Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Só sê SA diensverskaffers oor ‘Huawei-situasie’

Diensverskaffers het nog geen antwoord vir bekommerde kliënte wat wonder of hul Huawei-toestelle binnekort gaan ophou om Google se produkte te ondersteun nie.

Die Amerikaanse regering het onlangs besluit dat maatskappye in dié land nie meer programmatuur aan die Chinese tegnologievervaardiger mag verskaf tensy hulle toestemming daarvoor het nie.

’n Paar dae later het Google aangekondig hy gaan gehoor gee aan dié bevel en derhalwe sy sakeverhouding met Huawei opskort. Dit beteken Huawei sal nie meer toegang hê tot die Android-bedryfstelsel wat deur Google besit word nie. Google sal ook nie meer lisensies vir sy ander gewilde apps soos Chrome, YouTube en Maps aan Huawei mag verkoop nie.

Die verbod word oor drie maande van krag.

By navraag het MTN, Cell C en Vodacom gesê hulle neem kennis van die internasionale situasie en monitor dit.

Telkom het nog nie op ’n versoek om kommentaar gereageer nie.

Volgens alle aanduidings gaan die diensverskaffers vir eers steeds Huawei-fone verkoop, minstens totdat daar groter sekerheid is oor die toekomstige bruikbaarheid van hierdie toestelle.

Karen Byamugisha, senior kommunikasiebeampte van MTN, sê haar span werk saam met MTN se afdeling vir toestelle om ’n standaardantwoord te formuleer vir kliënte se navrae oor Huawei in enige van die diensverskaffer se winkels.

Ongeag die uitkoms van die Amerikaanse verbod op Huawei, sal eienaars van Huawei-toestelle waarskynlik nie daarop geregtig wees om dit aan diensverskaffers terug te gee en aan te dring op ’n terugbetaling nie.

Ongeag die uitkoms van die Amerikaanse verbod op Huawei, sal eienaars van Huawei-toestelle waarskynlik nie daarop geregtig wees om dit aan diensverskaffers terug te gee en aan te dring op ’n terugbetaling nie.

“Die gebeurtenis is buite die diensverskaffers se beheer en kon nie voorsien word nie,” het Dominic Cull, ’n regulatoriese kenner van die regsfirma Ellipsis, aan Business Insidergesê.

Netwerk24 het ook by die Nasionale Verbruikerskommissie kers opgesteek oor verbruikers se regte in só ’n situasie. Die kommissie se reaksie word nog ingewag.

Huawei se ‘plan B’

Ren Zhengfei, stigter en uitvoerende hoof van Huawei, het in die nadraai van die Amerikaanse besluit gebruikers probeer gerusstel dat die maatskappy dit reeds etlike maande, en selfs jare, te wagte was en derhalwe reeds aan ’n oplossing begin werk het.

Hy het dus al lankal begin werk aan sy eie, soortgelyke bedryfstelsel.

Huawei se eie bedryfstelsel staan bekend as HongMeng OS en is na bewering so te sê gereed om op toestelle geïnstalleer te word.

Endgadget berig Richard Yi, hoof van verbruikersake, sê HongMeng sal na verwagting reeds vroeg September beskikbaar wees. Die Amerikaanse verbod is geskeduleer om op 19 Augustus in werking te tree. Huawei-toestelle sal daarna toegang verloor tot belangrike bywerkings tot die Android-bedryfstelsel.

Toegang tot Google se Play-winkel, wat al sy apps huisves, sal waarskynlik ook opgeskort word.

Toestelle waarop Google se apps egter reeds geïnstalleer is, sal nie toegang daartoe verloor nie, het die tegnologiereus vroeër bevestig.

Dit is nog nie bekend hoe HongMeng van Android gaan verskil nie en of die nuwe bedryfstelsel bestaande Android-apps sal kan ondersteun nie.

Huawei het wel geruime tyd reeds sy eie app-winkel op sy toestelle geïnstalleer, ’n verdere aanduiding dat hy ’n breuk met Google se produkte te wagte was.

