Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Seks-app geraps oor hy mense se MIV-status deel
Die seks-app Grindr het onwetend vir gebruikers besonderhede oor hul MIV-status met derdepartye gedeel. Foto: Unsplash

Die gewilde afspraak-app Grindr is in die pekel nadat dit aan die lig gekom het dat hy gebruikers se sensitiewe data, waaronder hul MIV-status, met derde partye deel.

Die app is baie gewild in die gay, biseksuele en transseksuele gemeenskap en word hoofsaaklik gebruik om vinnig iemand vir seks te ontmoet.

In ’n poging om die verspreiding van MIV te bekamp, laat Grindr gebruikers toe om hul MIV-status op hul profiel aan te dui, sowel as wanneer laas hulle vir die virus getoets is. Dié inligting word vrylik met ander gebruikers gedeel.

Buzzfeed het egter Maandag verklap dat Grindr dié inligting met ander maatskappye deel wat dit glo gebruik om gebruikers se ervaring op die app te verbeter.

Die twee maatskappye, Apptimize en Localytics, word deur Grindr betaal om die data te verwerk en aanbevelings te doen oor hoe die app deurgaans bygewerk en verbeter kan word.

Die probleem is egter dat gebruikers se sensitiewe inligting, soos hul MIV-status, saam met identifiseerbare inligting soos hul GPS-ligging en e-posadresse gedeel word. Dit maak dit dus moontlik om spesifieke Grindr-gebruikers met hul gesondheidstoestand te verbind indien dié inligting uitlek.

“Die MIV-status word gekoppel aan al die ander inligting. Dit is die grootste knelpunt,” sê Antoine Pultier, ’n navorser by die Noorweegse navorsingsfirma Sintef, wat dié sekuriteitsbreuk ondersoek. “Ek dink die probleem is onbekwame programmeerders wat eenvoudig alles aanstuur, waaronder MIV-statusse.”

Standaardpraktyk

Die maatskappy verdedig homself in ’n blog en sê die deel van inligting is “standaardpraktyk” in die bedryf. Grindr beskryf Apptimize en Localytics as “twee gesogte programmatuurverkopers wat die Grindr-app deurgaans help verbeter”.

Grindr sê hy het nie “persoonlik identifiseerbare inligting” van gebruikers aan derde partye of adverteerders verkoop nie.

Sintef sê egter Grindr het wel gebruikers se inligting, waaronder hul ligging, seksualiteit, of hulle in ’n verhouding is en hul foon se identifiserende nommer met adverteerders gedeel. In sommige gevalle was die inligting ook nie gekodeer nie.

Die app bevat heelwat gratis advertensies vir onder meer MIV-klinieke. ’n Nuwe funksie herinner ook gebruikers om hulself elke ses maande vir MIV te laat toets.

“Grindr is ’n betreklik unieke plek om openlik oor jou MIV-status te wees,” het James Krellenstein, ’n lid van die ACT Up-groep vigsaktiviste in New York, aan Buzzfeed gesê. “Maar om dan hierdie data met derde partye te deel waaroor jy nie pertinent ingelig is nie en moontlik jou veiligheid en gesondheid in gevaar stel – dit is ’n baie ernstige oortreding van basiese standaarde wat ons nie van ’n maatskappy verwag het wat hom voordoen as ’n ondersteuner van die gay gemeenskap nie.”

Grindr wys egter daarop dat die app ’n openbare platform is. “Ons maak dit duidelik dat as jy kies om hierdie inligting by jou profiel in te sluit, dit openlik beskikbaar gaan wees.

“Daarom moet jy versigtig kies watter inligting jy by jou profiel wil insluit.”

Enkele ure ná die Buzzfeed-verslag het Grindr aangekondig dat hy veranderinge gaan aanbring en nie meer gebruikers se MIV-status met derde partye gaan deel nie.

Bryce Case, Grindr se sekerheidshoof, het aan die Amerikaanse nuusblad Axios gesê die maatskappy word op ’n onregverdige wyse uitgesonder in die lig van die huidige sensitiwiteit oor die maniere waarop maatskappye gebruikers se data inspan.

“Verskeie nuusstories fokus tans op die kwessie,” sê Case met verwysing na die onlangse Cambridge Analytica-skandaal.

Grindr, wat in 2009 gestig is, het gou ’n gunsteling onder lede van die gay gemeenskap geword om vinnig en veilig ’n (nuwe) seksmaat te vind. Die maatskappy het ook in Desember verlede jaar ’n aanlyn tydskrif spesifiek gemik op gay kulturele kwessies bekend gestel.

Bronne: BBC, Buzzfeed News, The Verge, Axios, Grindr-blog

Meer oor:  Miv  |  Seks  |  Data  |  Vigs  |  App  |  Tegnologie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.