Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Sê ja vir ‘updates’: Raad met jou foon, rekenaar

Waarom is dit belangrik is om gereeld rekenaar en slimfoon se programmatuur (oftewel “sagteware”) en apps op te dateer?

Jy kan jou sitkamer se ligte van jou selfoon beheer, maar maak net seker jy onthou jou opdaterings. Foto: Unsplash

Sodat mense nie by jou virtuele huis kan inkom nie, natuurlik.

Dit het seker al gebeur dat jy ’n boodskap op jou gunsteling-klets-app wou stuur, ’n kosbestelling wou plaas of inkopies wou doen, soos baie van ons deesdae doen as gevolg van die Covid-19-pandemie.

Jy doen wat jy gewoonlik doen: Soek iets lekkers, maar iets werk net nie en die foon laai aaneen sonder om jou ’n rede te gee. Ander apps werk, net nie Mr D of wat ook al jy probeer gebruik het nie. Tog, as jy weer later probeer, werk dit skielik.

Frustrasie

Dié frustrasie ontstaan moontlik omdat die app of die foon se programmatuur opgedateer moes word.

Dis ongelukkig iets wat baie mense, oud én jonk, uitgooi en laat moed opgee. Jy kry daardie oomblikke van: “Ek weet nie hoe die goeters werk nie, ek los dit liewers.”

Soms wil ons ook nie hulp vra nie, want ons is bang ons lyk simpel.

Daar is egter niks om oor simpel te voel nie. Ons word deesdae deur so baie nuwe dinge gebombardeer dat almal deur ’n leerproses moet gaan om dit te verstaan.

Ons leef in ’n tyd waar ons fone nie net goed genoeg is vir oproepe, klets en die internet blaai nie. Daar is so baie meer wat jou slimfoon kan hanteer en daarom is dit belangrik om te weet hoe om apps en die res van die foon op datum te hou.

Programmatuur

Die groot geheim is programmatuur, dis wat alles laat saam werk of saam gesels, maar wat is programmatuur?

Business Insider verduidelik dat programmatuur kodes is wat rekenaars en slimfone vertel hoe om ’n spesifieke taak uit te voer. Hou in gedagte dat ons slimfone deesdae net ’n rekenaar is wat jy in jou sak dra.

Daar is egter verskeie tipes programmatuur:

  • Bedryfstelsels – die onderliggende programmatuur van enige rekenaar, soos Windows of Linux;
  • Fermware – programmatuur wat in ’n toestel se hardeware ingeprogrammeer is;
  • Drywerbestuurders – dit help die programmatuur en kleiner komponente om met mekaar te gesels; en
  • Sagteware vir spesifieke apps – dit word ook ’n program of programme genoem.

Daar is ’n feitlik onbeperkte verskeidenheid apps en vir enige doel. Sommige van die algemeenste is produktiwiteitsprogrammatuur, soos woordverwerkers (Microsoft Word), internet-blaaiers (Google, Internet Explorer) en e-poskliënte (Outlook).

Hoekom moet programmatuur opgedateer word?

Volgens Varonis, ’n kuberveiligheidsfirma, is daar drie redes.

1. Nuwe funksies

Ontwikkelaars werk gereeld aan nuwe funksies en moet ook tred hou met veranderinge in hardeware (die fisieke dele van ’n toestel, soos die sentrale verwerkingseenheid).

2. Foute

Programmatuur het soms “goggas” (bugs). Dié soort foute word nie altyd onmiddellik opgemerk nie, want in die geval van apps word dit gemaak vir meer as net een slimfoon. Soms sal jy dit nie eens agterkom dat daar ’n probleem is vir jou nie, maar daar kan ’n probleem wees vir ’n verbruiker van ander soort slimfoon.

3. Veiligheid

Een van die grootste redes waarom ontwikkelaars gereeld apps en programmatuur opdateer, is as gevolg van veiligheid vir die verbruiker.

’n Ontwikkelaar van apps en ander programmatuur wat ons gebruik, wil nie verantwoordelik wees vir die lekkasie van persoonlike inligting nie en ongelukkig vind kuberkrakers gereeld ook nuwe maniere om tekortkominge in programmatuur uit te buit.

Sodra ontwikkelaars agterkom daar is ’n moontlike “voordeel” wat kuberkrakers kan uitbuit, moet hulle ’n verandering maak aan die programmatuur. Dis dan wanneer jou foon sê jou apps moet opgedateer word.

Internet van dinge

Dit raak ook al hoe belangriker om programmatuur op datum te hou omdat daar nou ’n verskeidenheid toestelle is wat jy met of jou slimfoon of rekenaar kan beheer. Dit word ook genoem die Internet van dinge (Internet of Things, IoT).

Volgens ZDnet verwys IoT na al die fisieke toestelle wêreldwyd wat nou aan die internet gekoppel is, wat almal data versamel en deel.

Byvoorbeeld, dis nou moontlik om jou huis se ligte of alarmstelsel só te installeer dat jy dit van jou slimfoon af kan beheer.

