Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Siekefondsdata ál meer gesog

Kuberkrakers teiken mediese praktyke en gesondheidspraktisyns met elke moontlik truuk om pasiënte se siekefonds-inligting in die hande te kry, omdat dit vir rekordpryse op die swartmark verkoop word.

Verine Etsebeth, ’n regskenner oor inligtingstegnologie aan die Universiteit van die Witwatersrand. Foto: Verskaf

Verine Etsebeth, ’n regskenner oor inligtingstegnologie aan die Universiteit van die Witwatersrand, sê wanneer persoonlike inligting uitlek weens nalatigheid, sal die Inligtingsreguleerder diegene wat daarvoor verantwoordelik is, boetes van tot R10 miljoen en tien jaar tronkstraf kan oplê.

Oortredings van die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting (Popia), wat reeds 12 maande van krag is, is van 1 Julie strafbaar.

“Die gesondheidsorgbedryf word spesifiek deur kuberkrakers en kubermisdadigers geteiken, omdat private en sensitiewe inligting oor lede van mediese fondse baie meer werd is as ander data,” sê Etsebeth.

In Amerika is mediese inligting op die swartmark volgens die FBI 50 keer meer werd as kredietkaartdata.

Volgens Etsebeth kan kubermisdadigers vir medisyne, mediese toestelle, operasies, doktersbesoeke en mediese behandeling deur jou mediese fonds betaal. Mense hou dikwels nie hul siekefondsstate so goed dop soos hul bankstate nie en bedrog kan ongesiens verbygaan, sê sy.

Volgens Etsebeth het ’n verpleegster in Suid-Afrika iemand se siekefonds-besonderhede aan ’n kankerpasiënt gegee om kankerbehandeling op ’n bedrieglike wyse te bekom. Toe die lid self kankerbehandeling moes ondergaan, het sy uitgevind haar fonds is uitgeput.

“Jy kan jouself afvra wat mense bereid is om te doen om hul eie lewe te red.”

Sy sê kuberkrakers teiken hospitale weens die toestroming van Covid-19-pasiënte wie se siekefonds-inligting op databasisse gestoor word.

Gesondheidswerkers is maklike teikens omdat hulle nie weet hoe om hulself teen kubermisdadigers te beskerm nie. Hulle is soms ook onbewus van die skade wat kubermisdadigers kan aanrig.

“Die gevolge is baie ernstig vir ’n mediese praktisyn. Jou goeie reputasie kan in ’n oogwink vernietig word as ’n pasiënt se inligting by jou gesteel word.”

In die verlede sou pasiënte regskoste moes aangaan om ’n dokter te dagvaar wat hul inligting laat uitlek. Nou kan hulle gratis hulp kry by die reguleerder, wat boetes kan instel.

Etzebeth sê persoonlike data moet ingevolge Popia gekodeer word wanneer dit gestoor en versend word.

Meer oor:  Mediese Fondse  |  Data  |  Kuberkrakers  |  Tegnologie  |  Hospitale
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.