Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Spotify vs. Spotify Lite: Wat moet jy aflaai?
Spotify bedryf twee weergawes van sy app vir Android-toestelle. Apple-toestelle het net toegang tot die een weergawe. Foto: Unsplash

Die “ligter” weergawe van Spotify se app vir Android-fone is nou reeds langer as ’n jaar beskikbaar.

Dié app, wat volgens die maatskappy “van niks af opgebou is nie”, word afsonderlik van die stromingsdiens se normale app bedryf, maar met ’n paar sleutelverskille.

Eerstens is Spotify Lite ’n heelwat kleiner app as Spotify se gewone app.

Die Lite-app neem net sowat 10 MB se stoorplek in beslag teenoor 100 MB of meer wat die gewone app benodig.

Party funksies ontbreek wel by Spotify Lite juis omdat die app soveel kleiner is.

Dit sluit in die vermoë om na musiek te luister terwyl jy nie aan die internet verbind is nie.

Die gewone Spotify-app laat gebruikers toe om musiek op hul toestelle af te laai en later daarna te luister, selfs sonder ’n internetverbinding.

Dit is nie moontlik met Spotify Lite nie.

Kalle Persson, produkbestuurder van Spotify Lite, het in ’n eksklusiewe onderhoud met Netwerk24 gesê die app is gebou nadat Spotify terugvoering van gebruikers oor die wêreld heen ontvang het.

Die maatskappy het besef ’n “kleiner, vinniger en vereenvoudigde weergawe” van sy app is nodig om veral op ouer slimfone te kan werk.

spotify

Volgens Persson bied Spotify Lite “dieselfde wonderlike luisterervaring” as Spotify, maar by nadere ondersoek blyk dit Persson oordryf.

Die klankkwaliteit op Spotify Lite is laer as op Spotify, omdat dit “geoptimaliseer” word om minder data te verbruik.

Gebruikers van Spotify Lite kan kies om die gehalte van die klank nog verder te verlaag ten einde nog minder data te verbruik.

Daar kan ook perke gestel word binne die app oor hoeveel data jy bereid is om per maand aan stroming af te staan.

Gebruikers kan perke stel om niks meer as 250 MB, 500 MB, 750 MB, 1 GB, 2 GB of 3 GB se data per maand in die app te gebruik nie.

Hoe minder data jy wil gebruik, hoe laer is die gehalte van die klank.

Dit is ook verwarrend dat Spotify Lite gebruikers nie toelaat om musiek op hul toestelle te stoor om later sonder ’n aktiewe dataverbinding te luister nie.

Die uitgangspunt is juis om data te bespaar, maar nou word data benodig elke keer dat ’n liedjie gestroom word.

Met die gewone Spotify-app kan gebruikers hul gunstelingmusiek aflaai en later sonder enige internetverbinding weer daarna luister.

Spotify Lite is wel nie in alle gebiede beskikbaar waar Spotify reeds sake doen nie.

Die app is meestal net in lande met ’n laer gemiddelde inkomste beskikbaar waar die duur prys van mobiele data dalk ’n deurslaggewende faktor kan wees voordat ’n app soos Spotify gebruik word.

Die uitgangspunt is juis om data te bespaar, maar nou word data benodig elke keer dat ’n liedjie gestroom word.

Afgesien van Suid-Afrika is Spotify Lite ook beskikbaar in Brasilië, Mexiko, Argentinië, Egipte, Algerië, Jordanië, Indonesië, Thailand, Viëtnam en Indië.

Persson kon nie sê hoeveel mense in Suid-Afrika gebruik eerder Spotify Lite as die gewone Spotify-app nie.

Die maatskappy is wel “tevrede” met die belangstelling wat daar tot dusver is in die 37 lande waar Spotify Lite beskikbaar is.

Van die eienskappe wat dieselfde is tussen die twee apps, sluit in die vermoë om na verpersoonlikte speellyste te luister en om van die gratis weergawe van Spotify gebruik te maak.

Volgens Persson gebruik albei apps dieselfde onderliggende algoritme om nuwe musiek aan gebruikers voor te stel gegrond op ’n verskeidenheid faktore soos jou musieksmaak en watter musiek gewild is in jou omgewing.

Spotify Lite is vir eers net beskikbaar vir Android-toestelle met geen onmiddellike planne om ’n ligter weergawe van die app vir Apple-toestelle uit te reik nie. Die mikpunt is ook nie dat Spotify Lite die gewone Spotify-app op Android-toestelle gaan vervang nie, sê Persson.

“Dit is ontwerp om die gewone app te ondersteun en aan te vul. Albei apps sal saam bedryf word sodat gebruikers kan kies watter een pas hulle die beste.”

Spotify het volgens sy jongste beskikbare resultate 299 miljoen gebruikers wêreldwyd van wie 138 miljoen vir die diens betaal.

Meer oor:  Spotify  |  App  |  Musiekstromingsdienste  |  Tegnologie  |  Musiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.