Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Samsung vrees slegte publisiteit oor voufoon-flater

Samsung se poging om die internet van negatiewe kommentaar oor sy mislukte voubare foon te stroop, het presies die teenoorgestelde gevolg.

Die maatskappy moes noodgedwonge die bekendstelling van sy nuwe, byderwetse Galaxy Fold vandeesweek uitstel nadat verskeie joernaliste se toetsmodelle gebreek het.

Die Galaxy Fold is die wêreld se eerste slimfoon waarvan die skerm in twee kan vou. Verskeie ander selfoonmaatskappy vervaardig soortgelyke produkte, maar Samsung het gehoop om syne eerste bekend te stel.

Maar dié besluit is besig om hom duur te staan te kom.

Verskeie prominente tegnologieskrywers het reeds berig oor die swak vakmanskap van die Galaxy Fold.

Die Fold sou Dinsdag in Melrose Arch, Johannesburg, in Suid-Afrika bekend gestel word, maar dit is nou tot “middel Mei” uitgestel.

Samsung het alle Galaxy Fold-toestelle teruggevra, insluitend die modelle wat joernaliste ontvang het om te toets.

Die nuwe Galaxy Fold.Foto: Samsung

iFixit, ’n Amerikaanse onderneming soortgelyk aan Suid-Afrika se WeFix, het vroeër die week ’n ontleding van die Fold gedoen waarvoor sy tegnici ’n toetsmodel heeltemal uitmekaar gehaal het.

iFixit het opgelet die Galaxy Fold is “onrusbarend breekbaar” en sê daar is bykans geen manier om dit te herstel nie.

Samsung sê in ’n verklaring hy gaan die modelle wat reeds vervaardig is, “hersien” en “verbeter” voordat dit weer beskikbaar gestel sal word.

Volgens iFixit is dit ’n onbegonne taak. Omdat die foon uit soveel breekbare deeltjies bestaan, kan dit nie uitmekaar gehaal en weer aanmekaar gesit word nie.

Dit beteken ook dat ’n Fold waarvan die skerm byvoorbeeld breek, nie herstel sal kan word nie.

Kort nadat iFixit sy ontleding van die Fold aanlyn gedeel het, is hy gevra om dit te verwyder.

In ’n verklaring sê iFixit hoewel hy onder “geen verpligting, hetsy regtens of andersins” was om dit te doen nie, het hy tog ingestem.

iFixit het die Fold wat hy uitmekaar gehaal het by ’n “betroubare vennoot” gekry. Samsung het glo hierdie vennoot gekontak en gevra dat die ontleding verwyder word.

“Uit respek vir hierdie vennoot het ons besluit om die artikel te verwyder totdat ons ons eie Galaxy Fold kan aanskaf,” sê iFixit.

Samsung het nie op ’n versoek om kommentaar gereageer oor waarom iFixit die storie moes verwyder nie, maar die vermoede bestaan hy wil negatiewe publisiteit tot ’n minimum beperk.

Die gevolg is natuurlik dat die kwessie nou nog meer negatiewe publisiteit kry, ’n verskynsel bekend as die Streisand-effek. Dit is genoem na die Amerikaanse aktrise en sangeres Barbra Streisand, wie se poging in 2003 om foto’s van haar Malibu-huis te verban, die onbedoelde gevolg gehad het om meer publisiteit daarvoor te genereer.

iFixit se artikel is steeds in die internetargiewe beskikbaar.

Samsung het sover bekend nie enige ander joernalis gevra om ’n negatiewe resensie van die Fold te verwyder nie.

Hoewel Samsung sê die bekendstelling van die Fold gaan teen die middel van Mei plaasvind, is die datum waarop dit kommersieel beskikbaar gaan wees, nog onbekend.

Meer oor:  Samsung  |  Galaxy Fold  |  Tegnologie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.