Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Selfoon-internet in SA raak ál vinniger
Suid-Afrika se mobiele infrastruktuur is die beste op die vasteland. Foto: Unsplash

Die gemiddelde spoed van mobiele internet in Suid-Afrika word elke jaar al vinniger.

MyBroadband, wat kwartaalliks ’n gehalteverslag oor Suid-Afrikaanse selfoonnetwerke uitreik, het in sy jongste verslag bevind dat die gemiddelde mobiele internetspoed beloop nou 26,73 Mbps vir data wat oor ’n selfoonnetwerk afgelaai word.

Skaars twee jaar gelede was die gemiddelde aflaaispoed onder 20 Mbps.

Volgens MyBroadband se navorsing is MTN steeds Suid-Afrika se vinnigste selfoonnetwerk wat gemiddelde aflaaispoed betref. Die spoed waarteen data op dié netwerk oorgedra word, is meer as 40 Mbps.

MTN is die enigste netwerk wat ’n aflaaispoed van meer as 40 Mbps bied.

Op die Vodacom-netwerk is die gemiddelde aflaaispoed 32,23 Mbps, terwyl dit 21,63 Mbps op Telkom en 16,48 op Cell C is.

Die gemiddelde spoed van Rain, ’n betreklik nuwe selfoonnetwerk wat net data bied, word op 16,44 Mbps bereken.

MTN het in twee jaar die gemiddelde aflaaispoed op sy netwerk met 22,22 Mbps aan die einde van 2017 tot 40,64 Mbps vandag bykans verdubbel.

Hy kon ook die latensie (dit wil sê die vertraging in die oordrag van data) op sy netwerk van 50 millisekondes tot 32 millisekondes verminder.

selfooninternet

MTN het reeds in 2016 aangekondig dat hy beoog om jaarliks al meer aan die uitbreiding en verbetering van sy netwerkinfrastruktuur te bestee. Die maatskappy het sedertdien al meer as R40 miljard hieraan bestee.

Hierdie groot kapitale uitgawes is een van die hoofredes waarom MTN vasskop teen die Mededingingskommissie se eis dat plaaslike selfoonnetwerke die prys van data moet verlaag.

MTN, en in ’n mindere mate ook Vodacom, voer aan hy lewer ’n “wêreldklasdiens” en dat dit geld kos om die netwerk in stand te hou.

Hy meen ook daar is die afgelope paar jaar ook heelwat vordering met die verlaging van datapryse gemaak.

MTN en Vodacom het as markleiers in Suid-Afrika ook aan die Mededingingskommissie gesê dit is onregverdig om die prys van data in Suid-Afrika met dié van ander Afrika-lande te vergelyk.

Volgens albei diensverskaffers is die gehalte van Suid-Afrika se mobiele infrastruktuur “verreweg die beste op die vasteland” en kos miljoene rande om op te rig, uit te brei en te onderhou.

selfooninternet

Gegewe die feit dat die gemiddelde aflaaispoed op MTN in net twee jaar bykans verdubbel het, blyk dit sy beleggings in infrastruktuur is besig om vrugte af te werp.

Die Mededingingkommissie het egter in Desember gelas dat sowel Vodacom as MTN binne twee maande met ’n voorstel vorendag kom oor hoe hulle die koste van data gaan verlaag.

Jacqui O’Sullivan, hoof van korporatiewe sake by MTN, het by navraag gesê die diensverskaffer is nog in gesprek met die kommissie hieroor.

Geen besluit is egter al geneem oor of MTN voor die begin van Februarie aan die kommissie se vereistes gehoor gaan gee nie.

“MTN bly verbind tot die verskaffing van bekostigbare data en konnektiwiteit van ’n hoë gehalte terwyl ons gesprekke met die Mededingingskommissie nog aan die gang is.”

Vodacom het nie gereageer op ’n versoek om kommentaar te lewer oor waar sy onderhandelinge met die kommissie staan nie.

Meer oor:  Telkom Mobile  |  Mtn  |  Cell C  |  Vodacom  |  Netwerk  |  Diensverskaffer  |  Datapryse  |  Tegnologie  |  Data  |  Selfoonnetwerk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.