Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Só gaan Apple Watch, Fitbit duurder word

Die invoertariewe wat die VSA op sowat $200 miljard se Chinese goedere wil hef, kan draagbare tegnologie soos Apple Watch en Fitbit se monitors duurder maak.

Die Apple Watch gaan dalk duurder word weens die handelsoorlog tussen China en die VSA.

Dit is omdat hulle in China gemonteer word.

Apple se slimhorlosie, verskeie van Fitbit se monitors en luidsprekers wat deur Sonos gemaak word, word spesifiek in die nuutste beslissings genoem.

Die nuutste beslissings wys vervaardigers van katoeters gaan waarskynlik nié so gelukkig soos die vervaardigers van fone en skootrekenaars wees nie en gaan waarskynlik die prys van hul produkte moet verhoog.

Beamptes van die Amerikaanse doeane en grensbeheer het besluit dié katoeters val onder die verborge opskrif “masjiene wat data versend”. Dié opskrif is nou ingesluit in die meer as 6 000 produkkodes wat aan pres. Donald Trump se invoertariewe onderhewig gaan wees.

Kommentaar kan tans op die voorgestelde lys gelewer word voordat die invoertariewe daarna in werking gestel word.

As dit goedgekeur word, kan dit beteken Apple, Fitbit en Sonos gaan onder ’n 10%-invoertarief deurloop.

Die spesifieke produkte op die lys is:

  • Die oorspronklike Apple Watch;
  • Fitbit se Charge, Charge HR en Surge; en
  • Sonos se Play:3, Play:5 en SUB-luidsprekers.

Al drie die maatskappye wou nie kommentaar lewer oor die voorgestelde lys nie.

Sonos het egter vroeër in Julie gesê “die inwerkingstelling van tariewe en ander handelsgrense kan ons noop om pryse te verhoog, wat ons verkope kan benadeel”.

Hoe raak dit jou in SA?

As jou Apple Watch en Fitbit in China gemonteer word, na die VSA versend word en van daar af na Suid-Afrika verskeep word, gaan jy as Suid-Afrikaner ook meer daarvoor betaal indien die invoertariewe wel van krag word.

Indien Amerikaanse maatskappye egter besluit om produkte regstreeks van China af na ander lande te versprei, sal jy as Suid-Afrikaner nié 10% méér vir jou slimhorlosie of fiksheidsbandjie hoef te betaal nie.

So ver bekend word Fitbit-produkte via Europa na Suid-Afrika versprei. Navrae is ook aan Apple gerig.

Die invloed van tariewe op vervaardigers van katoeters kan beduidend wees.

Sonos en Fitbit maak nie verkoopsyfers van individuele produkte bekend nie, maar hulle het verlede jaar ’n gesamentlike inkomste van $2,6 miljard gehad.

Toni Sacconaghi, ontleder by Bernstein, reken Apple se horlosie kan vanjaar op sy eie verkope van $9,9 miljard genereer.

Kenners meen die produkte kan dalk heeltemal van die lys verdwyn aangesien hulle met nuwer modelle vervang word.

As maatskappye wel produkte het wat hulle aan tariewe onderhewig gaan maak, sê kenners daar is drie moontlikhede:

1. Doen aansoek dat die kode van die lys verwyder word;

2. Doen aansoek om uitgesluit te word wanneer die tariewe toegepas word; of

3. Probeer om produkte onder ’n ander kode wat nie aan tariewe onderhewig is nie, te laat klassifiseer.

– Reuters, verwerk

Meer oor:  Apple  |  Fitbit  |  Apple Watch  |  Slimhorlosies  |  Tegnologie  |  Handelsoorlog  |  Fiksheidsbandjies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.