Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Só wil Facebook Covid-19 in SA help keer

Suid-Afrika het reeds meer as 60 bevestigde gevalle van die gevreesde virussiekte Covid-19, met meer infeksies wat verwag word.

Facebook wil keer dat verkeerde inligting oor Covid-19 op die platform versprei. Foto: Unsplash

In reaksie het Facebook Maandag in oorleg met die departement van gesondheid verskeie stappe aangekondig om te help om die vinnige verspreiding van die virus hok te slaan.

Dié stappe sluit in:

1. Ondersteuning aan gesondheidsorganisasies en -agentskappe

Facebook werk nou saam met instellings wat die platform benut om die jongste, akkurate gesondheidsinligting oor die virus aan gebruikers oor te dra. Facebook bied ook gratis advertensiekrediete aan onder meer die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) en die plaaslike departement van gesondheid om opvoedkundige advertensies op die platform te plaas.

2. Onmiddellike verwysing na WGO se webwerf

Sodra ’n gebruiker ’n soektog op Facebook of Instagram uitvoer vir die sleutelwoord koronavirus, word hulle na die WGO se amptelike webwerf verwys. Dit sluit in soektogte op Instagram vir die hutswoorde #Coronavirus of #Covid19 of coronavirus op Facebook.

3. Kry inligting per WhatsApp

Die departement van gesondheid het ’n toegewyde WhatsApp-lyn geaktiveer om “akkurate inligting oor die koronavirus” oor te dra. Suid-Afrikaners kan sacoronavirus.co.za besoek of 0600 123 456 as nommer stoor om die inligting per WhatsApp te ontvang.

WhatsApp word deur Facebook besit.

4. Vermy paniek

Facebook het sy beleid rakende advertensies gewysig en verbied nou advertensies wat doelbewus paniek oor die virus saai en gebruikers aanraai om sekere produkte in groot maat te koop.

Die nuwe beleid verbied ook advertensies vir sogenaamde “geneesmiddels” vir Covid-19 of plasings wat fopnuus oor die virus versprei. Die advertering van gesigmaskers is ook tydelik opgeskort.

5. Maak seker van die feite

Facebook werk op eie bodem saam met nuusagentskappe soos AFP en Africa Check om plasings na te gaan vir feitlikheid. Plaaslike plasings word in Afrikaans, Zoeloe, Setswana, Noord-Sotho, Sotho, Ndebele en Engels nagegaan vir feitlike korrektheid. Plasings wat fopnuus versprei, sal verwyder word.

6. Geldinsameling

Facebook is deel van die wêreldwye poging om geld in te samel om die WGO en ander organisasies by te staan in die bekamping van Covid-19. Facebook sal enige skenkings van gebruikers aan die WHO se Covid-19-fonds tot $10 miljoen ewenaar.

7. Verwyder samesweringsteorieë

Facebook gaan ook saam met wêreldwye gesondheidsorganisasies werk om samesweringsteorieë oor die virussiekte van die platform te verwyder. Dit sluit in bewerings oor waar die virus vandaan kom, dat dit deel is van ’n biologiese oorlog, of dat mense bleikmiddel moet drink om daarvan ontslae te raak.

Die gebruik van sekere sleutel- en hutswoorde in dié verband word ook voortaan belet.

Volgens die WGO is daar wêreldwyd reeds byna 165 000 gevalle van mense wat met Covid-19 besmet is.

Meer as 6 400 mense is reeds daaraan dood.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.