Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
SA nóg klein bietjie nader aan goedkoper data
 selfoontoring
Suid-Afrikaners wag al bitter lank dat die prys van data moet verlaag. Foto: Unsplash

Suid-Afrika is uiteindelik nóg ’n klein bietjie nader aan die vooruitsig van ’n verlaging in die prys van data.

Die Onafhanklike Kommunikasieowerheid (Okosa) het Vrydag ’n uitnodiging aan rolspelers in die bedryf gestuur om deel te neem aan gesprekke oor die bekendstelling van nog hoëfrekwensiespektrum in die nabye toekoms.

Diensverskaffers smeek reeds 14 jaar lank vir bykomende spektrum sodat data meer doeltreffend deur die lug aan gebruikers gebied kan word, wat koste kan verlaag.

Meer spektrum sal ook mededinging in die mobiele internetmark aanwakker, wat tot ’n verdere verlaging in koste vir die verbruiker sal lei.

In ’n verklaring Vrydag sê Okosa hy beskou die lisensiëring van meer spektrum van “kritieke belang” vir die bevordering van Suid-Afrika se digitale infrastruktuur.

Die kabinet het in Julie ’n beleidsrigtingwyser hieroor goedgekeur. Dit is toe aan Okosa oorhandig om in werking te stel.

Die owerheid nooi nou rolspelers in die bedryf om deel te neem aan gesprekvoering oor hoe om dit op die mees doeltreffende wyse te vermag.

Dr. Keabetswe Modimoeng, waarnemende hoof van Okosa, gee toe dat Suid-Afrikaners al bitter lank wag vir meer spektrum en die verlaging in die prys van kommunikasie wat dit kan bewerkstellig.

Maar noudat die beleidsrigtingwyser daaroor goedgekeur is, is daar “geen rede om dit verder uit te stel nie,” sê hy.

Belangstellendes en rolspelers in die bedryf kan tot einde Januarie 2020 insette oor die aangeleentheid lewer.

Só kan meer spektrum datapryse afbring:

Die prys van selfoondienste, waaronder mobiele data, word regstreeks geraak deur die hoeveelheid beskikbare hoëfrekwensiespektrum.

Selfoonnetwerke moet duur betaal om beskikbare spektrum by die regering te “huur”. Hoe minder spektrum tot diensverskaffers se beskikking is, beteken hoe meer moet hulle betaal vir die bietjie wat wel aan hulle toegeken word.

Met minder spektrum beteken dit ook diensverskaffers moet meer infrastruktuur oprig om te verseker dat soveel Suid-Afrikaners moontlik aan hul netwerk kan verbind. Dit lei tot verdere insetkoste wat die prys vir die verbruiker opstoot.

As meer spektrum toegeken word, sal dit nuwe operateurs toegang gee tot die mark wat dalk op spesifieke geografiese gebiede kan fokus wat sal help om koste af te bring.

Meer oor:  Okosa  |  Internet  |  Data  |  Slimfoon  |  Spektrum  |  Datakoste  |  Tegnologie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.