Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Showmax vs Netflix: Dis ’n taai stryd
Netflix
Watter stromingsdiens is die gewildste in SA? Netflix of Showmax?

MultiChoice reken hy het minstens 1,6 keer soveel intekenare op sy stromingsdienste, Showmax en DStv Now, as wat Netflix het.

Nóg Showmax nóg Netflix het al amptelike getalle oor die aantal intekenare in Suid-Afrika bekend gemaak.

Nietemin voer MultiChoice in sy uitgereikte jaarstate aan hy is besig om dié mark, minstens in Afrika, te oorheers.

Wêreldwyd kraai Netflix steeds koning met meer as 139 miljoen intekenare.

Luidens sy jongste resultate het MultiChoice sy aantal gebruikers van sy internetgebaseerde televisie- en videovermaak in die afgelope boekjaar verdubbel.

Die maatskappy tref egter nie ’n onderskeid tussen die aantal intekenare van hetsy Showmax of DStv Now nie.

Waar Showmax as afsonderlike produk beskikbaar is, is DStv Now net vir intekenare van DStv Premium beskikbaar.

DStv se aantal intekenare van sy twee duurste pakkette – Premium en Compact Plus – het in die laaste jaar verder gekrimp. Meer as 100 000 Suid-Afrikaanse intekenare het tot einde Maart na goedkoper pakkette afgeskaal of DStv heeltemal vaarwel geroep.

Die maatskappy reken die rede vir die massiewe eksodus in kykers op sy duurste pakkette is hoofsaaklik omdat hulle dit nie meer kan bekostig nie. Daar word nie melding gemaak van kykers wat ook ontevrede is met gereelde herhalings van programme en flieks op DStv nie. 

DStv Premium kos nou nagenoeg R900 per maand ingesluit die verbindingskoste vir DStv se PVR-funksionaliteit.

Tim Jacobs, finansiële hoof by MultiChoice, het aan TechCentral gesê die prys van die premiumpakket sal na verwagting aanhou styg, maar dat die hoeveelheid waarmee dit styg, sal afhang van die Suid-Afrikaanse ekonomie.

Volgens Jacobs neem die maatskappy faktore soos intekenare se gemiddelde salarisverhogings in ag alvorens hy sy pakkette se pryse opstoot.

Vantevore het DStv aangevoer pryse styg grootliks weens die koste van programregte, waarvan die meeste in dollar vanuit die VSA aangekoop word.

DStv verhoog elke jaar op 1 April die prys van die meeste van sy pakkette. DStv Premium het egter vanjaar onveranderd gebly vergelyke met die prys in 2018.

DStv Premium het egter oor die laaste 15 jaar met meer as 102% – van R399 per maand in 2005 tot R809 per maand (PVR-geld uitgesluit) in 2019 – gestyg.

Die maatskappy het in die afgelope boekjaar ook R240 miljoen bestee om die persentasiepuntverhoging in BTW namens sy intekenare te absorbeer.

Netflix het nog nie navrae beantwoord nie.

Só doen MultiChoice nou verslag

MultiChoice verdeel van dié boekjaar af sy verskillende pakkette in drie oorhoofse kategorieë: Premium, die middelmarkte en die massamark.

  • Premium is DStv Premium en Compact Plus (wat net meer as R500 per maand kos).
  • Die middelmarkte sluit in sy Compact-pakket (wat R385 per maand kos).
  • Die massamark is al die ander, goedkoper pakkette.

Die goedkoper pakkette het verreweg die meeste groei getoon oor die laaste jaar en verteenwoordig nou 42% van DStv se totale intekenare in Suid-Afrika.

Net 20% van sy 7,4 miljoen plaaslike intekenare val steeds in die premium kategorie.

Die oorblywende 38% is deel van die middelmark.

MultiChoice, wat vroeër vanjaar van Naspers ontbondel het en afsonderlik op die JSE genoteer het, se totale markwaarde beloop R56,3 miljard.

Hy het Woensdagmiddag teen R136,58 verhandel, 4,4% meer as ’n dag gelede. Sy resultate is Dinsdagmiddag laat uitgereik.

Meer oor:  Dstv  |  Netflix  |  Multichoice  |  Tegnologie  |  Televisie  |  Stromingsdienste
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.