Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Só lyk Lenovo se slimste nuwe tegnologie

Lenovo het oudergewoonte weer met ’n rits nuwe produkte gepronk op vanjaar se IFA-tegnologieskou in Berlyn, Duitsland.

Netwerk24 het vanjaar die eerste keer dié skou op uitnodiging van Lenovo besoek.

Afgesien van ’n string nuwe, blitsvinnige en kragtige skootrekenaars, het Lenovo ook met sy nuwe reeks tablette, raakskerms en selfs ’n videospeletjie gespog wat in die wêreld van Marvel se superhelde afspeel.

Lenovo se nuwe Yoga C940-skootrekenaar.Foto: Lenovo

Verskeie nuwe skootrekenaars

Een van Lenovo se grootste aankondigings was sy nuwe Yoga C940-skootrekenaar.

Hierdie pragtige skootrekenaar, met ’n staalraam en ruim skerm, kan ook as ’n tabletrekenaar benut word – nes Lenovo se vorige Yoga-produkte.

Die C940 is wel die maatskappy se kragtigste Yoga-masjien tot nog toe. Lenovo het kragte saamgesnoer met Intel en die C940 maak van die jongste tegnologie op die gebied van rekenaarskyfies gebruik.

Dié rekenaar gebruik ook kunsmatige intelligensie om gebruikers se gewoontes aan te leer en prosesse daarby aan te pas. Volgens Lenovo, wat al sy produkte ’n dag vroeër aan die media bekend gestel het, beteken dit die C940 se batterylewe kan aansienlik verleng word aangesien die masjien self onnodige of ongebruikte prosesse in die agtergrond sal afskakel. In die standaardmodus sal jy meer as 17 uur daarop kan werk voordat die battery uitgeput sal wees.

Lenovo se Yoga-skootrekenaars kan eweneens as ’n skootrekenaar of tablet dien. Foto: Lenovo

Die C940 is met Windows 10 toegerus en ondersteun ook die jongste Wi-Fi-protokol, Wi-Fi 6, wat tans gaandeweg oor die wêreld ingestel word.

Dit is ongelukkig nog nie bekend wanneer die Yoga C940 na Suid-Afrika gaan kom of wat dit gaan kos nie. Volgens Lenovo word ’n aankondiging hieroor later vandeesmaand of vroeg aanstaande maand verwag.

Tablette, raakskerms en meer

Hoewel Lenovo se nuwe reeks Yoga-skootrekenaars se skerms soos ’n wafferse waaghals heeltemal agteroor kan buig om soos ’n gewone tabletrekenaar te funksioneer, het die maatskappy ook afsonderlike tabletrekenaars tydens vanjaar se IFA-skou bekend gestel.

Die Lenovo Yoga Smart Tab en Smart Tab M8 is albei toegerus met ’n ruim, kristalhelder skerm én gevorderde stemherkenningstegnologie.

Dit beteken jy sal met dié toestelle kan praat en danksy Google se assistent eenvoudige take verrig soos afsprake maak en dies meer.

Lenovo se nuwe Smart Display 7 wat gebruik kan word om foto’s te wys of musiek te speel.Foto: Lenovo

Nog ’n lekker nuwe produk is die Lenovo Smart Display 7. Dié toestel bestaan basies uit ’n skerm met ’n luidspreker en is ideaal om op foto’s te wys, video’s te kyk of musiek te speel.

Jy kan ook daarmee praat en Google se assistent vra om take te verrig of om vir jou die jongste nuushoogtepunte of môre se weer voor te lees.

Dit is eweneens nog onbekend wanneer hierdie produkte na Suid-Afrika kom, hoewel meer besonderhede daaroor na verwagting binnekort bekend gemaak sal word.

Lenovo het ook nuwe skerms tydens die IFA-konferensie aangekondig. Foto: Lenovo

Wees Starlord, Thor vir ’n dag

Nóg ’n lekker aankondiging deur Lenovo is sy ooreenkoms met Marvel in die skep van ’n nuwe videospeletjie wat van virtuele realiteit gebruik maak.

In Marvel se Dimention of Heroes staan jy as’t ware in die skoene van van Marvel se gewildste superhelde, insluitend Starlord, Captain America en Thor. Jy gebruik ’n spesiale bril en kontroles om teen ’n aanslag van vyande te baklei.

Besoekers is ’n kans gegun om dié speletjie – wat eers net in Amerika beskikbaar gaan wees – te speel. Hoewel Lenovo aanvoer daar is ’n goed ontwikkelde storielyn daaraan verbonde, was dit myns insiens maar net ’n verskoning om monsters te skiet.

Die IFA-tegnologieskou, die grootste in sy soort in Europa, vind jaarliks aan die begin van September in die Duitse hoofstad plaas.

Ondernemings van oor die wêreld heen sak op die Messe Berlin-konferensiesentrum toe om hul jongste tegnologie ten toon te stel.

  • Netwerk24 se besoek aan IFA 2019 is deur Lenovo geborg.
Meer oor:  Lenovo  |  Tegnologie  |  Rekenaar  |  Ifa 2019
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.