Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
‘Só kan vertroue in versekeraars herstel word’
Naked, 'n plaaslike versekeringsmaatskappy, meen kunsmatige intelligensie gaan die bedryf heeltemal omvergooi. Foto: Getty Images

Kunsmatige intelligensie (KI) en masjienleer sal vertroue in die versekeringsbedryf herstel, sê Alex Thomson, medestigter van Naked, ’n versekeringsmaatskappy wat volkome op dié twee ontluikende tegnologieë staatmaak.

Thomson het Dinsdag op ’n konferensie oor die toekoms van KI in Kaapstad gepraat. Hy sê by Naked het hulle besef gebruikers is met reg negatief oor versekeringsmaatskappye.

“Platforms soos Hello Peter (waarop gebruikers resensies van produkte soos versekering kan laat) word met negatiewe kommentaar oorval. Die bedryf het ’n baie swak reputasie,” sê Thomson.

In die meeste gevalle is gebruikers ongelukkig omdat ’n versekeraar ’n eis afgekeur het of omdat premies voortdurend styg.

“Vir die gemiddelde versekeraar gaan dit oor wins. Enige eis wat uitbetaal word, laat sy wins krimp. Natuurlik sal hy alles probeer om ’n verskoning te vind om nie te betaal nie.”

Naked “is egter anders” en word ten volle deur rekenaars en KI bestuur. Dit beteken besluite oor uitbetalings geskied objektief, sê Thomson, en menslike emosies en kommer oor winsgrense is nie ter sprake nie.

Naked is ’n volledig app-gedrewe versekeraar waarop gebruikers met ’n sogenaamde “chatbot” in stede van met ’n mens gesels.

Rose is Naked se antwoord op Apple se Siri. Sy hanteer alle kommunikasie, waaronder kwotasies en die goedkeuring van eise.

Platforms soos Hello Peter word met negatiewe kommentaar oorval. Die bedryf het ’n baie swak reputasie
Alex Thomson

“In plaas daarvan om 40 minute op ’n telefoon deur te bring om versekering uit te neem, kan jy binne net 90 sekondes dekking vir jou motor kry,” sê Thomson.

Data is die dryfkrag wat die diens laat werk. Nuwe kliënte wat ’n motor wil verseker, moet foto’s daarvan op die app laai om eienaarskap te bevestig.

Naked gee dan ’n kwotasie vir die motor se versekering, gegrond op die standaardmaatreëls soos waar dit saans geparkeer word en hoe dikwels jy dit gaan gebruik.

Eise werk op dieselfde beginsel, verduidelik hy. Aangesien feitlik geen menslike hande by enige van die prosesse betrokke is nie, maak Naked staat op die eerlikheid van sy kliënte, maar daar is prosesse wat dit help verseker.

“Om ’n eis in te dien moet jy ’n selfie-video neem waarin jy verduidelik wat gebeur het,” sê Thomson.

“Interessant genoeg het ons agtergekom as mense hulself opneem en na die video kyk, is dit ’n baie sterk teenvoeter om te jok.”

Ons probeer om KI en nuwe bronne van data soos selfie-video’s en foto’s van die skade te gebruik om oneerlikheid te keer.”

Die outomatisering van die proses beteken ook dat eise baie vinniger afgehandel word.

Thomson meen dis juis hierdie “fundamentele verandering” in die manier waarop dinge tans gedoen word, wat die hele bedryf kort voor lank op sy kop sal keer.

Meer oor:  Naked  |  Tegnologie  |  Kunsmatige Intelligensie  |  Versekering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.