Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Só is bedrog van bykans R1 mjd. by EOH gepleeg
EOH is die grootste verskaffer van tegnologieprodukte in Afrika. Foto: EOH

Een van Suid-Afrika se grootste tegnologiemaatskappye het bande met minstens 50 ondernemings gesny nadat grootskaalse bedrog en tenderknoeiery ontdek is in sy afdeling wat met staatsake te doen het.

EOH het Dinsdag sy resultate vir die boekjaar tot einde Julie uitgereik en spreek daarin die jarelange onetiese sakepraktyke en verdagte betalings van bykans R1 miljard breedvoerig aan.

Stephen van Coller, uitvoerende hoof van EOH, het in Julie erken dat minstens agt werknemers by bedrieglike aktiwiteite by een van die maatskappy se vele filiale, EOH Mthombo, betrokke was.

Mthombo werk hoofsaaklik met staatsondernemings en maatskappye in die openbare sektor.

Die bedrog is tussen 2014 en 2017 gepleeg en beloop R935 miljoen, sê EOH.

Daar is aanvanklik gevrees bedrog ter waarde van R1,2 miljard is gepleeg, maar ná ’n ondersoek deur die adviesfirma ENSafrica is die bedrag afwaarts aangepas.

Die volle bedrag bestaan uit betalings van R665 miljoen vir werk wat nie gedoen is nie, R90 miljoen se lenings wat afgeskryf is en R180 miljoen se oordrewe fakture van diensverskaffers.

Hoewel die ondersoek nog nie afgehandel is nie, het EOH betalings aan 50 ondernemings gestaak wat by die bedrog betrek word. Die maatskappy noem geen van hierdie maatskappye by naam nie, maar bevestig dat sommige maatskappye regstappe teen hom neem noudat betalings opgeskort is.

Die betrokke werknemers is ook almal na ’n tugverhoor afgedank.

EOH het ook begin met regsaksie teen die betrokke partye om van sy verliese te herwin.

As ’n “regstreekse gevolg” van die jarelange bedrog het EOH ’n wesensverlies van R16,81 per aandeel verklaar – 208% meer as ’n jaar gelede.

Die totale verlies per aandeel beloop R29,95. Geen dividend is verklaar nie.

Inkomste vir die jaar beloop R11 791 miljoen effens minder as in die ooreenstemmende tydperk in 2018.

“Die afgelope 12 maande was bitter moeilik,” erken Van Coller in ’n verklaring.

Volgens hom gaan die maatskappy nou sterk daarop fokus om sy geloofwaardigheid te herstel.

Nuwe prosesse is ook ingestel om soortgelyke bedrog in die toekoms te voorkom.

Die maatskappy se aandeelprys het Dinsdag met 2,7% tot R12,60 gedaal.

Meer oor:  Eoh  |  Tegnologie  |  Bedrog  |  Maatskappye  |  Tegnologiemaatskappye
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.