Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Samsung nie seker hoeveel duur voufone al verkoop is
BERLIN, GERMANY - SEPTEMBER 05: A stand host displ
Die Samsung Galaxy Fold. Foto: Getty Images

DJ Koh, Samsung se medehoof, kan nie met sekerheid sê hoeveel peperduur voufone die maatskappy die laaste paar maande van die hand gesit het nie.

“Ek dink ons het tussen 400 000 en 500 000 Galaxy Fold-slimfone verkoop,” het hy aan die Koreaanse nuusagentskap Yonhap gesê.

Dit is ’n groot speling as in ag geneem word die Galaxy Fold was sekerlik Samsung se grootste slimfoonbekendstelling die afgelope dekade.

Die foon kos boonop ’n plaas se prys en is teen R44 000 die duurste kommersieel beskikbare foon, minstens in Suid-Afrika.

Koh het sy vae skatting op die gesogte CES-tegnologiekonferensie in Las Vegas, wat tans aan die gang is, aan joernaliste gegee, tot die groot frustrasie van sommige.

Chaim Gartenberg, tegnologieskrywer van The Verge, dink dit is lawwigheid dat Koh, as leier van Samsung se afdeling vir mobiele tegnologie, nie presies weet hoeveel Galaxy Folds al verkoop is nie.

“Daar is ’n massiewe verskil as jy 400 000 Folds verkoop en jou teiken mis, of 500 000 Folds verkoop en jou teiken haal,” sê hy.

Young Sohn, hoofstrateeg van Samsung, het in Desember verkeerdelik gesê die maatskappy het al meer as ’n miljoen Galaxy Fold-toestelle verkoop.

Samsung was genoop om in ’n verklaring te verduidelik dat Sohn die ware verkoopsyfer van die Fold met die beoogde verkoopsyfer verwar het.

As Samsung wel al 500 000 Galaxy Folds verkoop het, is hy nou eers halfpad om sy teiken van ’n miljoen te bereik.

Die Fold het in 2019 groot konsternasie veroorsaak toe die bekendstelling daarvan telkens uitgestel is.

Dié byderwetse toestel wat soos ’n boek in twee kan vou, sou oorspronklik in April verlede jaar bekend gestel word, maar is uiteindelik eers ses maande later uitgereik.

Samsung Suid-Afrika het in November, sowat ’n maand ná die plaaslike bekendstelling van die Fold, aan Netwerk24 gesê die foon verkoop flink op eie bodem.

Samsung verklap nie spesifieke verkoopsyfers vir Suid-Afrika nie, maar dit is tans die maatskappy met die grootste markaandeel in Suid-Afrika onder slimfone.

Meer oor:  Samsung  |  Slimfoon  |  Tegnologie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.