Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Só beskerm Luno jou kripto ná $145 m. ‘verdwyn’

Quadriga, Kanada se grootse verhandelingsplatform vir digitale geld, is steeds in sakeredding nadat sy stigter met $145 miljoen in kriptogeld na sy graf is.

Al is die prys van bitcoin baie onstabiel, is die plaaslike verhandelingsplatform Luno steeds baie positief oor die toekoms van kriptogeld. Foto: Getty Images

Gerald Cotten (30) is skielik in Desember dood weens komplikasies met Crohn se siekte.

Die verhandelingsplatform se digitale geld is van lyn af op hardeskywe gestoor juis om dit teen kuberkrakers se lang vingers te beskerm. Net Cotten het toegang daartoe gehad.

Sedert sy dood kon Quadriga nie sy deposante uitbetaal nie en is prakties bankrot.

Lees ook: $145 m. se kripto ‘verlore’ ná eienaar sterf

Quadriga se dilemma het opnuut die kollig op die veiligheid van digitale geld geplaas met baie ontleders wat meen dit is tyd dat die bedryf beter gereguleer word.

Marius Reitz, hoof van Luno in Suid-Afrika, beaam dit.

“Ons is heeltemal te vinde vir die regulering van kriptogeld en werk nou saam met ’n aantal finansiële instellings, insluitend die Reserwebank, om dit te bewerkstellig,” sê hy.

Volgens Reitz sal regulasies bestaande sowel as potensiële beleggers gerusstel hul belegging is veilig, ongeag wat agter die skerms by die verhandelingsplatform wat dit stoor, gebeur.

Hoe beskerm Luno sy gebruikers se digitale geld?

Eerstens verdeel Luno, Suid-Afrika se grootste verhandelingsplatform, sy kliënte se geld tussen ’n sogenaamde hot wallet en ’n cold wallet.

Eersgenoemde verwys na digitale geld wat in ’n virtuele beursie aanlyn op Luno se bedieners gestoor word; ’n cold wallet is die teenoorgestelde en word van lyn gestoor op hardeskywe om dit van kuberaanvallers te beskerm.

Digitale geld soos bitcoin of ethereum word deur ’n stukkie kode verteenwoordig. Eienaars van kriptogeld ontvang ’n unieke sleutel om toegang daartoe te verkry.

Elke kode (wat ’n spesifieke hoeveelheid digitale geld verteenwoordig) word deur ’n verhandelingsplatform soos Luno gestoor sowel as die sogenaamde “sleutels” wat nodig is om dit te ontsluit en betalings daarmee uit te voer.

Die “meeste” van Luno se kliënte se sleutels word op hardeskywe in veiligheidshouers in fisieke bankkluise gestoor, sê Reitz.

Hy vergelyk dit met ’n vrieskas waarin kos op lang termyn gestoor word.

“Net ’n paar van Luno se senior personeel het toegang tot hierdie houers en dieselfde persoon het nie toegang tot meer as een daarvan nie,” sê hy.

Boonop is die sleutels op die hardeskywe ook gekodeer, wat beteken sou iemand inbreek en dit steel, sal hulle dit steeds nie kan gebruik nie.

Dit is met opset ’n gesukkel om toegang tot hierdie sleutels te verkry, selfs vir Luno se personeellede, sê Reitz.

Daarom word ’n “klein persentasie” kriptogeld byderhand gehou vir daaglikse transaksies.

Hoe weet ek my bitcoin is veilig?

Volgens Marius Reitz, hoof van Luno in Suid-Afrika, is daar bepaalde vrae wat jy oor ’n verhandelingsplatform moet vra voordat jy hulle met jou digitale geld vertrou.

1. Het ek vertroue in die span wat die produk of diens geprogrammeer het?

2. Verstaan hulle die proses om kliënte se unieke sleutels veilig te bewaar?

3. Het die span ’n agtergrond in ingenieurswese?

4. Het hulle bykomende veilheidsmaatreëls soos tweeledige verifikasie?

5. Is hulle onderhewig aan ’n gereelde ouditproses?

6. Wie is hulle beleggers?


Meer oor:  Quadriga  |  Luno  |  Bitcoin  |  Tegnologie  |  Digitale Geld  |  Kriptogeld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.