Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Só kan tegnologie konstruksie help
Tegnologie soos hommeltuie kan help om konstruksieprojekte beter te bestuur. Foto: Pixabay

Die era waar die konstruksiebedryf net met groot planne op papier sit maar waar koste en spertye dan in die praktyk oorskry word, is verby.

Andrew Skudder, uitvoerende hoof van Construction Computer Software, sê tegnologie soos hommeltuie, brille wat ’n virtuele werklikheid skep, 5D-tegnologie en opsporingstoestelle behoort binnekort aan die orde van die dag te wees wanneer dit by konstruksie kom.

Skudder sê twee van die grootste voordele vir konstruksiemaatskappye wat dié tegnologie gebruik, is dat dit hulle meer produktief gaan maak terwyl daar ook groot kostebesparings sal wees.

Luidens navorsing wat deur die McKinsey Global Institute gedoen is, verbeter produktiwiteit met tussen 14% en 15% en verlaag dit koste met tussen 4% en 6% wanneer tegnologie na behore ingespan word.

Skudder verduidelik dat hommeltuie gebruik kan word om ’n behoorlike oorsig van ’n bouperseel te kry nog voordat daar met konstruksie begin word. Hommeltuie kan ook tydens die konstruksie gebruik word om behoorlik vas te stel wat die vordering is.

Virtuele werklikheid sal ingenieurs toelaat om binne ’n projek “rond te loop” nog voordat ’n enkele sooi gespit is. Dit sal dit moontlik maak om enige ontwerpfoute makliker en baie vroeër te identifiseer.

Die gebruik van 5D-tegnologie, waar tyd ook as ’n dimensie gebruik word, sal volgens Skudder ingenieurs help om realistiese spertye te stel vir hoe lank konstruksie gaan duur, afhangende van watter tegnieke en/of materiale gebruik gaan word.

Opsporingstoestelle gaan weer die wêreld baie makliker maak vir konstruksiespanne om presies te weet waar op ’n perseel ’n spesifieke stuk toerusting is.

Dié toestelle kan ook byvoorbeeld wys hoe lank ’n vragmotor moet wag om ’n vrag af te laai. Logistiese vertragings kan dan makliker vermy word.

“Konstruksieprojekte oorskry dikwels hul begrotings en spertye. Met toegang tot die regte gegewens kan konstruksiemaatskappye bepaal wanneer hulle hul begroting gaan oorskry, en kan dan betyds strategieë bedink om die situasie te wysig of om te verhoed dat enige addisionele koste aangegaan sal moet word,” sê hy.

Skudder sê, gegewe dat die konstruksiesektor in Suid-Afrika onder geweldige druk is, is dit te verstane dat daar kommer is dat tegnologie tot werkverliese sal lei.

“Eerder as dat dit werkverliese tot gevolg het, kan hierdie tegnologieë produktiwiteit verbeter en sleurwerk uitsny. Dit gaan oor die wysiging van die werkswyse eerder as om van poste ontslae te raak.”

Meer oor:  Konstruksiebedryf  |  Hommeltuie  |  Tegnologie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.