Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Selfoonreuse se debat vervelig – minister

Stella Ndabeni-Abrahams, minister van kommunikasie, wil selfoonmaatskappye glo dwing om breëbandinternet na arm landelike gebiede uit te brei in ruil vir radiofrekwensiespektrum.

Belangrike rolspelers, insluitende die vier selfoonreuse, het Dinsdag mondelinge voorleggings aan Ndabeni-Abrahams gedoen oor die proses wat die regering in werking wil stel om spektrum te lisensieer.

Stella Ndabeni-Abrahams, minister van kommunikasie. Foto: GCIS

Ndabeni-Abrahams wou toe by hulle weet wat hul planne is om breëbandinternet na landelike gebiede uit te brei as spektrum aan hulle toegeken word.

Die minister gaan die regering se beleidsriglyne oor die toekenning van spektrum na verwagting voor die einde van April bekend stel.

Volgens ’n bron het Ndabeni-Abrahams nie belang gestel in die selfoonreuse se voorleggings dat daar ’n broodnodige tekort is aan spektrum vir supervinnige koordlose breëband-dienste soos ’n vyfdegenerasie- mobiele netwerk (5G) nie.

“Sy het gesê dit is ’n vervelige debat en dat sy eerder wil weet wat hul planne is om breëbandinternet na landelike gebiede uit te brei,” het die bron gesê. “Sy wou nie oop kaarte speel oor wat die detail van die beleidsriglyne is nie, maar sy het sterk standpunt ingeneem dat spektrum en die behoorlike ontplooiing van netwerkinfrastruktuur landwyd hand aan hand gaan.”

Die regering wil ingevolge die Nasionale Ontwikkelingsplan verseker dat 22 miljoen Suid-Afrikaners teen 2020 toegang het tot breëbandinternetdienste.

Spektrum verwys na radioseine wat data oor die lug dra. Die regering sleep sy voete al 15 jaar lank om die spektrum te verkoop wat selfoonmaatskappye in staat sal stel om supervinnige en koordlose breëbanddienste soos 5G te bewerkstellig.

Die tekort aan spektrum en gebrekkige mededinging in die bedryf word as die hoofredes beskou waarom selfoon- en datapryse hoër in Suid-Afrika is as in baie ander lande.

Sy wou nie oop kaarte speel oor wat die detail van die beleidsriglyne is nie.

Ndabeni-Abrahams het na aanleiding van die vergadering in ’n verklaring gesê “daar is spektrum wat in tyd en ruimte onbenut of onderbenut is en ons wil dit graag verander deur seker te maak dat dit geskik en doeltreffend gelisensieer word om die generering van inkomste sowel as inklusiewe deelname te verseker”.

Sy het geensins melding gemaak van die regering se vorige planne om selfoonmaatskappye te dwing om hul netwerkinfrastruktuur te deel en sentrale beheer oor die radiofrekwensiespektrum te verkry nie. Kenners en rolspelers glo dié planne is nou van die baan.

Die ANC het aan die begin van die jaar gepoog om die Wysigingswetsontwerp op Elektroniese Kommunikasie (die ECA-wet) deur die parlement te voer waarvolgens ’n nuwe staatsbeheerde instelling, die Wireless Open Access Network (WOAN), in beheer gestel sou word van alle radiofrekwensiespektrum wat nie tans deur operateurs gebruik word nie. Dit sou in werklikheid beteken dat spektrum genasionaliseer word. Die wysigingswetsontwerp bevat ook bepalings dat selfoonmaatskappye se bestaande netwerke vir alle rolspelers oopgestel moet word.

Arthur Goldstuck, tegnologiekenner en besturende direkteur van World Wide Worx, sê dit blyk die regering het besef dat sy vorige benadering nie in belang van die bedryf of die verbruiker was nie. Daarom is die planne nou moontlik van die baan, sê hy.

Meer oor:  Telkom Mobile  |  Mtn  |  Cell C  |  Vodacom  |  Telkom  |  Stella Ndabeni-Abrahams  |  Internet  |  Tegnologie  |  5G  |  Breëband  |  Selfoonmaatskappye  |  Data
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.