Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Spaar só data as jy van die huis af moet werk

Die staat van inperking is ons nuwe realiteit. Dit beteken miljoene Suid-Afrikaners moet vir die volgende paar weke van die huis af werk.

Dit benodig in die meeste gevalle ’n stabiele internetverbinding, en natuurlik ook groot hoeveelhede data.

Die nuwe werklikheid beteken data is waarskynlik net so in aanvraag soos blikkieskos en toiletpapier.

Kees Snijders, besturende direkteur van Flickswitch, gee raad oor hoe Suid-Afrikaners datakoste tydens die staat van inperking in toom kan hou.

Vesel is koning

As jy gelukkig genoeg is om ’n veselverbinding na jou huis te hê, is die res van die artikel waarskynlik nie van toepassing nie.

My enigste versoek is dat diegene met vesel die ander in ag neem met wie hulle kommunikeer.

Moenie groot hoeveelhede foto’s of video’s per WhatsApp aan iemand stuur wat dalk nie aan ’n vinnige veselnetwerk verbind is nie.

Die aflaai daarvan kan groot hoeveelhede data in beslag neem.

Laai eerder ’n video op ’n platform soos YouTube of Vimeo en deel die skakel daarheen met jou vriend.

Die meeste Suid-Afrikaners is nog afhanklik van ’n selfoondiensverskaffer om aan die internet te verbind.

Die tameletjie met mobiele data

Selfoondata in Suid-Afrika is duur. Daarom sal jy jou gewoontes moet aanpas as jy by die huis op selfoondata moet staatmaak om te werk.

Die kern van die saak is om te weet hoeveel data jy benodig. Om te veel of te min data te koop, kan jou duur te staan kom. As ’n reël is data goedkoper per megagreep hoe meer jy daarvan aanskaf.

As jy weet presies hoeveel data jy benodig, kan jy geld spaar deur groter databondels eerder as klomp kleiner (en duurder) bondels aan te skaf. Maar moet ook nie te veel data koop nie, want jou ongebruikte data kan verval.

Hoeveel data is genoeg?

Dit sal afhang van wat jy as normaal beskou en hoeveel toestelle van internet voorsien moet word.

Gaan die internet net nodig wees om take te verrig soos e-posse stuur? Of wil jy genoeg data hê sodat jou kinders met hul aanlyn onderrig kan voortgaan of video-oproepe na hul vriende maak?

Wil julle saans ’n paar episodes stroom op Netflix of Showmax?

In só geval is minstens 3 gigagreep data per dag nodig, maar dan moet jy ook ’n paar verstellings aanbring om te keer dat jy onnodig data vermors.

Spaar só data

Let op die verstellings op jou toestelle. Baie selfone het ingeboude verstellings wat keer dat dit te veel data oor ’n selfoonnetwerk gebruik.

Sodra jy die toestel egter aan ’n Wifi-netwerk verbind, geld die ingeboude beperkings nie meer nie.

Om van die huis af te moet werk kan groot hoeveelhede data benodig. Foto: Unsplash

As die hoof van die familie dus die data aanskaf en sy selfoon in ’n herleier omskep, kan die ander toestelle wat daaraan verbind, gou al die data tap tensy hulle ook die nodige verstellings aanbring.

Maak dus seker jy skakel die funksie af waarvolgens al jou apps outomaties bygewerk word op ’n Wifi-netwerk.

In apps soos WhatsApp kan jy ook aandui dat foto’s en video’s nie outomaties oor ’n Wifi-netwerk afgelaai moet word nie.

Skakel die funksie af waarvolgens jou toestel outomaties foto’s en video’s na jou wolkbediener stuur.

As jy van die huis af werk, gebruik eerder die web-weergawes van dienste soos Dropbox of Google Drive sodat die inligting aanlyn bly eerder as wat die program elke nou en dan die lêer wat op jou hardeskyf gestoor is, na die wolk moet oordra.

Sou jy programme op Showmax of Netflix wil stroom, maak seker jy stel ’n perk op hoeveel data die programme per uur kan benut.

Jy sal dalk gehalte van die beeld moet inboet, maar dit sal heelwat minder data in beslag neem.

Dieselfde geld apps waarmee jy gratis oproepe kan maak (afgesien van die data wat dit benodig).

Apps soos WhatsApp gebruik heelwat minder data vir ’n stem- as ’n video-oproep.

Stuur dalk ook eerder vir vriende en familie dieselfde stemboodskap waarin jy aandui hoe dit met julle gaan as om ’n afsonderlike oproep aan almal te maak.

Hierdie berig is bygewerk en het oorspronklik op Fin24 verskyn.

Meer oor:  Data  |  Diensverskaffers  |  Datapryse  |  Tegnologie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.