Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Só word Naspers reeds deur Covid-19 geraak

Naspers sê dis nog te vroeg om ’n volledige indruk te kry van die finansiële invloed van Covid-19 op sy bedrywighede.

Naspers en Media24 se hoofkantoor in Kaapstad. Foto: Getty Images

Hy het reeds etlike miljarde rand bewillig om ondernemings in sy stal te ondersteun wat weens ’n staat van inperking nie tans in bedryf is nie of bedrywighede drasties moes afskaal.

Die situasie kan egter nog drasties verander namate gevalle van Covid-19 aanhou toeneem.

“Die omvang van die impak (van Covid-19) op bedrywighede gaan verskil na gelang van sektor en geografiese gebied, maar Naspers gaan aanhou om in sy ondernemings te belê om te help dat hulle in die toekoms herstel,” sê die maatskappy in ’n verklaring.

Naspers gee beleggers die versekering dat hy oor meer as genoeg likiditeit beskik om deur die “uitdagende tydperk” te beweeg.

Aan die einde van sy boekjaar in Maart het Naspers meer as $4 miljard in netto kontant gehad met toegang tot $2,5 miljard se krediet.

Skuldverpligtinge is ook uitgestel tot minstens 2025.

  

Hier word die invloed van Covid-19 reeds gesien

  

Hoewel Naspers nog nie in die geheel kan sê hoeveel die pandemie hom in verlore inkomste of bykomende uitgawes gaan kos nie, word van sy afdelings reeds negatief geraak.

Geklassifiseerde advertensies soos OLX sien klaar ’n drastiese afname in verkeer, wat die inkomste en winsgewendheid van dié segment op kort termyn negatief gaan raak, sê Naspers.

Die staat van inperking sal dalk ook sy afdeling vir elektroniese betalings en ander finansiële tegnologie uitermate raak.

Meer as die helfte van Naspers se bedrywighede op dié gebied is in Indië waar ’n totale staat van inperking reeds ’n paar weke duur.

Die volume van betalings daar het aanvanklik skerp gedaal, maar sal na verwagting verbeter namate al hoe meer mense aanlyn betalings (eerder as in fisieke winkels) begin uitvoer.

Kosafleweraars word ook in sommige markte negatief deur inperkings geraak, terwyl dit in ander floreer.

Swiggy, een van Indië se grootste kosafleweraars, mag tydens die staat van inperking nog kos aflewer, maar net in party provinsies, waar die maatskappy nie kan voorbly met bestellings nie.

In Brasilië het iFood R176 miljoen beskikbaar gestel om restaurante en kosafleweraars te ondersteun wat deur die pandemie geraak word. Kosaflewering in Brasilië gaan ook steeds voort.

In Suid-Afrika kan Mr D Food, deel van die Takealot-groep, voortgaan met aflewerings, maar in ’n beperkte kapasiteit en net noodsaaklike items mag afgelewer word.

Naspers se e-handelaars word ook negatief deur Covid-19 geraak. Takealot word beperk in wat hy mag verkoop tydens die staat van inperking in Suid-Afrika.

Die e-handelaar moes stappe doen om te keer dat kopers items tydens die staat van inperking aanskaf wat as nienoodsaaklik beskou word.

Dit is nog te vroeg om die verlies aan inkomste vir Takealot weens die inperking te bepaal.

eMAG, Naspers se e-handelaar in Roemenië, doen sake soos gewoonlik al geld ’n staat van inperking daar ook sedert 26 Maart.

Media24, ’n volfiliaal van Naspers, se bedrywighede gaan aan soos gewoonweg tydens die staat van inperking in Suid-Afrika.

Die media word as ’n noodsaaklike diens beskou en volgens Naspers gaan Media24 steeds van sy gedrukte koerante en tydskrifte publiseer so lank as wat dit prakties moontlik is.

Die koerante en tydskrifte word wel in ’n kleiner oplaag gedruk omdat dit weens die inperking nie so wyd versprei kan word nie.

  

Wat doen Naspers om te help?

  

  • Afgesien van die R176 miljoen wat iFood aan restaurante en afleweraars in Brasilië bied, het Naspers ook aangekondig hy skenk R500 miljoen aan die Solidariteitsfonds om die verspreiding van Covid-19 in Suid-Afrika te bekamp.
  • OLX het begin om dokters in verskillende gebiede te help om behuising naby hospitale te vind.
  • Werknemers by al sy verskillende ondernemings het ook veiligheidsmaatreëls verskerp om hulself en kliënte te beskerm. Dit sluit in die gebruik van gesigmaskers, handskoene en handreiniger.
  • Joernaliste wat vir Media24 werk, is ook van handskoene en handreiniger voorsien. Werknemers by sy drukkers en pakhuise se temperatuur word ook deurgaans gemonitor.

Naspers het Donderdag onveranderd teen R2 599,97 verhandel.

  • Netwerk24 is deel van Media24, ’n filiaal van Naspers.
Meer oor:  Prosus  |  Naspers  |  Covid-19  |  Tegnologie  |  Inperking  |  Staat Van Inperking  |  Internet  |  Koronavirus  |  E-Handel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.