Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Spektrum: Ons wag al 14 lang jare, Cyril!
Selfoondata in Suid-Afrika kan goedkoper word as daar meer spektrum toegeken word. Foto: Unsplash

Veertien jaar.

Dis hoe lank Suid-Afrikaners al wag vir die toekenning van meer hoëfrekwensiespektrum – en rolspelers in die bedryf rol hul oë daaroor dat pres. Cyril Ramaphosa verlede week in sy staatsrede vir die soveelste keer belowe het iets gaan daaromtrent gedoen word.

“Hy moet net die foon optel en sê dit moet einde Julie klaar wees,” sê Busisiwe Radebe ekonoom van Nedbank.

Radebe sê dis tyd dat beloftes in werking gestel word as Suid-Afrika die soort ekonomiese groei wil sien wat sal werk skep en armoede en ongelykheid verlig.

“Dit is elke keer net dieselfde beloftes,” sê Arthur Goldstuck, tegnologiekenner en uitvoerende hoof van World Wide Worx.

“Eers was dit voor die einde van 2018, toe teen Februarie en toe net ná die verkiesing. Ons wag steeds.”

Goldstuck sê hy sal eers opgewonde raak as hy sien iets daadwerkliks gebeur.

“Ons is moeg vir drome; dis tyd om oor te gaan tot aksie.”

Ramaphosa se belofte oor spektrum was baie vaag. Hy het gesê die toekenning van meer spektrum is “noodsaaklik” om die prys van data te verlaag, wat eweneens nodig is om ekonomiese groei en werkgeleenthede te skep.

Die verwysing na spektrum in sy jongste staatsrede was bykans woordeliks dieselfde as in sy staatsrede in Februarie, waartydens hy ook gesê het die telekommunikasiesektor verteenwoordig “groot potensiaal vir die bevordering van ekonomiese groei”.

Dit is elke keer net dieselfde beloftes. Eers was dit voor die einde van 2018, toe teen Februarie en toe net ná die verkiesing. Ons wag steeds.
Arthur Goldstuck

Ramaphosa het al drie keer in ’n staatsrede, asook op ander geleenthede, na die toekenning van bykomende spektrum verwys.

Met meer spektrum kan diensverskaffers data meer doeltreffend deur die lug aan gebruikers bied, wat koste kan verlaag.

Ramaphosa het verlede week belowe dat ’n beleidsrigtingwyser oor die lisensiëring van nuwe spektrum “binne ’n maand” aan die Onafhanklike Kommunikasieowerheid van Suid-Afrika (Okosa) oorhandig gaan word.

Vanselfsprekend is kenners skepties, inaggenome dat Ramaphosa dié belofte reeds sedert Februarie 2018 maak en oudpres. Jacob Zuma ook al daarna verwys het.

Die Nasionale Ontwikkelingsprogram van 2012 wei breedvoerig daaroor uit.

Volgens Goldstuck is daar in die Zuma-era doelbewus met die toekenning van spektrum gesloer, want dis gesien as ’n manier om gunste uit te deel aan vriende.

Die departement van kommunikasie het ook oor die afgelope elf jaar elf verskillende ministers gehad, talle met bykans geen kennis van die bedryf nie.

“Dit blyk die regering kan nie ’n manier vind om ’n beleid met ekonomiese noodsaaklikheid te vereenselwig nie,” sê Goldstuck.

Pres. Cyril Ramaphosa lewer sy staatsrede in die Nasionale Vergadering. Foto: Jaco Marais

Wat selfoonmaatskappye sê

Daar is heelwat geld wat verdien kan word uit die toekenning van meer hoëfrekwensiespektrum, ’n skaars hulpbron wat vanselfsprekend hoog in aanvraag is.

Bestaande diensverskaffers reken meer beskikbare spektrum sal die koste van data afbring, terwyl ander rolspelers in die bedryf reken dit sal mededinging in die mobiele internetmark aanwakker.

Suid-Afrika het net vier groot diensverskaffers wat sterk meeding om die prys van data te verlaag en steeds groeiende winste te toon.

Hierdie balans word uiteraard bemoeilik deur die regering se gesloer om ’n duidelike beleidsrigtingwyser bekend te maak vir die lisensiëring van meer spektrum.

“Die toekenning van meer spektrum sal help om meer werk te skep, veral digitale poste wat 4G- en 5G-spektrum benodig,” sê Jacqui O’Sullivan, hoof van korporatiewe sake by MTN in Suid-Afrika.

Dié diensverskaffer verwelkom Ramaphosa se onlangse belofte dat die nodige rigtingwyser binne die volgende maand aan die departement van kommunikasie oorhandig gaan word, maar wys ook daarop dat Suid-Afrika reeds 14 jaar wag op die toekenning van meer spektrum.

Vodacom verwelkom ook die president se belofte, en sê dit is ’n “noodsaaklike stap” in die verlaging van die prys van data.

Dié diensverskaffer lê ook die probleem van huidige hoë datapryse voor die regering se deur en sê die gesloer met die toekenning van bykomende spektrum is die hoofoorsaak daarvan.

Só kan meer spektrum datapryse afbring

Die prys van selfoondienste, waaronder mobiele data, word regstreeks geraak deur die hoeveelheid beskikbare hoëfrekwensiespektrum.

Selfoonnetwerke moet duur betaal om beskikbare spektrum by die regering te “huur”. Hoe minder spektrum tot diensverskaffers se beskikking is, beteken hulle moet duurder betaal vir die bietjie wat wel aan hulle toegeken word.

Met minder spektrum beteken dit ook diensverskaffers moet meer infrastruktuur oprig om te verseker dat soveel Suid-Afrikaners moontlik aan hul netwerk kan verbind. Dit lei tot verdere insetkoste wat die prys vir die verbruiker opstoot.

As meer spektrum toegeken word, sal dit nuwe operateurs toegang gee tot die mark wat dalk op spesifieke geografiese gebiede kan fokus wat sal help om koste af te bring.

Stella Ndabeni-Abrahams, minister van kommunikasie, het op ’n aanbieding vroeër vanjaar oor die toekenning van lisensies vir nuwe spektrum gesê diensverskaffers sal eers breëbandinternet na arm landelike gebiede moet uitbrei in ruil vir meer spektrum.

Dit is ironies siende dat hierdie spektrum juis benodig word om data doeltreffend na hierdie gemeenskappe oor te dra.

’n Kommissie van ondersoek na datapryse in Suid-Afrika het in ’n voorlopige verslag bevind data is hier heelwat duurder as in die res van Afrika.

Arm gebruikers betaal prakties veel meer vir data as meer welvarende gebruikers omdat kleiner databondels duurder per megagreep is.

Diensverskaffers meen egter data in Suid-Afrika is soveel duurder omdat infrastruktuur hier verreweg die beste is op die vasteland en dit miljoene kos om dit op te rig en te onderhou.

Meer as 99% van Suid-Afrikaners het toegang tot ’n selfoonnetwerk terwyl dié syfer in ander Afrikalande veel laer is.

Meer oor:  Okosa  |  Mtn  |  Vodacom  |  Arthur Goldstuck  |  Cyril Rama­Phosa  |  Slimfoon  |  Spektrum  |  Datakoste  |  Tegnologie  |  Data  |  Internet
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.