Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Showmax Pro: Dís wat jy daarvan moet weet
Die sportaanbieder Carol Tshabalala gedurende die aankondiging Woensdag van Showmax Pro. Foto: MultiChoice

Intekenare van Showmax het nou die opsie om na ’n duurder pakket met meer inhoud oor te skakel.

MultiChoice, wat Showmax besit en bedryf, het Woensdag aangekondig Showmax Pro is nou in Suid-Afrika beskikbaar.

Dié weergawe van Showmax bied toegang tot heelwat meer regstreekse inhoud, insluitend sportgebeure, musiek- en nuuskanale.

Daar is vanselfsprekend ook ’n aansienlike verskil in prys met Showmax Pro wat meer as dubbeld so duur is as die gewone Showmax.

’n Intekening op Showmax Pro, wat net geldig is op ’n slimfoon, kos R225 per maand. Vir volledige toegang op ’n verskeidenheid toestelle kos die diens R449 per maand.

Dit is teenoor Showmax wat R49 kos op ’n slimfoon of andersins R99 per maand op verskeie toestelle.

Wat bied Showmax Pro meer as Showmax?

Intekenare van Showmax Pro kry toegang tot ’n verskeidenheid regstreekse sportgebeure wat gelyktydig op DStv se SuperSport-kanale uitgesaai word.

Daar is veral ’n groot fokus op regstreekse sokker, het die maatskappy gedurende Woensdag se aankondiging gesê.

Wedstryde van die Engelse premierliga, LaLiga, Serie A, FA-beker, Uefa-kampioenskappe en die Europese ligas gaan almal op Showmax Pro te siene wees.

Daarbenewens sal verskeie atletiekbyeenkomste soos die Berlin-, Boston- en New York-marathon ook regstreeks op die platform gebeeldsend word.

Showmax Pro bied intekenare ook toegang tot al dieselfde flieks en reekse as ’n normale intekening.

Nuuskanale soos SABC News, Africa News, Euronews en Newzroom Afrika is ook by Showmax Pro ingesluit.

Trace Urban en Trace Gospel tel onder van die musiekkanale wat beskikbaar is.

Showmax Pro is van Woensdag af in Suid-Afrika beskikbaar, en bestaande intekenare sal binne die volgende dag of twee die opsie gebied word om daarop in te teken.

Eie stromingsplatform

MultiChoice het Woensdag ook sy eie toestel aangekondig waarmee intekenare inhoud van Showmax en DStv regstreeks op enige televisie kan stroom.

Die DStv Streama koppel met ’n hoëdefinisiekabel aan enige (moderne) televisie.

Inhoud van onder meer Showmax en DStv Now kan dan daardeur gestroom word sonder dat ’n satellietverbinding nodig is.

’n Aktiewe, vinnige internetverbinding is wel nodig.

MultiChoice het ook ’n nuwe dekodeerder, die Explora Ultra, aangekondig wat ook regstreeks met die internet sal kan verbind en afgesien van tradisionele televisie ook digitale inhoud van ’n verskeidenheid platforms kan stroom.

Calvo Mawela, uitvoerende hoof van MultiChoice, wou nie Woensdag bevestig of Netflix en Amazon Prime ook deur sy nuwe dekodeerder en stromingstoestel gestroom sal kan word nie.

Meer oor:  Multichoice  |  Showmax  |  Tegnologie  |  Televisie  |  Sport  |  Stromingsdienste
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.