Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Suid-Afrikaners nie juis bewus van aanlyn gevare
Suid-Afrikaners moet nog leer hoe om die internet veilig te gebruik, meen KnowBe4. Foto: Unsplash

Suid-Afrikaners blyk nog baie oningelig te wees oor die gevare wat die kuberruim inhou, het ’n nuwe studie van die konsultasiefirma KnowBe4 bevind.

Die firma het meer as 800 mense in agt Afrika-lande oor hul aanlyn gewoontes uitgevra om te bepaal hoeveel van hulle van die gevare met internetgebruik bewus is.

Suid-Afrikaners het besonders vrot gevaar met byna 32% van respondente wat nie eens geweet het wat indringerware is nie.

Sowat 57% van die respondente het gesê hulle sal maklik hul persoonlike inligting aanlyn oorhandig “as hulle weet waarvoor dit gebruik gaan word”.

Dit is problematies, sê KnowBe4, aangesien kuberkrakers gereeld op internetgebruikers se vertroue staatmaak om hul persoonlike inligting te bekom.

Hierdie inligting kan dan gebruik word om wagwoorde uit te pluis wat misdadigers toegang tot nóg meer sensitiewe inligting kan gee, soos bankbesonderhede.

Booswigte doen hulself gereeld voor as “betroubare entiteite” soos banke en dies meer in e-posse of telefoongesprekke en paai mense so om hul inligting te oorhandig.

“Dit is ’n baie kommerwekkende tendens,” sê KnowBe4 in sy verslag.

Suid-Afrikaners het besonders vrot gevaar met byna 32% van respondente wat nie eens geweet het wat indringerware is nie.

Suid-Afrikaners weet eweneens nie wat tweeledige verifikasie is nie. 50% van respondente kon nie akkuraat aandui wat dit is nie. Sommige mense dink dit beteken jy gebruik twee afsonderlike wagwoorde om op jou profiel aan te meld, of dat jy jou wagwoord twee keer moet invoeg om toegang te verkry.

Tweeledige verifikasie is in der waarheid ’n noodsaaklike stap om jou rekeninge aanlyn te beveilig. Dit behels dat jy benewens jou wagwoord ’n bykomende kode moet invoeg wat gewoonlik direk na jou foon of per e-pos gestuur word voordat jy kan aanmeld.

WhatsApp-gebruikers loop veral deur. In Januarie het ’n slenter weer opgeduik waarmee bedrieërs hulself op WhatsApp as iemand voordoen en vriende vir geld vra – kwansuis omdat hulle in die moeilikheid is.

WhatsApp-gebruikers wie se rekeninge met tweeledige verifikasie beveilig is, kan nie deurloop onder sulke slenters nie. Dit beskerm jou WhatsApp-rekening met ’n bykomende PIN wat net jy ken.

E-pos bly wel ’n teelaarde vir bedrieglikhede, met die meeste gebruikers wat steeds gewillig is om op enige skakel in ’n e-pos te klik, selfs al is hulle nie seker wie dit gestuur het nie.

52% van Suid-Afrikaners wat aan KnowBe4 se studie deelgeneem het, sê hulle vertrou enige e-pos wat gestuur word van ’n persoon of onderneming wat hulle ken, ongeag wat die inhoud is.

“Meer opleiding is nodig om gebruikers bewus te maak van die gevare van e-pos.” Dit geld veral e-posboodskappe wat nagemaak is om soos die ware Jakob te lyk, maar wat inderwaarheid van ’n bedrieglike bron kom.

Meer oor:  Internet  |  Virus  |  Kuberaanval  |  Kuberkrakers  |  Tegnologie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.