Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Só raak Facebook-debakel ander maatskappye
Facebook moes die afgelope week bontstaan om te verduidelik hoe ’n omstrede konsultasiefirma toegang tot die profiele van 50 miljoen van sy gebruikers kon kry. Foto: Reuters

Groot internetmaatskappye en kleiner programmatuurskeppers is ewe bekommerd dat die manier waarop hulle met gebruikers se data te werk gaan, nou onder die kollig gaan kom.

Dit kom nadat (nog) ’n skandaal dié week oor Facebook se kop losgebars het oor die manier waarop die omstrede konsultasiefirma Cambridge Analytica toegang tot 50 miljoen gebruikers se profiele kon kry.

Die owerhede in Amerika en die Europese Unie het reeds ondersoeke aangevra na hoe Cambridge Analytica, en derhalwe Facebook self, gebruikers se data gebruik het om te help dat pres. Donald Trump verkies word.

Die afgelope week se skoknuus het Facebook se aandeelprys met 8,5% laat val omdat beleggers vrees die voorval kan tot nuwe, strenger regulasies vir Facebook lei.

Dié regulasies kan egter ook ander groot tegnologiemaatskappye soos Google, Twitter, Uber, LinkedIn en Microsoft beduidend raak. Al dié maatskappye (en verskeie ander) deel ook geredelik gebruikers se data met derde partye.

Die konneksies tussen platforms soos Facebook, Google en ander derdepartydienste vorm die kern van die internet. Dit stel gebruikers byvoorbeeld in staat om vinnig artikels vanaf Google in die sosiale media te deel, of om hul aanmeldbesonderhede vir Facebook by hul gunsteling- aanlyn winkel te gebruik.

Dié tipe inligting en verbindings tussen sosialemediaplatforms en derdepartywebwerwe word deur Facebook (en Twitter en Google) se sogenaamde API (oftewel application programming interfaces) gehanteer.

Dit is hierdie API’s wat nou die teiken van owerhede word in ’n poging om gebruikers se data op sosialemediaplatforms te beskerm.

Die vrees dat stappe teen hulle gedoen gaan word, het daartoe gelei dat verskeie van dié maatskappye reeds beter beheer oor toegang tot hul API’s begin toepas het.

Groter maatskappye, soos Facebook, hou vol dat hulle veiligheids-maatreëls het om te keer dat instansies deur API’s op ’n onvanpaste wyse toegang tot gebruikers se inligting kry.

Reguleerders is al sedert die begindae van API’s in 2005 bekommerd oor wat die impak daarvan op gebruikers se privaatheid sal wees. Tog maak al hoe meer maatskappye daarvan gebruik om data maklik aanlyn rond te beweeg. Dit word ook aangewend om gebruikers se lewe te vergemaklik.

Uber gebruik API-tegnologie byvoorbeeld om belastinggaarders en leningsdienste regstreekse toegang tot bestuurders se betaalstrokies te gee. Die maatskappy het nie gereageer op navrae oor hoe hy die uitruil van die inligting monitor nie.

Groter maatskappye, soos Facebook, hou vol dat hulle veiligheidsmaatreëls het om te keer dat instansies deur API’s op ’n onvanpaste wyse toegang tot gebruikers se inligting kry.

Maar programmatuurkenners meen dié maatreëls is slap. Mark Zuckerberg, Facebook se beleërde uitvoerende hoof, het Woensdag gesê die maatskappy gaan ondersoek instel na al die inligting wat hy met derde partye gedeel het voordat die platform sy reëls in 2014 verskerp het.

Twitter en LinkedIn beperk nog altyd gratis toegang tot hul API’s.

Sodra ’n derde party gewillig is om op te dok, word hulle onderwerp aan ’n streng ondersoek en word hulle dikwels afgekeur, sê LinkedIn.

LinkedIn sê hy gaan gereeld die gebruik van sy API na en “tree vinnig op as ons enige oortreding van ons bepalings en voorwaardes sien”.

Die ontwikkelaars van programmatuur erken ook dat hulle dikwels nie maatskappye se bepalings en voorwaardes vir die gebruik van hul API’s nagaan nie. Diegene wat die reëls oortree, kan lank onder die radar beweeg en ’n groot klomp inligting inwin voordat hulle uitgevang word, sê Andres Blank, uitvoerende hoof van Scout, ’n maatskappy wat programmeerders werf.

“Dit is moeilik om te polisieer as die gevaarligte nie flikker nie,” sê Blank.

Sommige maatskappy meen nou dit sal in die beste belang van almal wees as regulasies ingestel word om die “deursigtige en etiese gebruik van data” te verseker. – Reuters, verwerk

Meer oor:  Google  |  Linkedin  |  Twitter  |  Facebook  |  Tegnologie  |  Data  |  Sosiale Media
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.