SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Tegnuus
SA verbruikers ook teen Karatbars gewaarsku
’n Advertensie vir die Karatbars-konferensie wat in Junie in Kaapstad gehou is.

Net ’n paar maande nadat duisende mense ’n konferensie van die Duitse maatskappy Karatbars International in Kaapstad bygewoon het, het die Finansiële Gedragsowerheid van Suid-Afrika (FSCA) ’n waarskuwing oor hulle uitgereik.

Die FSCA het die publiek in ’n verklaring gewaarsku om nie met Karatbars sake te doen nie.

Karatbars International GmbH is nie gemagtig om finansiële advies te verskaf of finansiële tussengangerdienste in Suid-Afrika aan te bied nie.

Die maatskappy, wat aan die begin goud in bekostigbare volumes aan mense verkoop het, het daarna ’n digitale geldeenheid genaamd KaratGold Coin (KBC) bekend gestel wat volgens hulle aan die waarde van goud gekoppel is.

Die konferensie is in Junie in Kaapstad aangebied. In ’n video van die konferensie, wat Netwerk24 gesien, het Harald Seiz (56), stigter van die maatskappy, erken mense dink dit is ’n piramideskema weens die wyse waarop dit bedryf word. Sy sakemodel werk so dat geaffilieerde lede kommissie betaal word om nuwe lede te werf.

Seiz het aan die gehoor “opleiding gegee” oor hoe om te reageer as iemand sê dit is ’n piramideskema. “As jou klant ’n vraag het, vra ’n vraag aan hom en dan gee hy jou ’n antwoord. Dis die regte manier om dit te beantwoord; met ’n vraag. Niemand gaan jou aanhou en aanhou en aanhou vrae vra nie . . .”

“Daar is mense rondom ons wat hulle nie by ons gaan aansluit nie. Geen probleem nie.”

Volgens Seiz het Karatbars al twee jaar gelede die eerste keer met mense in Kaapstad vergader.

Daar is volgens hom sowat 2 500 gaste op die eerste dag en nog 3 500 op die tweede dag van die konferensie in Junie verwag.

Seiz se boodskap op die konferensie het gehandel oor hoe “waardeloos papiergeld is” en hoe belangrik dit is om “goud in jou sak te hê”.

“Dit maak nie saak wat in die toekoms met Europa en die dollar en al die geldeenhede gebeur nie, as jy goud in jou sak het, is jy gered.”

’n Bemarkingsvideo oor hom wys hoe hy in Stuttgart, Duitsland, in armoede grootgeword het. Die maatskappy wat hy begin het, se doel was dat “elke mens op aarde goud kan besit”.

Netwerk24 kon nie die kontakbesonderhede van Karatbars se mediawoordvoerder kry nie. Daar is ook nie Dinsdag reageer op ’n versoek op Karatbars se Facebook-blad om kommentaar oor die FCSA se waarskuwing nie.

Ondersoek

Die webwerf Coindesk, wat oor kriptogeld en blokkettingtegnologie berig, het begin Oktober berig Florida in Amerika se finansiële owerheid ondersoek Karatbars. Die ondersoek daar volg nadat die Karatbank-muntstuk bemark is wat glo aan ’n kriptogeldbank in Miami verbind is.

Harald Seiz, stigter van Karatbars International, op ’n foto wat op die maatskappy se Facebook-blad verskyn.Foto: Facebook

Die owerhede in Florida het gesê Karatbars is nie as ’n bank in die staat gelisensieer nie.

Themerkle.com, wat berig oor kriptogeld en digitale tegnologie, het in Oktober met Seiz gepraat ná die Coindesk-berig.

Seiz het dit beskryf as die “jongste in ’n reeks pogings om Karatbars se reputasie skade aan te doen”.

Hy beweer dit is moontlik ’n voormalige sakevennoot of mededinger wat ’n vendetta teen die maatskappy voer.

“Die aantygings is heeltemal ongegrond . . .”

Cryptodaily.co.uk het berig Karatbars se digitale geldeenheid, KaratGold Coin (KBC), het in Julie verlede jaar begin verhandel en is op ’n paar van die beurse vir dié geldeenhede verhandelbaar.

In Julie vanjaar kon beleggers glo hul KBC-kriptomunte vir ware goud verruil teen 100 munte vir 1 gram goud. Volgens die webwerf was 100 KBC toe $2 werd en 1 gram goud $48.

Dié Karatbars Gold Independence Day, wat in Las Vegas gehou is, was egter glo ’n algehele mislukking en niemand kon hul munte vir goud verruil nie.

Die kriptogeldeenheid se prys het daarna skerp geval.

Die Duitse finansiële owerheid, BaFin, het op 21 Oktober ’n bevel teen die Karatbit Foundation uitgereik om die bedrywighede van sy kriptogeld-onderneming, Karatbit, in Duitsland te staak. Karatbit het KaratGold Coin uitgereik.

Die Bank van Namibië het dié maatskappy vroeër vanjaar as ’n piramideskema verklaar nadat sy ondersoek na sy sakemodel gevind het dit is nie volhoubaar sonder die “voortdurende werwing van nuwe deelnemers nie”.

Die nuwe deelnemers betaal aansluitingsgelde en die persoon wat hulle bekend stel, verdien kommissie.

Nederland se finansiëlemarktereguleerder (AFM) het verbruikers in 2014 teen Karatbars gewaarsku nadat die owerhede in Kanada dieselfde gedoen het en toe met regstappe teen die maatskappy begin het.

In 2016 het die hof in Kanada beveel dat die bedrywighede en bemarking van Karatbars in dié land verbied word. Die maatskappy is ook beboet.

Meer oor:  Karatbars  |  Kriptogeld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.