Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Só voel lesers oor sluiting van Musica

Die heerlike gevoel om ’n nuwe CD oop te maak en die krakerige klank van vinielplate op ’n platespeler . . .

Spotify is een van die wêreld se grootste musiekstromingsdienste wat die getal betalende intekenare betref. Foto: Unsplash

Baie lesers het die afgelope paar dae nostalgies geraak oor hul ervarings met musiek en in musiekwinkels in die lig van Clicks se aankondiging dat hy die laaste 59 takke van sy winkelgroep Musica teen einde Mei sluit.

Ander lesers was minder sentimenteel en glo bloot tyd het CD’s en DVD’s, en daarmee saam die winkels wat dit verkoop, ingehaal. Hulle bestel CD’s aanlyn, dankie, of gebruik stromingsdienste.

Ferdi Scheepers skryf: “Nogal hartseer. Kinders sal nooit weer daai gevoel ervaar om ’n nuwe CD oop te maak en in jou CD-speler of kar in te sit nie. Maar ja, tyd wag vir niemand.”

Louise Lucas sê ook dis hartseer: “Ek het self as tiener net Musica toe gegaan om musiek te luister. Hulle moes met die vinnige veranderende tegnologie bygehou het en dalk ’n tegno-kuierplek vir jongspanne of musso’s geopen het. Sad very sad.”

’n Paar lesers het daarop gewys dat roof-CD’s en -DVD’s die ondergang van die bedryf versnel het, dalk selfs meer as stromingsdienste.

Hennie Biebouw skryf: “Ek het my plateversameling in 2014 verkoop. Deesdae bestel ek maar my CD’s aanlyn, want plate is te duur. Ek weier egter om te betaal vir stromingsdienste.

“Ek het my eerste langspeelplaat op die ouderdom van 12 gekoop. Dit was Boston se Don’t look back, wat gevolg is deur Kiss Alive II en AC/DC se If you want blood, you’ve got it. Destyds nog by Peter de Wet se Sigma Records & Coffee Shop in Ryneveldstraat op Stellenbosch. Ek het baie wonderlike ure daar deurgebring.”

Dom Onnosel (lesers mag onder skuilname kommentaar lewer) skryf op Netwerk24: “Met al hierdie moderne internet-tegnologie is die wêreld besig om ’n baie saai plek te raak. Jy betaal nou sommer jou geld direk oor aan ’n skatryk mega-maatskappy in die VSA of China sonder om ’n plaaslike ou die geleentheid te gee om ook ’n geldjie te verdien.”

Die besigheidsmodel van dekades, waar jy gedwing is om ’n hele album te koop, al het jy net van een of twee liedjies daarop gehou, was soos die dinosourusse wat net gewag het vir die meteoor.
Willie Pieterse

Willie Pieterse beskou die uitsterf van albums as natuurlik: “Voorspelbaar. Die besigheidsmodel van dekades, waar jy gedwing is om ’n hele album te koop, al het jy net van een of twee liedjies daarop gehou, was soos die dinosourusse wat net gewag het vir die meteoor. Waarom wil ek R150 uithaal vir die hele album, as ek die liedjie waarvan ek hou vir R8 op iTunes kan koop?”

Biebouw sê ook: “Ek wonder soms waarheen die moderne wêreld van kommersialisme en onmiddellike bevrediging op pad is. Kwantiteit bo kwaliteit blyk te seëvier en die konsep van volhoubaarheid word oorheers deur ’n drang na daai millisekonde van fame of erkenning.

“Toe ek jonger was, het ons graag na die Kaapstadse Simfonieorkes se Sondagkonserte gaan luister. Die studentesitplekke was veronderstel om die cheap seats te wees, want dis amper agter die orkes. Die klank daar was egter fantasties. Dis waar jy die vingers op die snare van strykinstrumente kan hoor.

“ ’n Mens wil nie altyd oude doos klink nie, maar ek dink die jeug van vandag leef verby fundamentele aspekte van menswees.”

Lynette Higley sê sy koop graag musiek-DVD’s en Christelike DVD’s. “Ek gaan Musica mis.”

Raad

Vir die lesers wat nog CD’s en DVD’s wil koop, is die raad om aanlyn te koop by onder meer Takealot, Loot en Amazon, of selfs by winkels vir gebruikte goedere, soos Cash Crusaders, te gaan kyk, waar hulle dalk winskopies sal optel.

Echo’s Record Bar blyk ook ’n gewilde bestemming te wees.

Marietjie Janse van Rensburg-Carstens skryf op Facebook sy is nog baie lief vir haar CD’s. “Al die nuwe tegnologie is nie altyd lekker nie . . . Dit vat net die lekker en nostalgie van versamel en soek weg.”

Tracy Phillips skryf om deur haar CD’s te gaan en hulle te speel, is soos om na ’n boekwinkel te gaan en ’n werklike boek te koop. Die reuk en gevoel en nostalgie. “Ol’ School Rulz.”

Digitale musiek, flieks

Baie lesers het egter ook die lof van digitale musiek besing, met Pieter Hugo wat skryf: “Ek kan nie eens onthou wanneer ek laas ’n CD gesien het nie”.

Talle lesers verwys daarna dat hulle dienste soos Spotify, Deezer, Apple Music en YouTube Music (voorheen Google Play Music) baie beter – en goedkoper – vind.

Abre van Wyk sê om staande te bly, sou Musica reeds 15 jaar gelede in digitale musiekplatforms moes begin belê het.

Koos Roos beskryf die sluiting as ’n “ongenaakbare werklikheid”.

“My karre se CD-spelers is lankal in onbruik en ek stroom musiek en podcasts van my selfoon af via die kar se Bluetooth.”

Amelia Marais se frustrasie met Netflix is dat sekere programme net ’n ruk lank daarop bly. “Kinders kyk mos ’n ding oor en oor.”

Vinielplate

Biebouw bevestig wat navorsing getoon het, naamlik die skerp styging in verkope van vinielplate – dit het in 2020 in Amerika met 46% opgeskiet, hoewel dit net 3,6% van musiekverkope verteenwoordig.

Glo dit as jy wil, mense wil weer die gekrap-krap van 'n naald op 'n plaat hoor...

“Viniel is besig om weer baie gewild te raak onder jong mense. Toegegee, dit sal nooit die goedkoop, laegehalte-stromingsdienste vervang nie, maar dis tog goed om te sien.”

Kruger van der Merwe is ook ’n aanhanger van vinielplate en sê hy skaf dit op uitstallings en by aanlyn verskaffers soos Amazon aan. “Dit bly steeds die naaste aan natuurlike klank.”

Baie lesers wys daarop dat nuwe vinielplate peperduur is.


Digitale ekonomie

John Bakkes wys daarop dat Musica beslis nie uniek is nie. “En so gaan tegnologie nog baie besighede se deure laat sluit. Jy gaan meer gebruikers kry en minder werksgeleenthede. So ’n groeiende ekonomie gaan ’n inkrimping in die werksmag ook kan veroorsaak.”

Clicks het wel aangedui dat die 516 Musica-werknemers sover moontlik werk sal kry by van Clicks se ander winkels.

Meer oor:  Musica  |  Stromingsdienste  |  Flieks  |  Tegnologie  |  Musiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.