Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Samsung se duur voufoon ‘vou’ glad nie in SA

Samsung se peperduur voubare foon verkoop glo flink in Suid-Afrika, het die maatskappy by navraag laat weet.

Die Galaxy Fold is vroeg in Oktober tydens ’n geselligheid in Johannesburg bekend gestel. Dit kos ’n plaas se prys en is teen R44 000 die duurste kommersieel beskikbare foon in die land.

Maar moenie dink Suid-Afrikaners het weggeskram van dié klein fortuin vir ’n foon nie.

Samsung wou nie verklap hoeveel Galaxy Folds hy al van die hand gesit het nie, maar het bevestig dat sy eerste besending daarvan reeds uitverkoop is.

Suid-Afrikaners kon sedert die bekendstelling in Oktober die Fold vooraf op Samsung se webwerf bestel.

Al die toestelle wat Samsung daarvoor beskikbaar gestel het, is verkoop.

Danksy hierdie “positiewe reaksie” het Samsung besluit om nóg Folds na Suid-Afrika te bring.

Die Galaxy Fold. Foto: Getty Images

Ook op kontrak beskikbaar

Die Galaxy Fold is vir eers net by een diensverskaffer op kontrak beskikbaar.

Vodacom bied dit teen ’n minimum bedrag van R3 299 per maand oor twee jaar, wat beteken jy sal uiteindelik nagenoeg R79 000 vir die foon betaal.

Die kontrak sluit darem 20 gigagrepe se data per maand in.

Oor of hy ’n mark sien vir sulke verskriklike duur slimfone in Suid-Afrika, het ’n woordvoerder van Vodacom laat weet hy bied sy intekenare ’n “verskeidenheid van opsies” wat enigiets van spotgoedkoop toestelle tot die Fold insluit.

“Vodacom bied ’n uitgebreide portefeulje van toestelle wat aan kliënte se verskillende behoeftes voldoen.

Dit wissel van toestelle op intreevlak, wat daarop gemik is om die koste van kommunikasie te verminder, tot die mees gesofistikeerde en ikoniese toestelle.”

Vodacom beskou die reaksie op die Galaxy Fold eweneens as “sterk” en sê dit spreek tot ’n nissegment van die mark.

Kliënte raap reeds die peperduur toestel op vir kontant en op kontrak, sê die woordvoerder.

Volgens Samsung gaan die Fold later ook by ander diensverskaffers op kontrak beskikbaar wees.

Die byderwetse toestel wat soos ’n boek in twee vou, kan besigtig word by Vodacom se hoofkantoor in Midrand, en Samsung se winkels in die Gateway-, Canal Walk- en Sandton City-winkelsentrums.

Die Galaxy Fold is natuurlik omstrede, nie net vir sy duur prys nie, maar ook omdat dit bykans ses maande laat uitgereik is weens ’n fabrieksfout.

Die Fold moes oorspronklik in April uitgereik word, maar die wêreld se eerste slimfoon waarvan die skerm in twee buig, het vooraf in die hande van joernaliste gebreek.

Samsung is toe gedwing om dit weer aan die mark te onttrek om eers die fout met die skerm reg te stel.

Meer oor:  Vodacom  |  Samsung  |  Slimfoon  |  Voufoon  |  Tegnologie  |  Voubare Foon
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.