Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Staat se ‘dophou’-app aktief – dis wat jy moet weet

Die app wat Suid-Afrikaners wat positief toets vir die koronavirus se bewegings volg, is nou aktief.

Die staat se Covid-19-app is nou aktief en monitor die bewegings van diegene wat positief toets vir die virussiekte mits hulle daartoe instem.Foto: Unsplash

Die departement van gesondheid se app Covid Alert SA is nou beskikbaar in die Google Play- en Apple-winkels.

Dit gebruik ingeboude tegnologie in die iOS- en Android-bedryfstelsel om gebruikers se blootstelling aan Covid-19 te monitor.

Deelname is vrywillig en nie Google, Apple of die departement van gesondheid sal jou bewegings monitor sonder jou toestemming nie.

Hoe werk die app?

Sodra jy die app aflaai en die nodige toestemming gee, begin Google en Apple om anonieme kodes tussen gebruikers van die app te stuur via Bluetooth.

Vir Bluetooth om behoorlik te funksioneer moet die mense 10 m of minder van mekaar af wees.

Fone stoor die anonieme data wat hulle vanaf die ander fone ontvang het.

Sou iemand positief toets vir die koronavirus en daartoe instem, sal die app ander gebruikers daaroor inlig as hulle in die laaste twee weke in kontak was met die siek persoon.

Omdat Bluetooth net oor kort afstande werk, beteken dit enigiemand wie se foon jou unieke nommer gestoor het, moes in nabye kontak met jou gewees het.

As jy dus positief toets, sal die persoon ’n kennisgewing kry dat julle in nabye kontak was.

Dieselfde geld as jy in nabye kontak was met iemand wat positief toets en jul fone die unieke kodes uitgeruil het.

Geen identifiseerbare inligting word tussen gebruikers gedeel nie.

Hoe weet die app ek is siek?

Jy kan self op die app aandui jy het positief getoets vir die koronavirussiekte.

Die departement van gesondheid kan dit ook namens jou, maar met jou toestemming doen.

Die departement bevestig elke positiewe geval van die virussiekte. Persone wat positief toets word van ’n unieke kode voorsien saam met hul diagnose.

Hierdie kode word op die app benodig om jou positiewe diagnose te bevestig.

Sodra jy op die app aandui jy het positief getoets, ontvang persone op wie se fone jou foon se unieke kode gestoor is, ’n kennisgewing dat julle onlangs in kontak was.

Die departement ontvang elke dag ’n lys van Apple en Google wat die lys unieke kodes bevat van diegene wat positief getoets het.

Die inligting is anoniem, maar dit kan die departement ook help om na te gaan met wie persone wat positief toets onlangs in kontak was.

Net persone wat in die laaste twee weke in kontak was met ’n positiewe geval word daaroor ingelig.

Is die app veilig om te gebruik?

Nie Apple of Google ontwerp die nasporingsapp nie hoewel dit van hul onderliggende tegnologie gebruik maak.

Die inligting wat gebruikers deel, insluitend die unieke kodes wat via Bluetooth versend word, word nie deur Google of Apple gestoor nie, het albei maatskappye gesê.

Net die departement van gesondheid het toegang tot dié inligting wat in ieder geval geen identifiseerbare besonderhede bevat nie.

Jou foon genereer ook elke sowat 20 minute ’n nuwe unieke kode wat dit des te meer onmoontlik maak om jou daardeur te identifiseer.

Wat moet ek doen as ek positief toets vir Covid-19?

As jy positief toets vir Covid-19, kan jy dit op die app gaan aandui sou jy wou.

Daar is geen wetlike verpligting om dit te doen nie.

Die departement van gesondheid sal jou positiewe diagnose bevestig en jou van ’n unieke pinkode voorsien.

Daardie pinkode is nodig om jou diagnose op die app te bevestig.

Daarna sal jy kan kies of jy jou positiewe diagnose met ander gebruikers wil deel wat in die laaste twee weke in nabye kontak was met jou.

Die inligting word anoniem gedeel.

Kan ek dit afskakel?

Jy het ook die keuse om die nasporingstegnologie wat die app benodig heeltemal af te skakel.

Vir Apple-fone gaan na Settings, Privacy, Health en dan Covid-19 Exposure Logging en maak seker dit is afgeskakel.

Vir Android-fone gaan na Settings en soek vir Covid-19 Exposure Notifications. Dit sal jou die opsie bied om dit af te skakel.

Nasporing

Meer oor:  Apple. Google  |  App  |  Covid-19  |  Tegnologie  |  Staat Van Inperking  |  Regering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.