Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Sonder selfoonsein? Dis sindikate se skuld
Sindikate teiken selfoontorings tydens beurtkrag en steel dit rot en kaal. Foto: Unsplash

As jou selfoonsein in die donkerte van beurtkrag verdwyn, moenie dadelik die fout voor jou diensverskaffer se deur lê nie.

Vodacom en MTN spook behoorlik om “georganiseerde sindikate” se lang vingers van die rugsteunbatterye te hou wat selfoontorings van elektrisiteit voorsien terwyl Eskom nie kan nie.

En die diensverskaffers is behoorlik keelvol en op die oorlogspad om die diewe aan die pen te laat ry.

Diefstal en vandalisme kos Vodacom tussen R120 miljoen en R130 miljoen per jaar, het ’n woordvoerder bevestig.

Selfoongebruikers word ook al meer daardeur geraak met sein wat vir lang ure oor groot gebiede verdwyn – en nie net wanneer beurtkrag ingestel word nie.

Vodacom en Telkom, wat van Vodacom-torings gebruik maak, se netwerk was verlede week onstabiel met intekenare landwyd wat gekla het hulle het geen selfoonsein nie, selfs al was die krag aan.

Telkom het die skuld op beurtkrag gepak, maar die probleem is eintlik veroorsaak deur ’n groot aantal van Vodacom se torings wat buite werking was omdat diewe dit rot en kaal gesteel het.

“Vandalisme van basisstasies het in die laaste jaar aansienlik toegeneem. Dit is grootliks die gevolg van georganiseerde sindikate wat nuwe maniere vind om hierdie soort misdaad te pleeg,” sê Vodacom.

Afgesien van die bedrag wat aan batterye vir nuwe selfoontorings bestee is, het MTN ongeveer R300 miljoen in 2018 aan batterye vir bestaande torings bestee.

Sodra die elektrisiteit in ’n gebied afgesny word, word die kragtoevoer na selfoontorings in die gebied ook gesny.

Die toerusting wat benodig word om rugsteunkrag aan dié torings tydens ’n kragonderbreking te bied, is peperduur, sê Jacqui O’Sullivan, hoof van korporatiewe sake van MTN.

“Afgesien van die bedrag wat aan batterye vir nuwe selfoontorings bestee is, het MTN ongeveer R300 miljoen in 2018 aan batterye vir bestaande torings bestee.”

Die diensverskaffer het ook 1 800 kragopwekkers aangekoop, nóg ’n item wat diewe alte graag wegdra.

Johannesburg, die Ekurhuleni-metro en Vereeniging is die stede wat die meeste geraak word.

Daar is gemiddeld 553 gevalle van vandalisme en/of diefstal by sy selfoontorings per maand, sê Vodacom.

Dié syfer is 35% hoër as ’n jaar gelede.

“Ons sien ook gevalle waar ’n stasie so beskadig is dat dit nie ekonomies sin maak om te herstel nie.”

Wat doen diensverskaffers hieraan?

Met die skerp toename in vandalisme en diefstal is diensverskaffers genoop om bykomende sekuriteit by selfoontorings aan te stel om toerusting te beskerm.

Dit bring natuurlik bykomende koste mee.

“Beurtkrag, wat op voorspelbare tye ’n gebied in donkerte hul, bied aan misdadigers beter geleentheid om te steel,” sê O’Sullivan.

Dié netwerk het intussen ’n “strydkamer” opgerig om sy stelsels al om die uur te monitor om so die diefstal van toerusting gouer te bespeur.

Vodacom sê hy werk ook ten nouste met wetstoepassers saam om die skuldiges vas te trek en te vervolg.

“Die duidelike boodskap wat ons aan misdadigers wil stuur, is dat as jy ons selfoontorings teiken, jy gevang en vervolg sal word.”


Meer oor:  Mtn  |  Vodacom  |  Diensverskaffers  |  Misdaad  |  Tegnologie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.