Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Só lyk die meeste uitvis-e-posse nou
Moenie dat ’n uitvis-e-pos jou uitvang nie. Foto: Unsplash

Booswigte misbruik al meer die koronaviruspandemie in hul pogings om niksvermoedende mense per e-pos uit hul geld te bedrieg, wys navorsing van die konsultasiefirma KnowBe4.

Uitvis-e-posse met die woorde “Covid-19” of “update to work from home policy” in die onderwerpveld het in die afgelope paar maande drasties toegeneem.

Stu Sjouwerman, uitvoerende hoof van KnowBe4, sê die afgelope tyd is gesien hoe kuberkrakers gebruikers se grootste swakpunt tydens die pandemie probeer uitbuit deur boodskappe te stuur wat vrees, onsekerheid en twyfel inboesem.

Die firma het bevind dat koronavirusverwante onderwerpe hoogty in die onderwerpveld van bedrieglike e-posse gevier het.

Booswigte het ook probeer voordeel trek uit werknemers wat van die huis af werk deur e-posse aan hulle te stuur wat lyk asof dit van die mensehulpbronne-afdeling van hul werkgewer is.

Derhalwe word al hoe meer e-posse met woorde soos “payroll deduction form” of “vacation policy update” in die onderwerpveld gestuur.

Die sosiale media bly ook ’n slagveld vir gebruikers wat maklik uitgevang word.

’n Groot aantal uitvis-e-posse wat KnowBe4 onderskep het, was kamtig van die werksoekplatform LinkedIn.

Die boewe meen waarskynlik dat baie mense hul werk weens die ekonomiese invloed van die pandemie verloor het en nou op platforms soos LinkedIn werk soek.

Dus word vals e-posse na niksvermoedende mense gestuur.

e-pos

“People are looking at your LinkedIn profile,” of “You appeared in new searches this week” is veral gewilde boodskappe in die onderwerpveld van sulke uitvis-e-posse, waarsku KnowBe4.

Skelms maak dikwels staat op mense se behoefte aan persoonlike aandag, sê Sjouwerman. Mense is meer geneig om te klik op ’n e-pos-boodskap wat aandui dat hulle ’n nuwe kennis op LinkedIn of ’n nuwe boodskap ontvang het.

Sulke e-posse kan ook op ’n haar soos die ware Jakob lyk, maar met klein en onopsigtelike verskille.

Die geheim lê daarin om nooit op ’n skakel in ’n e-pos te klik nie.

Moenie op die skakel in die e-pos klik nie, maar meld eerder self aan op LinkedIn as jy ’n e-pos ontvang waarin aangedui word dat jy ’n nuwe kennis het.

Maak ook altyd seker dat jy ’n instansie se werklike webwerf besoek. Soms is daar net klein verskilletjies tussen die URL (oftewel webadres) van erkende platforms en die namaaksels.

Let op na die spelling in die webadres sowel as die uitbreiding, hetsy .co.za of .com.

Maak ook altyd seker transaksies (insluitende bankdienste sowel as aanlyn inkopies) word net op ’n veilige webwerf gedoen, dit wil sê die webwerf se naam in die soekbalkie word van die prentjie van ’n slotjie vergesel wat aandui dat dit veilig is.

Meer oor:  Knowbe4  |  Slenter  |  Koronavirus  |  Koronaviruspandemie  |  Tegnologie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.