Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Hier is SA se ongewildste selfoon-netwerk
Suid-Afrikaners raak al hoe meer ontevrede met hul selfoondiensverskaffers. Foto: Getty Images

Een selfoondiensverskaffer laat Suid-Afrikaners se hart ’n klein bietjie warmer klop as al die ander. Maar gebruikers is grootliks keelvol vir duur pryse en swak dienslewering. 

Veral by Cell C, Suid-Afrika se netwerk waaroor gebruikers die mees ontevrede is. 

Volgens Consulta se jongste nasionale indeks van verbruikerstevredenheid (Sacsi) is Vodacom die markleier.

Die resultate van die jongste indeks, vir 2018, is Donderdag bekend gemaak.

Daarvolgens kry Vodacom ’n telling van 74,8 uit 100, ’n paar persentasiepunte bo sy grootste mededingers, MTN en Cell C.

Die indeks verteenwoordig net hierdie drie netwerke wat saam meer as ’n 80%-markaandeel in Suid-Afrika geniet. Gebruikers se tevredenheid met Telkom as selfoondiensverskaffer is nie by die indeks ingesluit nie.

Volgens Sacsi is MTN in die tweede plek met ’n telling van 71,8. Cell C is in die laaste plek met ’n telling van 71,4.

Sowel MTN as Cell C is onder die gemiddelde telling van 73,3.

diensverskaffers

Tevredenheidsvlakke daal

Suid-Afrikaners raak toenemend ontevrede met diensverskaffers. Elke netwerk se telling het gedaal teenoor hul 2017-tellings.

Vodacom se telling het van 79,2 in 2017 tot 74,8 in 2018 afgeneem.

MTN het van 74,2 in 2017 tot 71,8 in 2018 gedaal.

Cell C het die grootste agteruitgang gesien van 76,7 in 2017 tot 71,4 in 2018.

Trouens, die gemiddelde telling vir die bedryf as geheel is op sy laagste vlak nóg, het Consulta bevind.

“Hoewel selfoonnetwerke gefokus het op die verbetering van infrastruktuur en opgradering na nuwe toestelle, gee Suid-Afrikaners meer om oor aspekte soos waarde vir geld, dienslewering en bekwame personeel wat klagtes kan hanteer,” sê prof. Adré Schreuder, stigter van Sacsi.

’n Regstreekse gevolg is dat kliënte al hoe minder lojaal aan hul diensverskaffer is. Byna 40% van respondente het aangedui hulle is bereid om na ’n ander netwerk te skuif. Lojaliteit het tot minder as 50% gedaal vir al die netwerke.

Kliënte vind ook dat sowel Vodacom as Cell C ’n wanindruk skep tussen die produk wat geadverteer word en die produk wat uiteindelik gelewer word.

Hierdie gaping is die grootste by Cell C waar kliënte sê die diens wat hulle ontvang, voldoen nie aan die verwagtinge nie.

By MTN is hierdie gaping weer die kleinste met kliënte wat meen hulle kry ’n diens van genoegsame gehalte vergeleke met die prys wat hulle daarvoor betaal.

Suid-Afrikaners meen wel dat al die diensverskaffers te duur is, veral gegewe die gehalte van die produk en diens wat uiteindelik gelewer word.

Trouens, Cell C se kliënte is so ontevrede dat net 10% aangedui het hulle sal die diensverskaffer aan ’n vriend of familielid aanbeveel. 28% van Vodacom se kliënte sal die netwerk aanbeveel teenoor 12% by MTN.

Die selfoonbedryf vaar swak vergeleke met ander bedrywe wat Sacsi monitor.

Volgens die jongste beskikbare indekse is kliënte se gemiddelde tevredenheid met lewensversekering 78,9 uit 100. Tevredenheid met klerewinkels beloop 77,7 en korttermynversekering 77,3.

Tevredenheid met supermarkte is ook hoër op 76,7. Net munisipaliteite (57,4), lugdienste (72,4) en mediese versekering (72,7) het ’n laer gemiddelde telling.

Meer oor:  Mtn  |  Cell C  |  Vodacom  |  Netwerk  |  Diensverskaffer  |  Tegnologie  |  Selfoonnetwerk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.