrikaanse mark betree.

Oppo is naas Huawei China se grootste verskaffer van mobiele tegnologie en verkoop wêreldwyd die vierde meeste slimfone ná Samsung, Huawei en Apple.

Sy toestelle was egter tot dusver nie maklik beskikbaar in Suid-Afrika nie.

Die maatskappy beplan om drie fone voor die einde van die jaar in Suid-Afrika uit te reik.

Die eerste daarvan, die Oppo A72, is van 7 Oktober af beskikbaar teen ’n voorgestelde prys van R6 999.

In ’n gesprek met joernaliste vroeër vandeesweek, het die maatskappy beloof sy duurder, vlagskipfone sal van aanstaande jaar af in Suid-Afrika uitgereik word.

Vir eers toets Oppo die water met drie goedkoper modelle.

Afgesien van die A72 word die A53s en A15 ook voor die einde van die jaar uitgereik.

Die prys van die A53s en A15 is nog nie bekend nie.

Die A15 word beskryf as Oppo se “mees bekostigbare foon” in sy A-reeks. Dit bied ’n ruim skerm van 6,5 duim (16,51 cm), ’n drieledige kamerastelsel en ’n battery van 4 320 mAh.

Die A53s bied meer gevorderde funksies, ’n battery van 5 000 mAh, drieledige kamerastelsel en 128 gigagrepe se ingeboude stoorplek.

Die presiese datum waarop die A53s en A15 uitgereik gaan word, is nog nie bekend nie.

Die Oppo A72 word op 7 Oktober in Suid-Afrika uitgereik. Foto: Verskaf

Die A72 is ’n standaard- middelslag slimfoon, maar wel toegerus met ’n paar merkwaardige funksies.

Die vierledige kamerastelsel sluit in ’n hooflens van 48 MP. Die toestel bied ook 4 gigagrepe se geheue en 128 gigagrepe se ingeboude stoorplek.

Nie een van die drie toestelle word met 5G-funksionaliteit uitgereik nie.

Oppo sê hy beplan om binnekort heelwat 5G-toestelle in Suid-Afrika uit te reik namate die tegnologie hier in gebruik geneem word.

Oppo se toestelle word verskeep met die Android-bedryfstelsel en geniet toegang tot al Google se produkte en dienste. Hy word dus nie soos sy Chinese mededinger Huawei deur die Amerikaanse handelsverbod geraak nie.

Oppo se toetrede tot Suid-Afrika volg sowat tien maande nadat Vivo ook hier begin sake doen het.

Vivo, ook ’n Chinese slimfoonvervaardiger, doen sedert Desember 2019 in Suid-Afrika sake en het reeds heelwat toestelle plaaslik uitgereik.

Dit sluit in vier “goedkoper” modelle, die Y12, Y30, Y11 en Y91C. Vivo se eerste vlagskipfoon, die X50 Pro, is pas ook in Suid-Afrika uitgereik.

LEES OOK: Vivo se nuwe vlagskipfoon oortref verwagtinge

Vivo is ’n sustermaatskappy van Oppo tesame met OnePlus en Realme. Al vier dié selfoonvervaardigers is deel van die Chinese tegnologiereus BBK Electronics.

OnePlus en Realme het tans nog geen amptelike teenwoordigheid in Suid-Afrika nie.

Meer oor:  Oppo  |  China  |  Slimfone  |  Tegnologie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.