Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Splinternuwe Samsung kos R37 000

Samsung het Woensdag drie nuwe slimfone, ’n nuwe stel oorfone, ’n nuwe tabletrekenaar én ’n nuwe slimhorlosie bekend gestel op ’n aanlyn geleentheid.

Samsung het Woensdag verskeie nuwe toestelle bekend gestel.

Twee nuwe slimfone in Samsung se gewilde Galaxy Note-reeks is aangekondig – en wees gewaarsku: dié fone, wat van 21 Augustus hier beskikbaar sal wees, is nie goedkoop nie.

Die Galaxy Note 20 (sonder 5G-toegang) sal jou R24 999 uit die sak jaag, oftewel minstens R899 per maand op kontrak. Die Note 20 met 5G-toegang kos R27 999 of sowat R999 per maand op kontrak.

Maar dit is die Note 20 Ultra wat werklik jou bankrekening gaan breek. Dié foon kos minstens R36 999 of ’n minimum van R1 399 per maand op kontrak.

Waarom is die fone so duur?

Die nuwe Samsung Galaxy Note 20 en Note 20 Ultra.

Oudergewoonte het Samsung Woensdag gespog sy nuwe slimfone is sy bestes tot nog toe en vandaar die peperduur prys.

Die Note 20 en Note 20 Ultra is albei toegerus met gevorderde tegnologie wat sowel hul kameras as die raakskerm betref.

Samsung spog egter vreeslik met die gevorderde S-pen wat saam met albei dié toestelle kom. Dié S-pen is reeds ’n kenmerkende eienskap van die Note-reeks.

Die Note 20 s’n is glo so na aan ’n ware pen as wat die maatskappy al ooit ontwerp het. Volgens Samsung voel dit kompleet of jy met ’n regte pen op ’n stuk papier krabbel as jy die S-pen gebruik om op die skerm van jou Note 20 te skryf of teken.

Die nuwe Tab S7-tabletrekenaar (en sy grootboet, die Tab S7+) word albei ook met die nuwe S-pen toegerus.

Kamerategnologie uit die boonste rak

Die Note 20 spog met ’n drieledige kamerastelsel wat uit ’n indrukwekkende hooflens van 64 MP en twee bykomende lense van 12 MP elk bestaan.

Die Note 20 Ultra se kamera is nog beter en kan boonop video in 8 K verfilm. Die hooflens van die Note 20 Ultra is ’n verstommende 108 MP.

Plaaslike media het nog nie die kans gehad om self die Note 20 Ultra se kamera te toets nie.

Die Note 20 word in twee weergawes uitgereik. Een met 5G-tegnologie en een daarsonder. Die Note 20 Ultra is ook toegerus met 5G.

Die Note 20 se skerm is 17,02 cm (6,7 duim) en die Note 20 Ultra s’n is 17,53 cm (6,9 duim). Dis toegerus met gesigsherkenningstegnologie, ’n vingerafdrukskandeerder en is ook waterdig.

Albei toestelle word in drie kleure uitgereik: grys, groen en brons.

Nuwe voubare foon ook

Afgesien van die Note 20-modelle het Samsung ook sy derde voubare toestel bekend gestel.

Die Galaxy Z Fold 2 lyk bykans dieselfde as sy voorganger, maar bied “verbeterde funksionaliteit,” sê Samsung.

Die voorste skerm is 15,75 cm (6,2 duim) en sodra jy dit oopvou (soos ’n boek) raak dit ’n yslike raakskerm van 19,30 cm (7,6 duim).

Samsung het nog nie gesê wat die Fold 2 plaaslik gaan kos of wanneer dit hier beskikbaar gaan wees nie.

Wat anders is aangekondig?

Die nuwe Galaxy Watch 3 en die Buds Live.

Samsung het Woensdag ook ’n nuwe stel oorfone, die Galaxy Buds Live, en ’n nuwe slimhorlosie bekend gestel.

Die Buds Live is koordloos en lyk op ’n haar soos twee boontjies wat netjies in die oorskulp pas. Hulle is met tegnologie toegerus wat agtergrondklank uitsluit en kan ook met Bluetooth aan ’n verskeidenheid toestelle verbind, insluitend ’n iPhone of skootrekenaar.

Die nuwe Galaxy Watch 3 is met die gewone funksionaliteit toegerus wat van ’n fiksheidstoestel te wagte is. ’n Nuttige nuwe funksie is ’n suurstofmeter wat die suurstofvlakke in jou bloed meet. Die toestel kan ook selfs jou bloeddruk bepaal.

Ons wag nog vir duidelikheid oor wat die Watch 3 en Buds Live gaan kos en wanneer dit in Suid-Afrika beskikbaar sal wees.

Meer oor:  Samsung  |  Slimfone  |  Slimhorlosies  |  Tegnologie  |  Selfone
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.