Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Slimfabriek bou Mercedes se jongste paneelwaens
Dié etikette vir radiofrekwensie-identifikasie is rekenaarskyfies omtrent die grootte van ’n posseël wat aan onderdele geheg word. Foto’s: MERCEDES-BENZ

Die slimkoppe het slimfone en slimkaarte uitgedink, en nou kry jy ook slimfabrieke.

Die motorvervaardiger Mercedes-Benz spog hy is al jare lank aan die voorpunt van intelligente produksie van ligte handelsvoertuie soos sy Sprinter-paneelwaens.

Vanweë die groeiende vraag na verskillende modelle, soos ’n elektriese paneelwa, en fabrieke wat byna teen volle vermoë bedryf word, skuif Mercedes-Benz nou na die volgende stap in sy digitalisering van voertuigvervaardiging by sy fabriek in Ludwigsfelde naby Berlyn in Duitsland.

Die groep gaan van nou tot 2025 meer as 200 miljoen in intelligente motorproduksie belê.

Frank Klein, bedryfshoof van Mercedes-Benz Vans, sê nuwe tegnologie soos radiofrekwensie-identifisering (RFID) gaan nou gebruik word sodat werkers in die logistieke en produksie-afdeling presies weet waar enige spesifieke onderdeel op enige gegewe tyd is.

Die RFID-leser maak met radiogolwe kontak met ’n betrokke onderdeel se etiket. Die radiogolwe verskaf krag aan die RFID-etiket en aktiveer dit om inligting terug te stuur.

Danksy die tegnologie weet werknemers wat gehaltebeheer toepas dus ook of die regte onderdeel op die regte voertuig geïnstalleer is.

RFID gebruik radiogolwe om in ’n kits en sonder aanraking te identifiseer presies watter kantspieëltjies en sitplekke in watter voertuig geïnstalleer is.

Dit sal werknemers losmaak van roetinetake soos om werkstappe te dokumenteer. In die verlede moes hulle fisiek en herhaaldelik strepieskodes op die spieëls en sitplekke op verskeie plekke in die produksieproses skandeer. RFID elimineer sewe dokumenteringstappe per voertuig vir dié twee onderdele alleen, en die plan is om oor die volgende paar jaar tot 40 onderdele via RFID aan die produksiestelsel te koppel.

Mercedes-Benz sê die proses begin al buite die hekke van die Ludwigsfelde-fabriek by verskaffers waar die elektroniese etikette vir gebruik deur RFID aan die onderdele geheg word. Die etikette is eintlik rekenaarskyfies so groot soos ’n posseël wat inligting kan berg en stuur. RFID-lesers op strategiese plekke in die logistieke en produksieketting identifiseer die onderdele deur radiogolwe.

Die RFID-tegnologie maak werknemers los van roetinetake danksy die outomatiese nagaan van onderdele.

Wanneer die voertuig verkoop is, bied RFID ook voordele, want personeel wat voertuie versien, kan foutiewe onderdele presies naspoor.

Die fabriek gebruik ook reeds sedert 2012 outomatiese gidsvoertuie – onbemande tuie wat in die monteeraanleg kan rondbeweeg en wat opdragte kan uitvoer vanaf ’n sentrale punt. Die voertuie kan via Bluetooth met mekaar kommunikeer. Optiese sensors help hulle om versperrings soos vurkhysers of voetgangers op te merk en betyds outomaties te stop.

Klein sê Mercedes-Benz werk daaraan om die tegnologie en programmatuur in die groep se ander aanlegte in Duitsland, Spanje, Argentinië en Amerika te installeer.

Outomatiese gidsvoertuie beweeg op hul eie oor die fabrieksvloer van die Ludwigsfelde-monteringsaanleg om onderdele op die regte plek af te lewer.
Meer oor:  Mercedes Benz  |  Tegnologie  |  Ikt
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.