Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Só lyk SAUK se stromingsdiens dalk
Die SAUK beplan sy eie stromingsdiens, SABC iPlayer. Foto: Unsplash

Die SAUK se stromingsdiens gaan volgens ’n versoekskrif op sy webtuiste baie soortgelyk wees aan dié van DStv.

Die openbare uitsaaier het Vrydag kenners op die gebied van stromingsdienste gevra om hom te kontak en te help met inligting oor hoe ’n eie stromingsdiens begin kan word.

Die versoekskrif, wat die SAUK sê nie ’n uitnodiging vir voorstelle is nie, spel uit wat die uitsaaier graag wil hê sy eie stromingsdiens moet behels.

Dit sluit in ’n komponent vir die regstreekse uitsaai van inhoud, ’n ander komponent waar inhoud later na gekyk kan word, sowel as die moontlikheid om oudio – veral radio – deur die diens te stroom.

DStv se app, voorheen bekend as DStv Now, bied reeds die meeste van hierdie funksies. Showmax, wat nes DStv deur MultiChoice besit en bedryf word, bied ook ’n regstreekse komponent in sy premium weergawe.

Volgens die versoekskrif heet die SAUK se eie stromingsdiens SABC iPlayer. Daarmee wil hy die mark na stromingsdienste “doeltreffend betree” deur dieselfde tipe dienste te bied as wat kykers reeds van “soortgelyke dienste soos Netflix, Amazon Prime en Spotify kan kry”.

Hoewel die dokument nie op sigself ’n finale weergawe van die SAUK se planne verteenwoordig nie, gee dit ’n aanduiding van watter funksionaliteit hy wil hê dit moet bevat.

“Die SAUK kan bevestig hy beplan om sy eie video- en musiekstromingsdiens bekend te stel in pas met die veranderende bedryf en kykers se behoeftes,” het Mmoni Seapolelo, waarnemende woordvoerder van die SAUK, by navraag gesê.

“In hierdie stadium kan die SAUK nie verder daaroor uitwei nie vanweë die kommersieel sensitiewe aard van die inligting.”

In die versoekskrif vir inligting lys die uitsaaier sy wens vir ’n enkele app (SABC iPlayer) waarop gebruikers toegang kry tot sewe televisiekanale en 19 radiostasies.

Die app gaan sowel ’n gratis as ’n betaalopsie bevat.

Die SAUK vra bedryfskenners ook vir inligting oor die tegniese aspekte van só ’n app, insluitende die wyse waarop gebruikers aanmeld, asook hoe die inhoud teen kopieregskending beskerm kan word.

Volgens hom is dit noodsaaklik dat hy nou die moontlikheid van ’n stromingsdiens ondersoek omdat die platforms wat hy gebruik “nie mededingend genoeg” is of genoeg inkomste genereer nie.

“Die SAUK maak reeds ’n geruime tyd staat op platforms soos YouTube, webtuistes en sosiale media om sy inhoud te publiseer. Ongelukkig laat hierdie platforms ons nie toe om mededingend genoeg te wees of om die meeste geldelike waarde daaruit te put nie.”

Die dokument maak spesifiek melding van die betaal van TV-lisensies en vra bedryfskenners om ook kommentaar te lewer op hoe sulke betalings deur die app kan geskied.

Die SAUK het voorverlede week aan die parlement se portefeuljekomitee oor kommunikasie voorgestel hy moet toegelaat word om ’n TV-lisensie van kykers te verhaal selfs al besit hulle nie ’n televisie nie en kyk hulle net na stromingsdienste se inhoud.

Die voorstel is dat MultiChoice en platforms soos Netflix lisensiegelde namens die SAUK invorder, betaalbaar saam met kykers se gewone intekengeld.

LEES OOK: TV-lisensie jou voorland - al kyk jy net Netflix

Daar word geen aanduiding gegee van wanneer die SAUK hoop om sy stromingsdiens in bedryf te stel nie. In die versoekskrif vra hy ook melding van die moontlike koste vir die oprigting daarvan, sowel as die instandhouding daarvan vir die volgende vyf jaar.

Hy het egter nie juis veel kontant beskikbaar om só massiewe projek mee te befonds nie.

Die uitsaaier het in September weer bakhand in die parlement gaan staan om vir bykomende finansiering van die nasionale tesourie vir sowat R1,5 miljard te vra.

Dit is weens sy geprojekteerde inkomsteverlies van R1,5 miljard weens die Covid-19-pandemie en staat van inperking.

Die SAUK het in 2019 ’n reddingsboei van R3,2 miljard van die staat gekry.

Meer oor:  Dstv  |  Netflix  |  Sauk  |  Multichoice  |  Tegnologie  |  Televisie  |  Stromingsdienste
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.