Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
SA sê Google mag Fitbit koop; Australië aarsel

Suid-Afrika se Mededingingskommissie het voorwaardelik goedkeuring gegee vir Google se verkryging van Fitbit.

Dit lyk egter asof Australië nog nie vir die reuse-transaksie van $1,2 miljard te vinde is nie.

Fiksheidsbandjies is nutteloos sonder toegang tot apps.

Die verkryging moet in verskeie lande die jawoord kry voordat dit kan voortgaan, onder meer ook in die VSA, Kanada en Japan.

Die voorwaardes wat Suid-Afrika stel, is identies aan dié wat ook pas deur die Europese Unie gestel is.

Google, wat die soekenjin en aanlyn dienste soos YouTube, Google Maps en Gmail bedryf, en Fitbit as fiksheidsbandjie en -app samel oneindig baie data van verbruikers in.

Google ontwikkel ook die Android-bedryfstelsel wat Fitbit en die meeste slimfone gebruik.

Volgens ’n verklaring deur Tembinkosi Bonakele, kommissaris van die Mededingingskommissie, het die transaksie inderdaad die potensiaal om mededinging in die wiele te ry.

Dit sou Google byvoorbeeld in staat stel om ander verskaffers van fiksheidsbandjies te keer om die Android-bedryfstelsel te gebruik. Fiksheidsbandjies is nutteloos sonder toegang tot ’n slimfoon en dié se bedryfstelsel; die uitsondering is Apple, waarvan die Watch geïntegreer is met die bedryfstelsel wat op die iPhone werk.

Nog ’n vrees is dat Google se heerskappy van aanlyn advertensies en soekfunksies versterk kan word. Google sal die databasis bekom dat Fitbit hou van gebruikers se gesondheid en fiksheid, en sou advertensies op hulle kon mik danksy dit.

Om die probleme teen te werk, sluit die voorwaardes in dat Google voortgaan om toegang tot Android aan alle mededingende toestelvervaardigers beskikbaar te stel, sonder enige ander lisensievoorwaardes of uitsluitings as dít wat vir Fitbit geld.

Google moet hom ook daartoe verbind om ’n “datasilo” te skep waarin Fitbit-data geskei word van ander data wat Google invorder. Elke Suid-Afrikaanse gebruiker sal die keuse gegee moet word om toestemming te gee of te weier dat ander Google-dienste (insluitend Google Ads) enige van daardie data gebruik.

Al die voorwaardes geld tien jaar lank.

’n Onafhanklike trustee moet voldoening aan al die voorwaardes monitor.

“Die remedies waarop ons ooreengekom het, verseker dat die transaksie nie versperrings vir nuwe toetreders tot die mark van draagbare tegnologie en gesondheidsdata skep nie,” sê Bonakele.

Die voorwaardes is dieselfde as wat Margrethe Vestager, hoof van die Europese Kommissie se beleid oor mededinging, onlangs goedgekeur het.

Ook Dinsdag het Australië se mededingings- en verbruikerskommissie (die ACCC) egter in ’n verklaring gesê hy is nog nie tevrede met die ondernemings wat Google gee nie.

Rod Sims, voorsitter, sê in ’n verklaring hy bly bekommerd dat Fitbit se mededingers, met die uitsondering van Apple, uit die mark gedruk gaan word omdat hulle van Android en ander Google-dienste afhanklik is.

Die ACCC gaan voort met sy ondersoek na die verkryging. Hy gaan eers op 25 Maart finaal daaroor besluit.

Die ACCC wil ook wag vir die besluit van die Amerikaanse departement van justisie.

Meer oor:  Google  |  Fitbit  |  Tegnologie  |  Fiksheidsbandjies  |  Data  |  Apps
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.