Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
SAUK wil TV-lisensies duurder maak
Foto ter illustrasie.

Die SAUK wil die prys van TV-lisensies verhoog in ’n poging om sy inkomste aan te vul.

Bongumusa Makhithini, voorsitter van die direksie, het Donderdag op ’n konferensie in Johannesburg gepraat oor die skep van ’n volhoubare toekoms vir die openbare uitsaaier.

Volgens Makhithini is TV-lisensies steeds die tweede grootste inkomstebron vir die SAUK, maar hy erken die uitsaaier doen nie genoeg om te verseker dat alle kykers die jaarlikse tarief van R265 betaal nie.

“Op die oomblik betaal net sowat 1,8 miljoen huishoudings en ondernemings hul TV-lisensies,” sê hy. Die SAUK skat dat 14 miljoen huishoudings en ondernemings veronderstel is om TV-lisensies te betaal.

Makhithini sê daar moet strenger opgetree word teen diegene wat die betaling van TV-lisensies ontduik en dat rolspelers soos handelaars wat televisies verkoop, versekeringsmaatskappye en ook betaaldienste soos MultiChoice betrek moet word.

“TV-lisensies is nie dieselfde as die bedrag wat jy aan uitsaaiers van betaaltelevisie betaal nie. Dit hang ook nie af van hoe baie jy na SAUK-kanale kyk nie,” sê hy.

Makhithini wys ook daarop dat die jaarlikse tarief van R265 neerkom op “net 72c per dag”.

“Ek dink ons kan saamstem dat daar in vandag se tyd bitter min, indien enigiets, is wat jy met 72c per dag kan koop.”

Met dié bedrag moet die openbare uitsaaier elke dag 18 radiostasies en drie televisiekanale aan die Suid-Afrikaanse publiek bied, sê hy.

Makhithini het nie aangedui wanneer besprekings oor ’n aangepaste tarief vir TV-lisensies gaan begin nie.

Meer oor:  Sauk  |  Staatsinstellings  |  Tv-Lisensie  |  Televisie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.