Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Samsung se ‘brose’ peperduur voufoon nou in SA
Die Galaxy Fold is van 18 Oktober af in Suid-Afrika te koop. Foto: Getty Images

Ses maande laat en met pap op die gesig het Samsung uiteindelik sy spoggerige en peperduur toevoufoon bekend gestel.

Maar die bohaai daaroor het lankal ’n stille dood gesterf en die aankondiging Donderdag op ’n geselligheid in Sandton, Johannesburg, het skaars op die radar van plaaslike tegnologieskrywers geregistreer.

Dalk was dit omdat Samsung se kommunikasie-afdeling geen voorbrand gemaak het voor die aankondiging, of selfs media van buite Johannesburg daarheen genooi het nie.

In ieder geval, Sung Yoon, Samsung se uitvoerende hoof in Afrika, het bevestig dat Suid-Afrika een van die eerste lande is waar die Fold beskikbaar gaan wees.

Dit sal op Vrydag 18 Oktober op die rakke wees, het hy bevestig.

Die prys?

’n Koel R44 000, wat die Fold amptelik die duurste kommersieel beskikbare foon nóg maak.

Apple se duurste iPhone kos in die omgewing van R33 000.

Waarom is die toevoufoon nou weer omstrede?

Wel, Samsung was veronderstel om sy eerste toevoufoon reeds in April uit te reik. Die bekendstelling in Melrose Arch, Johannesburg, is op die nippertjie gekanselleer.

Etlike prominente tegnologieskrywers van publikasies soos CNBC, The Verge en Bloomberg het in die dae vooraf video’s en foto’s gedeel wat wys hoe maklik die Fold kan breek.

Samsung het daarna ’n verklaring uitgereik en gesê die bekendstelling word met ’n paar weke vertraag om die produk “te verbeter”.

Ses maande later is dit skynbaar gereed om aan die mark beskikbaar gestel te word nadat Samsung ’n paar aanpassings gemaak het.

Die Fold se toevouskerm word nou deur ’n plastiekraam omhul om te keer dat dit maklik oplig.

Samsung sê hy het ook die toestel ’n bietjie meer gehard en bestand teen stof gemaak.

Tog is die Galaxy Fold broser as enige ander foon wat tans beskikbaar is. Dit is glad nie waterdig of selfs waterbestand nie en dit is neusie verby as dit val en die skerm breek.

Weens die komplekse aard van die skerm (dit vou immers in die helfte) kan dit nie vervang word nie.

Die foon se skarnier is wel gepantser om meer as 200 000 keer oop-en-toe gevou te word voordat dit probleme sal begin gee.

Die Galaxy Fold kan reeds op Samsung se webwerf bestel word.

Netwerk24 wag nog om van diensverskaffers te hoor of die Fold op kontrak beskikbaar sal wees.

Spesifikasies van die Galaxy Fold:

Skermgrootte: 18,54 cm oopgevou; 11,68 cm toegevou

Verwerker: 7nm 64-bit Octa-Core

Geheue: 12 gigagrepe

Ingeboude stoorplek: 512 gigagrepe

Kameras: Twee 10MP-selfiekameras en drieledige hoofkamerastelsel met ’n wyehoeklens.

Battery: 4 380 mAh

Prys: R44 000


Meer oor:  Samsung  |  Slimfoon  |  Tegnologie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.