Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Staat wil jou straf as jy video's laai sonder permit
Die staat beoog om onder andere die skeppers van YouTube-video’s te dwing om dit eers deur die Film-en-publikasieraad te laat klassifiseer. Foto: Unsplash

As die regering sy sin kry, sal enigiemand wat digitale inhoud vir platforms soos YouTube, Facebook, Twitter en TikTok skep, dit eers aan die Film-en-publikasieraad (FPB) vir klassifisering moet voorlê voordat dit gepubliseer mag word.

Die FPB is die regeringsliggaam wat onder meer flieks en televisiereekse, maar ook inhoud soos kunsuitstallings, klassifiseer en in sommige gevalle sensor.

Die voorgestelde nuwe regulasies wat alle digitale inhoud aan FPB-goedkeuring onderwerp, staan as die Wet op Internetsensuur bekend.

Stella Ndabeni-Abrahams, minister van kommunikasie en digitale tegnologie, het dit pas vir oorweging en openbare terugvoering voorgelê.

DA-lede in die portefeuljekomitee oor kommunikasie en digitale tegnologie het dadelik kapsie gemaak teen die wet wat hulle as ’n poging beskou om Suid-Afrikaners se reg op vryheid van spraak en uitdrukking in te perk.

Ndabeni-Abrahams het dit ontken en die versekering gegee dat die finale wet nie op mense se regte en vryhede inbreuk sal maak nie.

Lede van die publiek het tot 17 September om kommentaar en besware teen die voorgestelde wet in te dien.

Wat sê die voorgestelde wet presies?

Volgens Carla Collett, ’n vennoot by die regsfirma Webber Wentzel, is die voorgestelde wet ’n bywerking tot bestaande wetgewing rakende die klassifisering van inhoud soos vervat in die Wysigingswet op Films en Publikasies van 2019.

Dié wet is reeds goedgekeur, maar nog nie deur pres. Cyril Ramaphosa bekragtig nie.

As deel van die wysigings aan die wet word voorgestel dat alle digitale publiseerders (inhoudskeppers) voortaan hul werk aan die FPB vir klassifikasie moet voorlê.

Die FPB is dan by magte om te weier om die inhoud te klassifiseer, wat in effek sal beteken dat dit gesensor word en kragtens wet nie uitgereik mag word nie.

Skeppers van digitale inhoud sal dit aan die FPB moet voorlê met ondersteunende dokumente wat verklaar dat dit aan alle relevante wetgewing en regulasies voldoen.

Die skeppers het die opsie om self ’n klassifikasie vir die inhoud voor te stel, wat die FPB sal oorweeg.

’n Voorgeskrewe tarief word betaal waarna ’n permit uitgereik word. Die voorgestelde koste beloop R415 per permit en permitte moet jaarliks hernu word.

Net publikasies wat deel is van die Suid-Afrikaanse Persraad en adverteerders wat deel is van die Gesagsvereniging vir Reklamestandaarde word hiervan kwytgeskel.

Publiseerders wat versuim om die nodige permitte te bekom, kan met tot R750 000 of vyf jaar tronkstraf beboet word.

Publiseerders wat versuim om die nodige permitte te bekom, kan met tot R750 000 of vyf jaar tronkstraf beboet word.

Op wie is die voorgestelde wet gemik?

Volgens Collett word die wet voorgestel omdat die manier waarop Suid-Afrikaners inhoud geniet, totaal verander het.

Die meeste inhoud word nou digitaal op platforms soos YouTube, Netflix en Showmax versprei.

Die FPB is reeds ’n geruime tyd in ’n stryd gewikkel met Netflix wat versuim om sy inhoud vir klassifikasie voor te lê.

Die nuwe wetgewing wil ’n stokkie daarvoor steek en platforms soos Netflix dwing om inhoud te laat klassifiseer alvorens dit geredelik beskikbaar gestel kan word.

Enige verspreider van digitale inhoud soos video’s, flieks, televisiereekse en selfs videospeletjies sal voortaan ’n permit (en klassifikasie) daarvoor moet bekom.

Dié permit moet dan duidelik sigbaar wees op die digitale platform waarop die inhoud versprei word.

Verspreiders van digitale inhoud moet ook op ’n maandelikse grondslag ’n lys aan die FPB gee van alle inhoud wat dit as te huur of te koop aanbied.

Sou enige van dié inhoud nie oor die nodige permit beskik nie, of nie voldoen aan wetgewing nie, het die verspreider 30 dae om dit reg te stel of hy word moontlik beboet.

Volgens Phumzile van Damme, die DA se woordvoerder oor kommunikasie, is dit nie nodig vir die regering om soveel mag uit te oefen op watter inhoud Suid-Afrikaners aanlyn versprei nie.

Volgens Van Damme bied platforms soos YouTube reeds maniere om inhoud te klassifiseer en word onvanpaste inhoud outomaties van die platforms verwyder.

Martin van Staden, hoof van beleid by die Vryemarkstigting, stem saam en beskou die wet as ’n “aanval op die demokrasie self”.

“Die Grondwet is juis aanvaar om teen hierdie soort outoritêre optrede deur die regering te waak,” sê hy.

Deur die regering, en spesifiek die FPB, toe te laat om die finale sê te hê oor watter vorme van uitdrukking aanlyn toelaatbaar is, “hou ’n ernstige bedreiging in vir die grondwetlike reg op vryheid van uitdrukking in die algemeen, veral die vryheid van die media en ook die reg op privaatheid”.

Meer oor:  Fpb  |  Stella Ndabeni-Abrahams  |  Aanlyn  |  Tegnologie  |  Youtube  |  Sensuur
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.