Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Stadige internet: Herstelwerk aan kabel begin
Die ‘Léon Thévenin’.Foto: Vessel Finder

Tegnici aan boord van die Léon Thévenin het begin om skade aan die ondersese Wacs-internetkabel langs die kus van die Demokratiese Republiek die Kongo te herstel.

Dit het die skip bykans ’n week geneem om die plek te bereik waar die kabel op 16 Januarie gebreek het.

’n Stormsterk suidooster het gekeer dat die skip die Kaapse hawe vroeër kon verlaat.

Die Wacs-kabel, wat Suid-Afrika via Brittanje aan die internet verbind, het die vermoë om 14,5 teragrepe data per sekonde tussen die lande te stuur.

Die fout blyk sowat 200 seemyl van die kus af 3 750 m onder die seeoppervlak te wees. Dit is nog nie bekend wat dit veroorsaak het of wat die omvang daarvan is nie.

Suid-Afrikaners het sedertdien ’n aansienlik stadiger internetspoed ervaar, hoewel die meeste internetdiensteverskaffers intussen bykomende vermoë op ander ondersese kommunikasiekabels na Suid-Afrika aangeskaf het.

Tegnici van die Léon Thévenin gaan minstens 48 uur nodig hê om die Wacs-kabel te herstel, berig Business Insider.

’n Afsonderlike fout langs die kabel naby Brittanje word ook deur tegnici herstel.

Die kabel sal hopelik teen 8 Februarie weer werk.

Afgesien van die Wacs-kabel het die Sat-3/Wasc-kabel ook op 16 Januarie probleme begin gee.

Hierdie ondersese kabel se vermoë is heelwat kleiner as dié van Wacs – dit kan sowat 800 gigagrepe data per sekonde hanteer.

Dit verbind Portugal en Spanje met Suid-Afrika en gee probleme naby Libreville in Gaboen.

Die tegnici van die Léon Thévenin gaan dit ook herstel sodra werk aan die Wacs-kabel afgehandel is.

Weerstoestande speel ’n beduidende rol in hoe vinnig tegnici die kabels sal kan herstel.

Suid-Afrika word deur minstens ses belangrike ondersese kabels aan die internet verbind.

  • Seacom, aan die ooskus van die vasteland, verbind Mtunzini in KwaZulu-Natal met Marseille in Frankryk en bied ’n totale vermoë van 12 teragrepe per sekonde.
  • Die SACS-kabel tussen Brasilië en Angola het ’n vermoë van 40 teragrepe per sekonde.
  • Die EASSy-kabel tussen Mtunzini en Port Soedan se vermoë is 10 teragrepe per sekonde.
  • Die Ace-kabel tussen Frankryk en Yzerfontein bied ’n vermoë van 5 teragrepe per sekonde.

Met die SAT-3/Wasc- en Wacs-kabels buite werking, is Suid-Afrika ’n vermoë van meer as 15 teragrepe kwyt wat tot ’n beduidende verlaging in internetspoed lei.

Meer oor:  Internet  |  Diensverskaffers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.