Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Stuur gou geld na ’n selfoonnommer
Betalings tussen selfoonnommers is eersdaags ’n moontlikheid danksy MTN. Foto: Unsplash

Al ooit gewens jy kan ’n vriend, familielid, nutsman, huis- of tuinwerker met die klik van ’n paar nommers op jou selfoon betaal?

MTN het Woensdag aangekondig dié droom word eersdaags bewaarheid. Die diensverskaffer gaan in Januarie sy mobiele betaaldiens, MoMo, in werking stel.

MoMo staan vir mobile money.

Anders as twee persone wat geld heen en weer na die ander se bankrekening stuur, sal MoMo gebruikers toelaat om betalings na ’n selfoonnommer te stuur, soos ’n SMS.

Jy hoef boonop nie eens ’n bankrekening te hê om daarvan gebruik te maak nie.

“Die bekendstelling van hierdie mobiele gelddiens is ’n belangrike stap in MTN se strategie om mobiele tegnolgie en finansiële dienste saam te voeg,” sê Godfrey Motsa, uitvoerende hoof van MTN in Suid-Afrika.

Die diensverskaffer het reeds soortgelyke dienste in ander Afrika-lande.

Hoe werk MoMo?

MTN sê hy kan uiteindelik MoMo in werking stel nadat hy goedkeuring van die betrokke reguleerders en die Suid-Afrikaanse Reserwebank ontvang het.

Die diens sal aanvanklik net beskikbaar wees vir MTN se kliënte, maar die diensverskaffer hoop om dit eendag aan gebruikers op enige netwerk te bied.

  • Om MoMo te gebruik benodig jy nie ’n bankrekening nie, maar jy moet ’n Suid-Afrikaner van ouer as 18 wees met ’n geldige ID-nommer.
  • Met ’n MoMo-rekening sal jy dan geld kan stuur aan enigiemand met ’n werkende selfoonnommer in Suid-Afrika wat ook die diens gebruik.
  • Kontant kan by enige MTN-winkel of by MoMo-agente gelaai word.
  • Vooruitbetaalde dienste soos lugtyd of koopkrag kan ook met MoMo betaal word, sê MTN.

Die diens sal jou selfs toelaat om by sommige kasregisters te betaal, hoewel MTN die uitgewei het oor watter winkels by die projek betrek word nie.

Kortom word kontant by MTN-winkels of deur ’n agent gelaai op gebruikers se MoMo-rekening waarna dit gestuur kan word aan enigeen met ’n MoMo-rekening wat dit dan kan gebruik om of krag of lugtyd te koop of om betalings vir enigiets by sekere winkels te maak.

Die diens kan per app of met ’n spesifieke USSD-kode bereik word. Die app sal van 30 Januarie beskikbaar wees vir sowel Android- as Apple-fone.

MTN hoop om met MoMo Suid-Afrika ’n meer finansieel inklusiewe plek te maak wat toegang tot bankdienste betref.

Die diensverskaffer het reeds in Maart MTN Chat bekend gestel, ’n diens waarmee intekenare lugtyd kan koop deur ’n boodskap aan ’n spesifieke WhatsApp-nommer te stuur.

MTN het aangedui hy hoop MTN Chat word die “WeChat vir Afrika”.

WeChat, wat deur Tencent besit word, is uiters gewild in Asië en word nie net as kommunikasiemiddel nie, maar ook as betaalmiddel gebruik.

MTN Chat het in die maande sedert dit bekend gestel is, nie juis veel aftrek gekry nie.

Vodacom, MTN se grootste mededinger, het ook begin om die skuif te maak na finansiële dienste en bied reeds VodaPay, ’n diverse platform wat enigiemand – ongeag of hulle op die Vodacom-netwerk is of nie – toelaat om verskillende betalings te maak, insluitende munisipale rekeninge, TV-lisensies, of om lugtyd of elektrisiteit aan te skaf.

Meer oor:  Mtn  |  Betalings  |  Bankdienste  |  Slimfoon  |  Bankbedryf  |  App
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.