Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Só kan jy jou Takealot-pakkie vinniger kry

Gautengers wat elke sekonde aftel vandat hulle ’n aanlyn bestelling by Takealot plaas totdat hulle die boks kan oopmaak, kan dit nou nóg vinniger in die hande kry.

Of hulle kan ontspan en dit gaan optel wanneer hulle ook al kans kry.

Takealot se nuwe pakhuis in Midrand waar klante hul bestellings self kan afhaal. Die spirale vervoerband vervoer pakkies van die pakhuis op die tweede vloer tot onder binne twee minute nadat ’n gebruiker sy spesiale QR-kode by die voordeur ingeskandeer het.Foto: Verskaf

Takealot het Vrydag sy nuutste afhaalgerief – waar klante pakkies kan afhaal in plaas van by hul laat aflewer – in Midrand bekend gestel.

Die aanlyn kleinhandelaar verwag dat mense tot ’n dag vroeër hul pakkie sal kan kry.

Die nuwe spesiale pakhuis is op die New Road-brug oor die N1 tussen Johannesburg en Pretoria en het die vermoë om tot 8 000 pakkies per dag te verwerk.

Kim Reid, uitvoerende hoof van Takealot, sê al hoe meer mense verkies om self hul pakkies te kom oplaai en die maatskappy brei dié geriewe aansienlik uit.

“Hierdie is nie Amerika nie,” sê Reid.

“Behalwe vir die moontlike tydsbesparing is dit soms vir gebruikers moeilik om te reël dat hulle ’n aflewering kan ontvang waar hulle op enige gegewe tydstip in die land is.”

Op die oomblik word tussen 10% en 15% van alle Takealot-bestellings – dus bykans 210 000 uit 1,4 miljoen pakkies – deur verbruikers afgehaal.

Die eerste en tot baie onlangs Takealot se enigste afhaalpunt was in Montagu Gardens, Kaapstad, waar gemiddeld 4 000 bestellings per dag afgehaal word.

Die Midrand-afhaalpunt is nou die 25ste aktiewe gerief in Suid-Afrika wat sowel Takealot- as Superbalist-klante bedien. Dis egter nou die grootste, met 1 177 m² tot sy beskikking.

Takealot op die New Road-brug bo die N1-snelweg in Midrand.Foto: Verskaf

Met die ligging bo die N1, Afrika se besigste roete met tot 160 000 motors wat elke dag onderdeur dié spesifieke brug ry, sê Takealot hulle verwag sommer uit die staanspoor dat 1 200 pakkies per dag hier afgehaal sal word.

Dit sal mettertyd tot 8 000 opskuif.

Klante kan by dié gerief ’n hoogs gesofistikeerde ervaring verwag. Die stelsel verseker dat pakkies binne ongeveer twee minute nadat ’n spesiale QR-kode deur die gebruiker by die voordeur geskandeer word op ’n geoutomatiseerde spirale vervoerband van die boonste vloer vervoer word. Sodra dit onder kom, verskyn die klant se naam op ’n enorme bord in die voorportaal wat aandui by watter toonbank die pakkie afgehaal kan word.

Takealot sê pakkies wat teruggestuur word, kan ook hier ingedien word insluitende Superbalist se pakkies.

Voor die einde van die jaar gaan die maatskappy nóg 25 sulke pakhuise bekendstel, wat die totaal dan tot 50 afhaalpunte te staan sal bring, sê Reid.

  • Netwerk24 is ’n publikasie van Media24, ’n filiaal van Naspers. Media24 en Naspers besit belange in Takealot en Superbalist.
Meer oor:  Superbalist  |  Takealot  |  Kim Reid  |  Gauteng  |  Midrand  |  Aanlyn Inkopies  |  Aanlynwinkels
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.