Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
‘Skyn-bemagtiging’: MTN kan sy lisensie verloor

MTN loop die gevaar om sy lisensie of staatskontrakte te verloor na 'n ondersoek van die kommissie vir breë swart ekonomiese bemagtiging (B-SEB) bevind het sy bemagtigingskema voldoen nie aan die wet nie. 

Indien MTN nie die bevindinge volg nie, kan die kommissie die aangeleentheid na die Onafhanklike Kommunikasieowerheid van Suid-Afrika (Okosa) vir ’n ondersoek oor die gedrag van die MTN-groep en sy direkteure verwys en aanbeveel dat sy lisensie in Suid-Afrika teruggetrek word op grond van die wanvoorstellings of vervalsing van sy B-SEB-status.

Die kommissie is ingevolge die Wet op B-SEB gestig en het die mag om ondersoeke te doen oor bemagtigingskemas om vas te stel of hulle aan die wet voldoen.

Die kommissie het pas ’n ondersoek oor die MTN-groep se nuwe bemagtigingskema, MTN Zakhele Futhi, afgehandel. Die skema is in 2016 bekend gestel nadat sy vorige skema, MTN Zakhele, tot ’n einde gekom het.

Kwalifiserende individue en groepe kon aandele ter waarde van R9,9 miljard in Zakhele Futhi verkry.

Zakhele Futhi sou op sy beurt ’n belang van 4% in die MTN-groep verkry. Die aandele is teen ’n afslag van 20% verkry.

Die ondersoek na die skema het in Mei 2017 begin.

Die voorlopige bevindinge is reeds aan MTN voorgelê voordat die finale verslag uitgereik is.

Die hoofbevinding van die kommissie is dat die skema in sy huidige vorm elemente van skynbemagtiging bevat.

Dit is onder meer weens ’n aantal beperkings wat op swart aandeelhouers geplaas word wat teenstrydig met die vereistes oor eienaarskap is. Dit sluit in dat die akte van oprigting en ’n verhoudingsooreenkoms wat die skema met MTN gesluit het, bepalings bevat wat die swart aandeelhouers en direkteure van MTN Zakhele Futhi beperk of verhinder om aan die besluitneming oor die skema asook die groep en MTN Suid-Afrika deel te neem.

Die kommissie doen agt aanbevelings in sy finale verslag nadat MTN se reaksie op die voorlopige verslag in ag geneem is. Die groep moet onderneem om dit binne 30 dae te doen:

1. Verseker dat Zakhele Futhi se direksie die vermoë het om aandeelhouersregte uit te oefen ten opsigte van die groep en sy bedryfsfiliaal MTN Suid-Afrika op ’n wyse wat besluitneming beïnvloed. Dit moet gedoen word deur wysigings aan die verhoudingsooreenkoms en die akte van oprigting.

2. Verseker dat Zakhele Futhi se direksie die reg het om een van sy lede te benoem vir aanstelling op die MTN-groep se direksie.

3. Verwyder die MTN-groep se verbod op dividende. Dividende moet net onderhewig wees aan oorwegings oor likiditeit en solvensie en die fidusiêre verpligtinge van direkteure ingevolge die Maatskappywet. Verseker dat Zakhele Futhi se direksie en aandeelhouers kan deelneem in die besluite oor sy kontantvloei.

4. Skakel met die skema se direksie oor die groep se resultate, strategie en bedryfsake.

5. Die skema moet sy eie voorsitter kan aanstel en dit hoef nie ’n MTN-direkteur te wees nie.

6. Verwyder die beperkinge in die akte van oprigting dat toestemming van ten minste een MTN-groep nodig is onder sekere voorwaardes.

7. Verseker dat die skema se direksie deur sy aandeelhouers aangestel word en nie deur MTN nie.

8. Verwyder die vereiste dat net ’n kworum by ’n direksievergadering van die skema bereik kan word as ’n MTN-direkteur teenwoordig is.

Benewens dié aanbevelinge oor die skema self, het die kommissie ook vier aanbevelings gedoen, wat insluit dat die groep en sy filiaal in Suid-Afrika binne 30 dae dissiplinêre stappe doen teen die MTN-werknemers wat in 2016 deur die nakomingsafdeling van die kommissie ingelig is dat die skema nie die wet nakom nie en nie die advies gevolg het nie.

Stappe wat die kommissie kan neem indien MTN-groep nie instem nie:

1. Verwys die groep en sy direkteure na die toepaslike afdeling van die polisie of die nasionale vervolgingsgesag op grond daarvan dat skynbemagtiging of ’n wanvoorstelling oor die bemagtigingstatus van die groep plaasgevind het.

2. Nader die hof vir ’n bevel om die transaksie van MTN as skynbemagtiging of ongeldig te verklaar.

3. Verwys die bevindinge na die nasionale tesourie om die prosesse te begin ingevolge die regulasies oor voorkeuraankope ten opsigte van die kontrakte met MTN of om die groep as ’n tender-oortreder te registreer sodat hy vir ’n tydperk van tien jaar nie sake kan doen met ’n staatsliggaam of openbare onderneming nie.

4. Verwys die aangeleentheid na die Onafhanklike Kommunikasieowerheid van Suid-Afrika (Okosa) vir ’n ondersoek oor die gedrag van die MTN-groep en sy direkteure en om aan te beveel dat sy lisensie in Suid-Afrika teruggetrek word op grond van die wanvoorstellings of vervalsing van sy B-SEB-status.

5. Verwys die bevindinge na alle staatsinstellings en ondernemings om dit te oorweeg om MTN se kontrakte te kanselleer.

MTN het by navraag gesê kommentaar sal so spoedig moontlik gelewer word. Dit sal by die berig gevoeg word sodra dit ontvang word of daar sal apart daaroor berig word. 

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.