Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Showmax verklap sy planne met inhoud, tariewe
Showmax is een van die gewildste stromingsdienste in Suid-Afrika. Foto: Verskaf

Ten spyte van die bekendstelling van regstreekse sportuitsendings en al hoe meer splinternuwe inhoud, het Showmax geen onmiddellike planne om sy maandelikse tarief te verhoog nie.

Jy sal steeds vir die afsienbare toekoms die jongste episodes van Big Little Lies, The Handmaid’s Tale en regstreekse uitsendings van die Wêreldbeker-kriekettoernooi kan geniet teen net R99 per maand, beloof Niclas Ekdahl, uitvoerende hoof van MultiChoice se video-afdeling.

Netwerk24 het telefonies met Ekdahl vanuit Stockholm, Swede, gesels oor die toekoms van Suid-Afrika se grootste stromingsdiens, wat vanjaar vier jaar oud is.

Hoewel nie Showmax óf Netflix hul amptelike syfers vir Suid-Afrika bekend maak nie, reken die pas genoteerde MultiChoice in sy jongste resultate hy het minstens 1,6 keer soveel intekenare op sy stromingsdienste as sy Amerikaanse mededinger.

Dit sluit wel intekenare van DStv Now in.

LEES OOK: Showmax vs Netflix: Dis 'n taai stryd

Ekdahl is in Augustus as hoof van Connected Video aangestel en het intussen heelwat vermag om Showmax se aanbod te vergroot.

Hy was voor dit die besturende direkteur van Nuvu, ’n Skandinawiese stromingsdiens.

“Toe ek by Showmax begin het, wou ek nie die foute wat ek by Nuvu begaan het, herhaal nie,” sê hy prontuit.

Daarom het hy spesifiek op drie kerngebiede gefokus:

  • Om meer plaaslike inhoud op Showmax beskikbaar te stel;
  • Om gewilde inhoud uit Hollywood, waaronder televisiereekse soos Game of Thrones, dadelik beskikbaar te stel; en
  • Om regstreekse sportgebeure uit te saai en so ’n ander gehoor te lok wat moontlik ook die ander inhoud op die platform sal geniet.

Dié drieledige strategie blyk reeds vrugte te dra, sê Ekdahl.

“Daar word reeds op sosiale media gepraat oor hoeveel Showmax sy aanbod die afgelope laaste paar maande verbeter het,” sê Richard Boorman, kommunikasiehoof van Connected Video, waarvan Showmax deel is.

Sport vir ’n sportmal land

Sport op Showmax is nog nie eens ’n maand beskikbaar nie, en ook nog nie op alle toestelle nie, maar dit word reeds baie goed ontvang, sê hy.

Connected Video werk tans naarstig daaraan om regstreekse sport op meer toestelle beskikbaar te stel.

Tog sien hulle reeds ’n toename in die aantal intekenare wat kom kyk wat Showmax se sportaanbod behels, sê Ekdahl. Hy verklap steeds nie enige spesifieke getalle nie.

“Dit gaan ’n paar maande duur voordat ons met sekerheid sal kan sê hoeveel intekenare het aangesluit spesifiek vir die sport.”

Mededinging vir DStv

Maar is Showmax nie bang hy rokkel intekenare weg by sy grootboet, DStv, nie?

Suid-Afrikaners skroom nie om te kla oor DStv se hoë pryse en die monopolie wat die betaaltelevisiediens op die uitsaairegte van sport geniet nie.

Volgens Ekdahl was dit ’n interne besprekingspunt in MultiChoice toe die besluit geneem is om regstreekse sport op Showmax in te sluit, maar daar is nie tans wesenlike kommer dat DStv intekenare gaan verloor nie.

“Ons lewer ’n diens aan gebruikers, ongeag wie hulle is,” sê hy. “As hulle graag sport aanlyn wil kyk, moet ons daardie opsie bied.”

In met die nuwe

Dit is weliswaar ’n groot frustrasie as ’n televisiereeks waarna jy besig is om te kyk, van Showmax verdwyn, sê Boorman.

Maar daar is waarskynlik ’n goeie rede. Showmax wysig gereeld sy aanbod en verwyder reekse en flieks waarvoor hy nie meer ’n uitsaailisensie het nie, of programme wat nie juis gekyk word nie.

Volgens Boorman het die stromingsdiens ook begin fokus op minder, maar meer onlangse inhoud. Daarom is verskeie ouer reekse, soos Desperate Housewives en Parks and Recreation, reeds verwyder.

“Vier jaar gelede toe ons begin het, was die droom om alles onder die son op Showmax beskikbaar te stel,” vertel Boorman. “Maar kykers stel nie soveel belang in die ouer goed nie.”

Die skuif na meer onlangse reekse dra reeds vrugte, sê hy. Ook Showmax se plaaslike inhoud, waaronder verskeie kykNET-reekse, kry groot aftrek.

“Ons het nie verwag dit gaan só gewild wees nie,” sê hy.

Nuwe Hollywoodflieks is ook op die spyskaart.

Netflix
Watter stromingsdiens is die gewildste in SA? Netflix of Showmax?

Wat van Netflix?

Volgens Ekdahl het hulle nie slapelose nagte oor groot mededingers soos Netflix nie.

Hy vertel hy was destyds vir ’n “hele somer” bekommerd toe hy hoor Netflix kom na Skandinawië en dat dié diens Nuvu gaan uitwis. Sy vrese was ongegrond, erken hy.

“Daar is ruimte vir meer as een stromingsdiens in ’n mark. En anders as Netflix verstaan ons die spesifieke uitdagings van die Suid-Afrikaanse mark.”

Dit sluit in faktore soos hoë datapryse en stadige internetverbindings.

Anders as Netflix, wat moet fokus op ’n internasionale gehoor, kan Showmax seker maak hy bied die beste moontlike diens aan sy intekenare en voldoen spesifiek aan húl behoeftes, sê Ekdahl.

Meer oor:  Netflix  |  Multichoice  |  Showmax  |  Tegnologie  |  Televisie  |  Stromingsdienste  |  Vermaak
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.