Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
SA uiteindelik ’n tree nader aan goedkoper data
Selfoondata in Suid-Afrika kan goedkoper word as daar meer spektrum toegeken word. Foto: Unsplash

Die kabinet het Donderdag uiteindelik ’n beleidrigtingwyser oor die lisensiëring van bykomende hoëfrekwensiespektrum goedgekeur.

Dit beteken Stella Ndabeni-Abrahams, minister van kommunikasie, kan dit nou bekragtig en aan die Onafhanklike Kommunikasieowerheid van Suid-Afrika (Okosa) oorhandig om te implementeer.

Die inhoud van die beleidrigtingwyser is nog onbekend. Die minister sal na verwagting eersdaags die media daaroor toespreek.

Pres. Cyril Ramaphosa het in sy staatsrede in Junie opnuut belowe dat die regering “binnekort” die gesloer met die toekenning van bykomende spektrum sou oplos.

Hy het belowe dat ’n beleidrigtingwyser daaroor “binne ’n maand” aan Okosa oorhandig sal word.

Die president het sy woord gestand gedoen en dit was Donderdag presies ’n maand sedert sy aankondiging.

Diensverskaffers smeek reeds 14 jaar lank vir bykomende spektrum sodat data meer doeltreffend deur die lug aan gebruikers gebied kan word, wat koste kan verlaag.

Meer spektrum sal ook mededinging in die mobiele internetmark aanwakker, wat tot ’n verdere verlaging in koste vir die verbruiker kan lei.

Ontluikende 5G-tegnologie gaan ook groot hoeveelhede spektrum benodig.

LEES OOK: Spektrum: Ons wag al 14 lang jare, Cyril!

Vodacom sowel as MTN het vroeër aan Netwerk24 gesê die toekenning van bykomende spektrum is ’n “noodsaaklike stap” in die verlaging van die prys van data.

Vodacom het egter ook Donderdag in sy jongste resultate vir die kwartaal tot einde Junie erken ’n verlaging in sy datapryse het reeds sy inkomste ’n knou toegedien.

Maar met meer beskikbare spektrum sal diensverskaffers se oorhoofse koste daal, aangesien dit tans ten duurste van die staat aangekoop of verhuur moet word.

Meer oor:  Data  |  Spektrum  |  Tegnologie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.