Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Stella gee meer tyd vir kommentaar oor TV-lisensies

Die tyd om kommentaar te lewer op die konsep-witskrif wat daartoe kan lei dat mense ook ’n TV-lisensie vir stromingsdienste soos Netflix moet hê, is verleng van die aanvanklike agt weke wat daarvoor gegee sou word.

Stella Ndabeni-Abrahams, minister van kommunikasie en digitale tegnologie.

Netwerk24 het in Oktober berig oor die plan dat die SAUK lisensiegelde namens hom van kykers deur betaaltelevisiedienste soos DStv en Netflix moet verhaal.

LEES OOK: TV-lisensie jou voorland - al kyk jy nét Netflix

Stella Ndabeni-Abrahams, minister van kommunikasie en digitale tegnologie, sê die tydperk vir openbare kommentaar is tot 15 Februarie verleng om belangegroepe genoeg tyd te gee om die “ingewikkelde voorstelle” oor die beleidsraamwerk te oorweeg. Dit sou aanvanklik op 30 November verstryk het.

Ndabeni-Abrahams het in Desember in ’n antwoord op ’n vraag deur Michael Waters van die DA reageer. Die party wou weet hoe regverdig die departement dit dat persone wat mobiele toestelle het (soos selfone en tablette) die koste van ’n TV-lisensie moet dra en dat al dié inkomste na die SAUK gaan.

Ndabeni-Abrahams sê die kabinet het op 9 September die publikasie van die konsep-witskrif oor die raamwerk vir klank- en oudiovisuele inhoudsdienste goedgekeur.

Hier is die skakel na die konsep-witskrif in die Staatskoerant wat op 9 Oktober uitgereik is.

Sy beantwoord dié vraag deur te verwys na ’n paragraaf (4.2.2.3.) in die witskrif wat met sake rakende die SAUK en lisensies te doen het.

Die paragraaf val onder ’n afdeling van die witskrif wat met voorgestelde wysigings aan die Uitsaaiwet verband hou.

Daarin word verwys na die bepalings van die bestaande wet wat behou moet word, insluitende dié wat handel oor die finansiële sake en personeelvoorsiening van die SAUK. Luidens die witskrif is dié bepalings oor die SAUK se finansies en personeel steeds nodig, maar hulle “benodig ’n hersiening en gevolglike wysiging aan die televisielisensie-afdeling om die definisie en die invorderingstelsels vir TV-lisensies te verbreed asook om die meganismes vir wetsafdwinging en om boetes vir lisensies wat nie betaal word nie te versterk”

Ndabeni-Abrahams sê om bogenoemde te bereik sal afhang van die voorleggings wat van almal oor die konsep-witskrif ontvang word.

Zakhele Mbhele, DA-woordvoerder oor kommunikasie en digitale tegnologie, sê die party wil ’n behoorlike rede van Ndabeni-Abrahams hê oor die voorneme van die regering om mense met mobiele toestelle ook vir ’n TV-lisensie te laat betaal.

Hy meen sy gee nie werklik ’n antwoord op die vraag van Waters nie.

Mbhele sê in die konsepdokument word voorgestel dat nóg ’n inkomstestroom benut word om “nog ’n staatsonderneming te red wat deur jare se wanbestuur” op sy knieë is.

Volgens hom word ook voorgestel dat TV-lisensies uitgebrei word sodat betaal word vir die gebruik van stromingsdienste soos Netflix, ongeag of dit op ’n televisie of ander toestel gekyk word. Dit sluit dienste soos Showmax in.

Die DA het in Desember met ’n versoekskrif begin om dié voorstel te verwerp.

“Suid-Afrikaners moet die regverdiging daarvan behoorlik verstaan om kommentaar op die beleid te kan lewer. Suid-Afrikaners kan nie aanhou om die las van die wanbestuur by die SAUK te dra nie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.