Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
SA netwerke ‘maak armes doelbewus armer’
Die prys van data in Suid-Afrika moet daal, meen die Mededingingskommissie. Foto: Unsplash

Die manier waarop Suid-Afrikaanse diensverskaffers datapryse struktureer, buit doelbewus armer mense uit, het die Mededingingskommissie in sy markondersoek na die kwessie bevind.

Die kommissie het die bevindinge van sy ondersoek wat reeds in April 2017 begin is, Woensdag bekend gemaak.

Daarin kap hy na diensverskaffers wat die prys per megagreep data opstoot as gebruikers kleiner databondels aanskaf.

Relatief tot ’n bondel van een gigagreep sal ’n persoon dubbel soveel per megagreep betaal as hy ’n 100-megagreep-bondel aanskaf. ’n 50-megagreep-bondel sal tot drie keer soveel per megagreep kos en een van 20 megagreep tot vier keer soveel.

MTN vra byvoorbeeld R50 vir 1 gigagreep se data wat geldig is vir ’n dag. Dit kom neer op 5c per megagreep.

’n Bondel van 25 megagreep wat ook geldig is vir ’n dag kos R5. Dit kom neer op 20c per megagreep, dus vier keer meer.

In sy ondersoek het die Mededingingskommissie bevind MTN vra tot 275% meer per megagreep data vir kleiner bondels as vir ’n bondel van 1 gigagreep. Data is tot 360% duurder per megagreep vir kleiner bondels vergeleke met ’n 2-gigagreep-bondel by dieselfde netwerk.

Ander netwerke is ook skuldig hieraan.

Cell C vra tot 300% meer per megagreep data vir ’n kleiner databondel van 20-30 megagrepe in vergelyking met ’n bondel van 2 gigagrepe.

By Telkom beloop dié prysverskil byna 320% terwyl dit 221% by Vodacom is.

Volgens die kommissie beteken dit diensverskaffers vra doelbewus meer per megagreep data vir kopers van kleiner databondels. Dit buit hierdie verbruikers uit.

Dit is ook meestal armer mense wat hierdie kleiner databondels aanskaf in ’n poging om aan die internet verbind te bly sonder om te veel geld op een slag te bestee.

Die kommissie beveel aan dat diensverskaffers nie meer as 25% meer per megagreep data vra vir kleiner databondels vergeleke met die prys per megagreep van groter databondels nie.

By navraag sê sowel MTN as Cell C hulle neem kennis van die kommissie se bevindings en aanbevelings, maar het meer tyd nodig om dit te bestudeer.

Vodacom en Telkom het nog nie op ’n versoek om kommentaar reageer nie.

MTN wys wel daarop dat die Mededingingskommissie se verslag melding maak van datapryse in 2017 en dat pryse in die afgelope 18 maande “baie verander” het.

Die diensverskaffer maak melding van sy besluit in Februarie vanjaar om die prys van buitebondeldata met tot 75% vir vooruitbetaalde kliënte te verminder.

Volgens MTN betaal kliënte wat nie ’n databondel aanskaf nie nou “net R0,29 per megagreep data” en diegene wat wel ’n databondel aangeskaf R0,49 per megagreep vir ’n buitebondeldata.

Die Onafhanklike Kommunikasieowerheid het ook onlangs gelas diensverskaffers mag nie meer buitebondeltariewe vra vir data sonder dat gebruikers pertinent daartoe instem nie.

Graham Mackinnon, Cell C se regshoof, sê die netwerk verwelkom die Mededingingskommissie se bevinding dat daar nie genoeg gedoen word om kleiner rolspelers in die bedryf te help om teen groter diensverskaffers mee te ding nie.

Volgens die kommissie hoef Vodacom en MTN hom nie aan hul mededingers se pryse te steur nie, juis omdat hulle so groot is.

Dit bemoeilik kleiner diensverskaffers soos Telkom en Cell C se posisie in die mark vir goedkoper data.

Duurder hier as elders

vodacom

Daarbenewens is MTN en Vodacom ook oor die kole gehaal omdat hulle tot 900% méér vra vir data in Suid-Afrika as in ander lande waar hulle ook sake doen.

In Egipte kos 1 gigagreep data van Vodafone, waarvan Vodacom ook deel is, net $1,12 vergelyke met $11,06 in Suid-Afrika.

Dié syfers is wel geskoei op 2017 se pryse.

Hoewel die Mededingingskommissie aanbevelings doen oor hoe om die probleem van “buitensporig hoë datapryse” in Suid-Afrika op te los, is die haalbaarheid daarvan onduidelik.

Een van die voorgestelde veranderinge is dat diensverskaffers hulself daartoe moet verbind om die prys van data tot ’n “effektiewe vlak” te verlaag, maar dis onduidelik wat daarmee bedoel word.

Meer oor:  Mtn  |  Cell C  |  Vodacom  |  Telkom  |  Tegnologie  |  Selfoondienste  |  Datakoste  |  Data
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.