Los ’n eie bedryfstelsel al Huawei se probleme op?

Ongelukkig nie.

Al beteken dit Huawei se toestelle sal kan aanhou funksioneer, beteken dit nie al sy gebruikers gaan van die veranderinge hou wat noodgedwonge met ’n nuwe bedryfstelsel gepaardgaan nie.

Sou Huawei oorskakel na HongMeng, sal verskeie derdepartyapps waarskynlik vir eers nie ondersteun word nie totdat die vervaardigers dit aanpas vir die nuwe bedryfstelsel.

Huawei se fabriek in Dongguan, naby Shenzhen, China.Foto: Getty Images

Huawei sal sekerlik ook sy eie apps bou, maar dit sal nie noodwendig groot aftrek kry onder sy internasionale gebruikers nie. Die maatskappy se grootste aantal gebruikers is steeds in China, waar alternatiewe vir Google lank reeds die norm is omdat dié maatskappy se produkte daar verbied word.

Dit bly ’n ope vraag of Huawei se gebruikers in Suid-Afrika en elders gewillig sal wees om Google-produkte soos YouTube en Maps te laat vaar vir alternatiewe, Chinese weergawes.

Benewens apps is apparatuur Huawei se ander groot kopseer. Die maatskappy het in 2018 meer as $11 miljard se apparatuur, waaronder skyfies, van Amerika af ingevoer.

Intel en Qualcomm, albei Amerikaanse ondernemings en verskaffers van hierdie skyfies, word ook weens die sanksies gedwing om bande met Huawei te sny. Dit beteken die maatskappy moet binne drie maande ’n nuwe verskaffer daarvoor vind of dit self begin vervaardig.

Huawei het wel die verbod verwag en heelwat Amerikaanse apparatuur vooruit bestel sodat vervaardiging vir eers nie ontwrig word nie.

Die maatskappy beplan om sy peperduur voubare slimfoon, die Mate X, binne die volgende paar maande bekend te stel. Dié bekendstelling volg op Samsung se mislukte poging om sy Galaxy Fold eerste aan die mark te lewer.

Huawei het waarskynlik reeds sy Android-lisensie vir die Mate X gekoop.

Dié foon sal wel, nes alle ander Huawei-toestelle, nie meer bywerkings van die bedryfstelsel ontvang nadat die verbod finaal op 19 Augustus in werking tree nie.

Die wispelturigheid van Amerikaanse politiek beteken wel dat heelwat tussen nou en Augustus kan verander en dat die handelsbeperkings heeltemal verslap word, gewysig word of selfs vroeër ingestel word.

Hoekom gebeur hierdie met Huawei?

Amerika, en spesifiek pres. Donald Trump, se besluit om handelsbeperkinge op die Chinese Huawei in te stel, het veelvuldige oorsake.

Eerstens beskuldig Amerikaanse agentskappe Huawei daarvan dat hy namens die Chinese regering op sy gebruikers spioeneer. Huawei ontken dit ten sterkste en sê hy het as onafhanklike maatskappy geen mandaat om in belang van die Chinese regering op te tree nie.

Tweedens beskuldig Amerika ook Meng Wanzhou, Huawei se finansiële hoof en dogter van sy stigter, daarvan dat sy met banke saamgewerk het om Amerikaanse sanksies teen Iran te systap. Meng is in Desember in Kanada aangekeer en wag nog op uitlewering aan Amerika.

Laastens maak die verbod ook deel uit van die voortslepende handelsoorlog tussen China en Amerika.

Huawei is die wêreld se grootste vervaardiger van slimfone (en ander tegnologie) naas Suid-Korea se Samsung. Huawei se produkte word reeds geruime tyd nie meer in Amerika verkoop nie, hoewel inwoners daar nie pertinent verbied word om dit te gebruik nie.

Meer oor:  Google  |  Mtn  |  Cell C  |  Vodacom  |  Android  |  Huawei  |  Sanksies  |  Tegnologie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.