Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Só dok jy op as jy kos laat aflewer

Ja, dit is gerieflik om wegneemetes op jou selfoon te bestel. Maar hoeveel betaal jy vir dié gerief? Landi Slatter van Rapport het ondersoek ingestel.

   

Die meeste restaurante laat jou meer betaal vir kos wat afgelewer word teenoor wat jy sou betaal as jy dit self opgetel het.

As jy in ’n groterige dorp of stad bly, kan jy deesdae feitlik enige wegneemete laat aflewer, waar jy ook al is. Danksy afleweringsdienste soos Uber Eats en Mr D Food, is jou volgende bord (of papierkardoes) met kos net ’n paar klikke op jou selfoon ver.

Jy kan binne 20 minute lekker KFC of selfs een of ander eksotiese soesji-gereg voor jou hê – sommer op kantoor. Of vir ontbyt – letterlik in die bed.

Vir sulke gerief gee baie van ons nie om om te betaal nie, maar dit loon tog om ’n oog te hou op die prys wat jy daarvoor betaal.

Uber Eats vra R10 vir elke aflewering en jy het ook die opsie om ’n fooitjie van R5, R10, R15 of ’n bedrag van jou keuse te gee vir die afleweraar wat meestal met ’n motorfiets vir jou jou ete bring.

Maar ’n steekproef (op 11 Junie) deur Rapport het gewys die prys wat jy vir die kos self betaal, kan baie verskil van wat dit in die restaurant sou kos. Op Uber Eats kry jy selfs ’n paar sente afslag op uitgesoekte maaltye by McDonald’s, en Nando’s s’n kos dieselfde of jy nou self gaan koop of laat aflewer.

Maar by Piza e Vino (by die tak wat ons op die proef gestel het) betaal jy vir ’n groot Beef Boy-pizza ’n stywe R14 meer. Saam met jou afleweringskoste van R10, en ’n fooitjie van R5, sal die pizza jou dus R177 kos as jy hom deur Uber Eats laat aflewer – pleks van R148 as jy hom by die restaurant bestel en betaal.

Mr D Food kan jou nog selfs meer laat betaal. Rapport het op 19 Julie vergelyk wat dié app se prys per gereg sou wees vergeleke met die prys in die restaurant. ’n Mediumgrootte Big Mac-maaltyd sal jou op dié app R49,90 kos, R10 duurder as op Uber Eats. By Nando’s sal jy R7 duurder (R96) vergeleke met die R89 in die winkel en op Uber Eats betaal vir die Grande-maaltyd.

By Piza e Vino sal die groot Beef Boy-pizza jou R170,20 uit die sak jaag en die groot La Greca R142,60.

Mr D Food het nie reageer op Rapport se navrae nie. Volgens sy webblad vra Mr D Food R15 per aflewering.

kosaflewering

So, hoe werk dit?

’n Woordvoerder vir Uber Eats sê die restaurante besluit self op die pryse wat hulle op die Uber Eats-app vra.

Uber Eats gebruik tegnologie en data-strategieë om die aanbiedinge op die app so bekostigbaar as moontlik te maak, sê hy.

Daar is voordeel vir almal. Die verbruiker kry danksy die app toegang tot vinnige en betroubare aflewering, die restaurant kry toegang tot nuwe klante en die afleweraar kan ’n inkomste verdien sonder dat hy gebind is deur vaste ure.

Op die oomblik gebruik sowat 2 000 restaurante die Uber Eats-app. Elkeen betaal ’n dienstarief om op dié platform te wees. Die afleweraars betaal ook ’n tarief om die platform te gebruik.

Die bedrag verskil van gebied tot gebied, want bedryfskoste word in ag geneem. Verskillende restaurante betaal ook verskillende tariewe.

Afleweraars word ’n voorafvasgestelde tarief per aflewering betaal, asook ’n vasgestelde optel- en aflaaitarief. Verskillende tariewe geld in verskillende stede, sê die woordvoerder.

As jy vir die afleweraar ’n fooitjie gee, word die volle fooitjie net so aan hom oorbetaal.

Nando’s, McDonald’s en Piza e Vino wou nie kommentaar lewer oor hul prysstrategieë wanneer hulle produkte via aflewerings-apps verkoop nie.

Roxanne Smith, woordvoerder vir Nando’s, sê in die wêreld van tegnologie en aflewering verander dinge baie vinnig. Daarom evalueer dié hoender-restaurantgroep voortdurend hul klante se behoeftes ten einde seker te maak hulle gebruik die beste model tot voordeel van hul klante.

Meer oor:  Mr D Food  |  Uber Eats  |  Nando's  |  Mcdonald's  |  Kitskos  |  Tegnologie  |  Restaurante  |  Kosaflewering  |  Apps
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.