Dis presies hier waar veiligheid vir almal belangrik word.

LIFX, ’n vervaardiger van slimligte, het in 2018 as gevolg van ’n fout in die programmering verbruikers se WiFi-wagwoorde op die internet gedeel. Die probleem is deur middel van opdaterings herstel.

Wat ons in gedagte moet hou, is dat daar meer toestelle soos slimtelevisies, yskaste, die alarmstelsel en selfs jou koffiemasjien is wat nou met die internet beheer kan word.

As jy dus nie opdaterings maak, hetsy op jou foon of ander toestelle in die huis nie, is die kans net groter dat misdadigers jou lewe kan omkrap.

Almal moet IT-kenners wees

Sam Beesems, ’n kuberveiligheidskenner, het in ’n Linkedin-artikel die analogie gemaak tussen die internet en ons huise wat verduidelik waarom almal deesdae ook bietjie van ’n inligtingstegnologie (IT)-kenner moet wees.

  • ’n Huis word beskerm deur sleutels, slotte aan deure en vensters. Op die internet is dit dus jou gebruikersname en wagwoorde.
  • Buite vind jy die wêreld, waar huise en ander geboue met strate verbind is. Die strate is die internet en ander netwerke.
  • In jou huis is elke kamer verbind met ’n hoofgang (jou WiFi-roeteerder) waarmee jy tussen kamers kan beweeg.
  • Elke kamer self verteenwoordig een van jou toestelle (selfone, skootrekenaars en ander slimtoestelle) en kan beveilig word met hul eie, verskillende slotte (gebruikersname en wagwoorde).

Veiligheid beteken dus om mense wat nie die reg tot jou huis het nie, buite te hou. As jy alles wil veilig hou, sal jy nie jou sleutels (jou gebruikersname en wagwoorde) buite in die straat (die internet) laat lê nie.

So hoe word ek bietjie van ’n IT-kenner?

Die eenvoudigste ding is natuurlik om jou slimfoon, koffiemasjien of slimtelevisie, maak nie saak watter toestel dit is nie, te leer ken. Baie dink dis ’n mors van tyd, maar dit is die enigste manier hoe jy jouself en die tegnologie gaan vereenselwig.

As jy sukkel, vra die jonger geslag of iemand wat jy weet meer as jy weet.

Vind uit oor die veiligheid van die toestel. As dit ’n slimfoon is kyk dan of jy ’n pin-kode, ’n patroon of biometriese stelsel (jou vingerafdruk of gesig) kan gebruik.

As jy nie te veel elektronika het nie, dalk net ’n slimfoon en rekenaar, is die eenvoudigste oplossing om net seker te maak dat die instellings van jou toestel gestel is om outomatiese opdaterings te doen.

Hoe doen ek dit?

Dit doen jy deur na jou toestel se instellings te gaan en te soek vir opdaterings en dan seker te maak dat die outomatiese opdaterings gemerk is.

Android-fone

As dit kom by programmatuur, sal die meeste Android-fone jou in kennis stel as dit tyd is vir ’n nuwe weergawe van die bedryfstelsel.

Jy kan ook self in Settings onder Software Update gaan kyk of jy dit moet opdateer.

Vir apps, gaan na die Google Play Store en klik op Settings. Daarna gaan jy na Network Preferences en kies die opsie Auto-update Apps.

Let net op dat jy sal moet kies of jy dit net oor Wi-Fi sal laat gebeur of enige netwerk. As jy enige netwerk kies, sal dit jou mobiele data gebruik – nie ’n goeie plan as jy beperkte data op jou foon het nie.

iPhone

Nes die Android-fone, sal iPhone ook verbruikers in kennis stel as dit tyd is vir ’n nuwe weergawe van die bedryfstelsel.

As jy dit nie onmiddellik doen nie, gaan jy net later na Settings, dan klik jy op General en dan Software Update.

Vir apps gaan jy ook na Settings en klik op Apps Store en onder die Automatic Downloads klik jy op App Updates.

Weer kan jy kies of dit net oor Wi-Fi kan gebeur of oor alle netwerke.

Windows

Die Windows 10-bedryfstelsel is reeds só opgestel dat dit outomatiese opdaterings doen.

Verbruikers kan wel na Settings gaan en dan op Update en Security klik waar daar verskillende opsies is oor hoe om die Updates te hanteer. Jy kan moontlik kies wanneer dit sal installeer sodat jy nie in die middel van werksure gesteur word nie.

Vir enige ander toestelle

Vra oor opdaterings wanneer jy die toestel in ’n winkel koop. Vra ook natuurlik enige familielid of vriend wat soortgelyke toestelle reeds het.

Gebruik ook YouTube om te kyk of daar enige resensies is en ook hoe sekere toestelle werk.

Daar is ’n magdom inligting op die internet oor verskeie toestelle.

Vir meer oor algemene internetveiligheid, kyk ook gerus na Varonis se reeks video’s op YouTube.

Meer oor:  Apps  |  Slimfone  |  Tegnologie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.